Die legendariese oerdraak herleef
Pedro Vorster
Ljubljana, episode 2
Ljubljana se oergees leef in hul legendariese draak. In die mistige verlede het die Griekse held Jason met sy manne ’n draai in Ljubljana se moerasse gewaag. Iets was hier nie pluis nie. ’n Draak het daar nesgeskop. Volgens een mite maak die monster amok en maak ’n paar Grieke dood voor dit met ’n vol pens aan die slaap raak. Soetjies kom bind die held, Jason, sy bek toe en maak die dier wakker. Lekker bedonderd wil die monster vlamme blaas, maar die vuur slaan terug in die hewigste sooibrand van sy lewe. Die gedrog kook van binne gaar en bars in stukke oop.
Vandag is Ljubljana se vibe koel. Dit vibreer in die plesier van sy vrolike kinders wat spontaan vir straatmusikante dans. Dit is aanwesig in die parmantige stap van sy modieuse meisies en weergalm in die harde gesprekke van sy ou, bierdrinkende manne. Opmerklik is ook die groepe vroue wat saamkloek en -kuier. Sloweniërs vier hul bevryding van ’n tiran. In 1991 het hulle, met die goedkeuring van Duitsland en die pous, ’n 10 dae lange afstigtingsoorlog teen Joego-Slawië gevoer en gewen. Deur slim maneuvers is ongevalle tot 63 beperk – die totale getal vir albei kante.
Vir baie jare al brou hulle geurige bier, en Pivos Okusom smaak nogal soos Erdinger. Wynbou is ook al eeue oud, en veral die witwyne ontplooi besonder sag op die tong.
Behalwe om te brou, bou hulle ook.
Die argitek Joze Plecnik (1872-1957) is “Die man wat Ljubljana gebou het” sê sommige kenners.
Sy nalatenskap is veral sigbaar in die oop, sosiale, vierkantige ruimtes, wat oopbreek in plazas en groei tot pleine. Van sy grootste werke is die nasionale en universiteitsbiblioteke asook ruim parke.
Die Ljubjanicarivier vloei deur die middel van die ou stadsgedeelte en noodwendig moes daar brûe oor gebou word. Vier drake, twee op elke wal, beskerm die stad se bekendste brug, natuurlik “die drakebrug” gedoop.
Dit is in 1901 gebou en was ’n eksperiment in beton wat aanvanklik vir voertuie alleen bedoel was. Die rede vir die drake is onduidelik. Moontlik moes hulle as simboliese afskrikmiddel dien en rampe verjaag. ’n Draak is niemand se speelmaat nie. Volgens oorlewering is die draakbeelde sedetoetsers. Hulle sal stert waai as ’n maagd oor die brug stap. Het nog nie gebeur nie.
Die drielingbrug is eienaardig. Die grootste brug in die middel word aan sy sye aangevul deur twee kleineres. Plecnik se idee was om voetgangervloei te verbeter, en dit werk. Al drie verbind die ou middedorp met die Preseren-plein. Hier ontmoet almal wat leef en bibber mekaar.
Slowenië is die eerste Oosblokland wat lid van die Europese Unie geword het, en is die enigste waar jy lustig in die openbaar mag rook. Die verbod op rook, ’n EU-lidmaatskapvereiste, het skaars 24 uur gehou voor dit deur openbare ooreenstemming opgehef is.
Een van die intellektuele reuse van die land en ’n boorling van Ljubljana, daarom kry hy ’n openbare standbeeld, is die digter, priester en joernalis Valentin Vodnik. As oujongkêrel dig hy dat sy digliedere ter nagedagtenis aan hom gesing moet word.
Op die ope mark agter Plecnik se neo-Renaissance-boogvensters, waar daar onder sambrele gewoeker word, is ’n netjiese neutewinkeltjie en vriendelikheid. Die eienaar het billike bakke vol en vul vir ons twee bruinpapiersakke. Hy vind ons amusant. Namibië ken hy nie. Afrika? Ja. Suid-Afrika, o, wakka-wakka-wêreldbekersokker!
Só vind ons mekaar.
Oorkant die ou dorp en aan die noordoewer van die rivier is die boetiek- klerewinkels. Wat moet mens meer sê? ’n Vrou in vervoering en ’n man se verdedigingsmeganismes werk oortyd.
Aan die onderkant van die stad se weeldeskaal is min boemelaars, en bedelaars is nog skaarser. Tydens ons verblyf hoef ons nooit na een hartseer verhaal te luister nie, daarom is die gehawende ou vrou wat haar trollie doelgerig oor een van die drielingbrûe stoot opvallend en raar. Tandloos vra sy niks. Haar storie bly haar eie.
Ljubljana se sjarme lê nie in sy elegansie nie, eerder in sy intelligensie. Dit maak Ljubljaners bevoeg om oor ’n sluimerende draak te waak.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie