Die langpad se liefde en genade
Francoise Steynberg
Die langpad roep my keer op keer en daar is soveel mooi op die onontdekte agterpaaie.
"Gee my net die langpad, roep my nog 'n keer. Daar is genade en liefde en nog baie meer," sing wyle rocker Piet Botha.
Ek en Ellanie, my "sista in travelling pants" vir die 12 jaar wat ek terug by Republikein is, het verlede week vir die eerste keer in 'n baie lang tyd die langpad Noordweste toe aangepak.
Vroeër jare het ek en sy een week Noorde toe gery en nuus versamel. Dan is ons terug Windhoek toe om die Noorderlig te skryf. Die volgende week is ons Suide toe om weer nuus in te samel vir Suiderland se stories. Ons was elke tweede week op die langpad en ek mis daardie goeie ou dae.
Daar is inderdaad soos Piet sing, genade en liefde en nog baie meer op die langpad. Ons het dit verlede week weer so ervaar. Ons was Outjo toe vir wyle Gerhard van Wyk se begrafnis en daarna noord van Kamanjab waar die Namibian Lion Trust (NLT) mens-leeu-konflik takel.
Op die langpad gebeur dinge anders as wat jy beplan. Op Otjiwarongo by 'n vulstasie breek ons voertuig se (reeds gebreekte en gelapte) sleutel. Vriendelike personeel van die vulstasie en 'n beampte van die landbouministerie help ons. Die skroefie val en 'n soektog na die spreekwoordelike naald in die hooimied volg. Die vulstasie verskaf kleefband om die sleutel toe te draai en daar gaat ons Outjo toe in die reën.
Ds. Lukas Coetzer het 'n hartroerende begrafnispreek gelewer en by die hartverskeurende teraardebestelling van Gerhard het sy plaaswerkers van Kaross en Epacha Lodge se rou snikke my geruk.
Die hulpvaardige ontvangsdame by Etotombwe Lodge by Outjo help ons ná die begrafnis om plek maak vir ons skootrekenaars op die kroegtoonbank om daar te skryf terwyl sy vir ons koeldrank aandra.
By 'n vulstasie op Outjo loop ons vir Conrad Okamuru raak wat vir ons makalaniepitte kerf. Hy vertel hoe swaar dit gaan weens die gebrek aan buitelandse toeriste.
Ons vat die pad Kamanjab toe, weer eens in die reën en slaap die nag in 'n tent tussen die mopaniebome met die Melkweg wat sy pad in die hemel kronkel.
Die volgende oggend moet ons vroeg opstaan om op die agterpaaie saam met Tammy Hoth van Namibian Lion Trust te ry om met die gemeenskappe oor mens-leeu-konflik te gesels. Eerste ontmoet ons vir Mbatata Tjauire en sy ma, Petrina, in haar mooi Herero-rok en vet Brahmanbeeste. Daar lê 'n omgekeerde donkiekar waarop Volkswagen geverf is.
Ons gesels met Frederick Clay met sy rasta-lokke onder 'n gebreide mus by sy bokkraal met doringtakke. Hy is uitgehonger vir geselskap en vertel met die droogtehulp het hy verlede jaar net een sak mieliemeel en kookolie gekry.
Ons kry ook 'n vriendelike familie op 'n donkiekar en die man soek bouwerk. Trosse pienk Koakoland-rose blom in die koppies.
By 'n breë rivier bly 'n gemeenskap wat trots is op die groente en spanspek wat hulle in NLT se veekraal geplant het. Ek sal daar onder die groot skaduryke bome langs die rivier kan bly, ver weg van die stad se geraas.
Die vroue vertel hul kinders kon nie in die inperkingstyd aanlyn skoolgaan nie, want daar is nie selfoonopvangs nie. Nêrens in dié geweste is selfoonopvangs nie.
Ons sien die mooiste dubbelverdieping kleihuis in die Kamanjab-distrik met sonpanele en 'n TV-skottel. Ons gaan kuier by Hobatere Lodge waar die bestuurder, Susanne Hoaës, sê sonder leeus sal hulle nie toeriste lok nie.
Vrydagoggend vroeg toe ons in die reën terugry Windhoek toe, val die sleutel se skroefie finaal uit en ons durf nie stop nie. Ek moet tienuur in die hof wees vir die hofsaak tussen Hollard en Gondwana. Ek trek my bosklere traag uit en jaag hof toe.
Ek sit op die harde hofbank en wonder waarom mense en maatskappye mekaar hof toe sleep. Ek probeer sin maak van die lewe - die lewe in die stad waar alles oor mag en geld gaan en die lewe op die agterpaaie waar mense 'n stryd om oorlewing voer.
Gee my liewer die langpad, veral die agterpaaie met sy mooi mense.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie