Die kosbaarste geskenk
Die kosbaarste geskenk

Die kosbaarste geskenk

Jacqueline Louw
Jacqueline Louw - Net toe ons begin dink die vakansie gaan nooit aanbreek nie, is dit hier.

Kersfees is so ’n wonderlike tyd. Jy berei weke voor en dink meestal aan ander en die vreugde wat jy hoop om aan hulle te bring.

As daar 'n tyd in die jaar is wat jy liefdevol, goedhartig, bedagsaam en vrygewig teenoor ander behoort te wees, is dit sekerlik Kersfees. Elke jaar beloof ek myself dat ek vroegtydig sal begin om die perfekte geskenk vir elkeen in my familie en vriendekring te koop en elke jaar draai dit op ’n op-die-nippertjie gebeurtenis uit.

Ek is wel die meester van slegte beplanning, maar ook die meester van heroïese eindpogings en elke jaar wanneer die hope geskenke toegedraai is en ek selfvoldaan ’n glasie sjampanje drink, dink ek by myself: “’Jy het dit gedoen!’’

Ek gee graag oorspronklike geskenke omdat ek my hele lewe op interessante maniere bederf is. Behalwe vir juwele, kunswerke en parfuum het ek as plaaskind ook ’n klein hondjie, ’n wilde haas, hanslam en ’n eend om slakke in die tuin te eet, ontvang. Alles dinge wat my oneindige vreugde gebring het.

Dan is daar die geskenke wat heeltemal niks kos nie: Die son wat jou in sy warm kombers toedraai en die tyd om dit te geniet, ’n liedjie waarvan jy hou, voëls wat vlieg en wolke wat deur die lug seil, plante wat groei, verwelk en doodgaan, dierbare vriende en familie aan jou tafel, wonderlike kreature in jou tuin – ’n misterieuse ystervark wat kompos opeet en ’n gesinnetjie meerkatte wat oor jou stoep dartel – daar is soveel dinge, groot en klein, uitsonderlik en alledaags, wat elke dag ’n glimlag op jou gesig sit.

Maar die kosbaarste geskenk van alles is die lewe self. Wat ’n ongelooflike wonderwerk om ’n kans op die lewe gegun te word – uit al die miljoene opsies om mens te word het jy die resies gewen!

Wanneer jy die lewe as vanselfsprekend aanvaar en dit skielik weggeruk word, verander jou hele sienswyse egter.

Hierdie jaar moes ek sien hoe my liewe pa wegkwyn, wonderlike vriende se pragtige kind wreed vermoor word, ek het langs ’n beseerde man ná ’n fietsongeluk gesit en gesien hoe die lewe uit hom vloei, talle hofsake van gru-moorde bywoon waar onskuldige vroue en kinders hul lewe verloor het en verlede week dié van ’n man wat daarvan beskuldig word dat sy roekelose bestuur die dood van ses mense veroorsaak het.

Dus is my wens vir almal dat wanneer die Kersboom se naalde op die grond lê, die skitterende Nuwejaarspartytjies verby is en almal met ’n vars nuwe jaar met (ek hoop!) ’n paar goeie voornemens begin, al die belangrike mense in jul lewens veilig en gelukkig sal wees.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!