Die lewe 'n grootse geskenk en voorreg

Oor die lewe loop sy nie meer lig nie, vertel Verena Schulte van Windhoek, 28 jaar nadat sy 'n hart­oorplanting in die Grootte Schuur-hospitaal in Kaapstad gehad het.
Henriette Lamprecht
Sy onthou juis die geel en die groen toe sy vir die eerste keer met haar nuwe hart uit die hospitaal stap.

“Niks was so skerp en so geel soos die son en die groen om my nie. Dit het die basiese kleure in my lewe geword en is ook ons bloemiste se kleure,” vertel die mooi, sagte vrou tussen emmers en ruikers in blom.

Sy loop nie meer “lig oor die lewe nie”, erken Verena Schulte. Sy het 'n diepte en empatie met mense, hetsy boemelaar of professor. Nou is dit “baie moeilik om stil te bly as mense met hulle lewens speel”, dit maak haar ontsettend ongelukkig.

“Die lewe is 'n geskenk en 'n voorreg,” beklemtoon sy.

Verena het in November 1989 'n nuwe hart onder leiding van dr. John Hewardson ontvang.

Die pad wat tot daar sou lei en haar hart van toe die eerste keer 'n knou sou gee, begin op die ouderdom van vier jaar toe sy rumatiekkoors kry wat toe as mangelontsteking gediagnoseer is.

Sy het as kind gou moeg geraak, onthou sy en haar ma sou sê haar mondjie sou blou raak. Tog is sy nooit opgepiep nie.

“My pa het geglo jy moet waar jy kan sportief wees. Ek was 'n fantastiese atleet, trampolien gespring en gimnastiek gedoen. My ouers het nie vir my remme gehad nie, ek is doodnormaal groot­gemaak,” vertel sy.

Ná skool wou sy aanvanklik haarkapper word, maar in 1967 beland sy in die blommebedryf waar sy jare later steeds kies om tussen Blumen Margot se ruikers en vars blomme te wees.

Dokters het gemaan sy mag nie swanger raak nie omdat dit te veel vir haar hart sou wees. Tog word sy en haar man geseën met “twee pragtige seuns”.

Ná haar swangerskappe het haar hart egter toenemend begin probleme gee en tydens toetse in die Tygerberg-hospitaal in Kaapstad kry sy 'n embolisme in haar long. Gereelde toetse in Pretoria volg. Sy gee gereeld erkenning en krediet aan “twee fantastiese dokters” wat sy in Windhoek gehad het en wel dr.'s Jamie Pretorius en Schalk Engelbrecht.

“Ons het 'n baie diep pad geloop, alle krediet aan Schalk,” erken sy.

Dit was 'n internis in Pretoria, dr. Ingrid Dannheimer wat die eerste keer sou noem Verena sou 'n hartoorplanting moes kry.

“Schalk moes dit aan my oordra, maar ek het geweier.”



sTIL OOMBLIK

Sy onthou 'n dag wat sy “baie, baie siek” in die Windhoek Sentrale Hospitaal opgeneem is. Drie mense sou haar daardie dag besoek. Eers het hul predikant oor 'n moontlike oorplanting gepols, toe haar man.

Haar antwoord was “dis te traumaties, ek sien nie kans nie”. Dr. Schalk het lank langs haar bed kom staan, vir haar gekyk en gevra “wil jy nie maar vir die oor­planting gaan nie?”

“Dit was 'n vreeslike stil oomblik in die kamer”.

Schalk het deur toe gestap, die handvatsel vasgehou, omgedraai en vir haar gekyk.

“Verena, asseblief, ek het nie meer raad nie.” As haar huisdokter nie meer raad het nie, is daar nie meer hoop nie het Verena gedink en uiteindelik ingestem.

Reëlings is met die hartspan in Suid-Afrika getref, “die een toets na die ander” is gedoen, terwyl sy ook onderhoude met drie sielkundiges moes doen.

“Alles moet perfek wees.”

In die hospitaal het 'n dokter by haar op die bed kom sit en gebieg hulle het altyd gewonder of sy werklik 'n nuwe hart nodig het. Totdat die laaste toetse die teendeel bewys het. Sy woorde was “jy moes 'n ­fantastiese huisdokter gehad het, hoe het hy jou aan die lewe gehou?”



IEMAND ANDERS

'n Pluspunt was haar longe wat “suiwer skoon” was en wat sy toeskryf aan die feit dat sy 17 jaar joga beoefen het.

Verena het saam met ander oorplantingspasiënte in Kerkhuis in Bellville gebly.

Vier keer sou sy “ingeroep word” vir toetse as 'n hart gereed was vir oorplanting. Enkele ure ná die uitslae van die toetse moes sy keer-op-keer hoor sy was nie 'n geskikte ontvanger nie, iemand anders sou dit kry.

“Die eerste keer was 'n geweldige skok en ek het die aand 'n ligte beroerte gehad, dinge was baie deurmekaar.”

Die maande sonder haar man en seuns het sy tol begin eis en Verena erken sy het begin moed verloor.

“Daardie vegtersdrang, my wil was gestroop. Ek was in 'n vreeslike stryd met die Here, half kwaad. Ek het gevoel ek bid, lees Bybel en glo, maar dit help nie. Dit was 'n baie eina aand.”

Die volgende dag is sy weer ingeroep en die koördineerder van die hartspan het besef Verena was op 'n baie slegte plek. Haar man is uit Windhoek laat kom om haar moed in te praat.

Sy onthou haar eerste ontmoeting met dr. John Hewardson wat die oorplanting sou doen.

“Hy het my op my naam genoem en gesê 'Verena, ek sal graag jou hart wil oorplant', hy is 'n diep gelowige en baie ­nederige man.”

Teen dié tyd was haar hartfunksie slegs 18% en oproepe is gemaak om dringend 'n skenker te kry vir 'n pasiënt wat dit “dringend nodig het en dit nie gaan maak nie”.

Ses ure later sou sy uiteindelik teater toe gestoot word om haar nuwe hart te kry. Sy het haar man gegroet en soos hulle haar na die teater toe gestoot het, het sy haar “lieflingpsalm”, psalm 23 in haar gedagtes opgesê.



OM ANDERS TE VOEL

“Ek onthou die vreeslike groot lig bo my en al die mense met groen pakke en maskers.”

'n Xhosa-teatersuster het haar hand geneem, oor haar gebuk en gevra “Verena, sal jy omgee as ons vir jou bid?”

“Almal het hul hoofde gebuig en hande gevat. Ek het net stilgeraak en besef met só 'n span sál die operasie 'n sukses wees.”

Sy het die volgende oggend 06:00 wakker geword, met dr. Hewardson en 'n suster wat langs haar bed staan. Sy was “baie, baie moeg”, maar onthou sy kon “wonderlik, héérlik asemhaal”, dit het “anders” gevoel.

Sy was aan 18 binneaarse drips gekoppel en in 'n waakeenheid afgesonder waar sy 18 dae sou deurbring.

Vir twee maande ná haar ontslag moes sy ook 'n masker dra, iets wat sy getrou gedoen het tot 'n dag wat sy en haar man na die Tygervallei-inkoopsentrum toe is.

'n Kaapse Kleurling het langs haar op 'n bankie in die sentrum kom sit.

“Mêrrim, het Mêrrim 'n teeth operation gehad, vanwaar die doekie om die mond?”

Sy het verduidelik sy het 'n hartoorplanting in die Grootte Schuur-­hospitaal gehad.

“Toe hy dit hoor, het hy opgestaan en geloop!”

Verena weet sy het die hart van 'n jong man tussen 20 en 30 jaar ontvang en daar was wél tye wat sy graag sy ouers sou wou ontmoet.

“As ek net kon dankie sê.”

Dit was dr. Hewardson se wens dat sy tot einde Februarie in die Kaap bly waar hy haar steeds kon monitor. Sy wou huis toe, hy wou nie die risiko neem nie. Hewardson het laat weet daar was 'n moontlike hart in Windhoek wat hy en sy span moes gaan haal. Sy kon saam met hom vlieg.

“Hy het langs my op die vliegtuig gesit en so mooi met my gepraat. 'Verena', het hy gesê 'jy moet een ding onthou. Never ever let me down.'”

Hewardson het erken hy het die laaste uur van die oorplantingsoperasie vir haar lewe geveg, omdat die hart nie wou klop nie.

Sy kyk nou “anders” na dinge, sê sy, sy voel “anders”.

Sy drink steeds chroniese medisyne maar wat van 28 pille voor die oorplanting na vier pille per dag gekrimp het.

“Jou niere bly jou grootste vyand” sê sy, omdat die geweldige medikasie dit dikwels 'n knou gee.

Sewe jaar gelede word sy met limf­kanker gediagnoseer en draai byna by die dood om. Die chroniese medikasie en die chemo “werk nie saam nie” en haar niere kry 'n geweldige knou. Ook tydens dié donker tyd is daar buiten haar geloof en gesin ook dokters soos dr. Anelle ­Zietsman en prof. Johan Brink wat haar toevou en dra.

Sedertdien maak twee opvolgbesoeke per jaar seker alles is nog klopdisselboom.

Met die viering van vyf dekades ná dr. Chris Barnard se eerste hartoorplantingsoperasie in Kaapstad, sien sy tydens 'n emosionele reünie weer van die ander oorplantingspasiënte met wie sy Kerkhuis gedeel het.

“Ons het mekaar 28 jaar laas gesien en was so 'n hegte span. Volgens personeel was daar nooit weer pasiënte wat so na aan mekaar was nie. Ons het baie gehuil, baie harte leeggemaak wat ander nie gesien het nie. Ons het ook maar maatjies verloor en dit bly maar eina.”

Maar die feit dat sy nou híér is, haar ­geliefde gesin, kleindogters en haar winkel vol blomme, maak haar groen en haar geel net soveel helderder.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!