Die lewe is wel soos 'n koedoehoring
Margaret Jacobsohn se Life is like a kudu horn: A conservation memoir is onlangs op Swakopmund bekend gestel.
Francoise Steynberg - Margaret Jacobsohn se jongste boek, Life is like a kudu horn: A conservation memoir, is meesleurend en mooi geskryf.
Die boek bewys inderdaad dat Jacobsohn se lewe vol onverwagse draaie soos dié van 'n koedoehoring gemaak het, soos die spreekwoord van die Ovahimba saam met wie sy dekades in die Kaokoland gewoon en nagevors het. Nog een van haar talentvolle pennevrugte is Himba, Nomads of Namibia.
As Kaapstadse joernalis het sy in die tagtigerjare die blink stadsliggies vir eers 'n tent en later 'n hut sonder 'n deur in 'n afgeleë Ovahimba-nedersetting verruil - min wetende watter kinkels en kabels haar lewe gaan maak.
Ook min wetende dat sy en haar lewensmaat, Garth Owen-Smith, soveel avonture in meer as drie dekades op hul kronkelpaaie saam as pioniers van gemeenskapsbewaring gaan beleef. Een van die lesse wat hy vir haar geleer het, is dat hulp altyd op afgeleë paaie in landelike gebiede verleen moet word.
Jacobsohn en Owen-Smith het die Integrated Rural Development and Conservation (IRDNC) gestig wat gemeenskapsbewaring na 'n hoër vlak geneem het.
Daarvoor het hulle vele internasionale omgewingstoekennings verwerf. Jacobson en Owen-Smith het gesamentlik in 1993 die Amerikaanse Goldman-omgewingsprys vir hul wildbewaringspogings in Namibië verwerf. Owen-Smith het ook in 2015 die Prins William-prys vir bewaring in Afrika van die Tusk-trust ontvang.
Owen-Smith is ook die skrywer van An Arid Eden: A personal account of conservation in Kaokoland, wat in 2010 gepubliseer is.
ERNSTIG éN SNAAKS
Jacobsohn se bewaringsgedenksrif is nie net ernstig met die verskeie omgewingskwessies wat sy aanspreek nie, maar ook baie humoristies.
Die uitdagings soos mens-dier-konflik, renosterstropery, trofeejag, handel in ivoor, toeriste wat nie altyd die Ovahimba (veral vroue) met respek behandel nie, korrupsie, die groeiende gaping tussen ryk en arm, en plastiekbesoedeling van die oseane word intensief in die boek aangespreek.
Sy vertel in ernstige trant van die laagte- en hoogtepunte, die konflik en ongelukke, die triomf en deurbrake, en wat dit verg om denkwyses te verbreek terwyl hulle in afgesonderde, onbereikbare plekke werk "in 'n land wat sy geraamte aan die buitekant dra".
Die humoristiese staaltjies is skreeusnaaks, met 'n Van der Merwe, 'n leeu voor die tent, vele avonture saam met Owen-Smith en voertuie wat op verlate paaie pap wiele kry of deur kitsvloede verras word, wat slim en subtiel by dié staaltjies ingeweef is.
TOEKENNINGS
Een van die kosbare staaltjies is dat Jacobsohn en Owen-Smith in geleende klere vir spoggerige galadinees vir hul toekennings geklee is, want 'n aandpak en tabberd op Wêreldsend is oorbodig.
Owen-Smith meen die Namibiese media moet eerder oor hul omgewingswerk as oor sy velskoene in Kensington-paleis as mode-item skryf. Daarna het prins William wel as beskermheer van die Tusk-trust verlede jaar die Kunenestreek besoek.
Toe die paartjie met die Goldman-omgewingsprys in San Francisco bekroon is, het Owen-Smith buite op die sypaadjie met sy bier gaan staan om sy pyp te rook. 'n Hawelose man het vir hom gevra of daar kos en drank binne is. Baie, het Owen-Smith gesê, waarna die hawelose in is en gou weer die deur gewys is. Owen-Smith het toe vir hom sy naamkaartjie gegee waarna die hawelose uitgekom het met baie kos en biere in sy denimsakke.
"Al wat ek kon doen, was lag en hoop dat die man Afrika goed verteenwoordig het," skryf Jacobsohn.
Life is like a kudu horn moet deur elke Namibiër gelees word, nie net diegene in toerisme- en bewaringskringe nie. Dit is hoog tyd dat alle Namibiërs - veral Windhoekers in hul lugverkoelingskantore - meer oor gemeenskapsbewaring en die onbesonge legendariese pionierswerk van Jacobsohn en Owen-Smith weet.
Life is like a kudu horn is verlede Vrydag saam met My first book of Namibian birds van Peter Reiner by Die Muschel op Swakopmund bekend gestel.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie