Die meetsnoere val lieflik vir oom Aldo
Elvira Hattingh – Mense soos David Ndjavera en Jack Francis noem hom pa en daarom, meen hy, het hy ‘n ongelooflike groot familie. Ander praat van “Oom Aldo.” Boonop het Prof. Aldo Behrens onlangs oupagrootjie geword.
Hy gesels met Kollig die oggend voordat sy jongste musiekproduksie, A Whale in the Goreangab, by die Nasionale Teater van Namibië (NTN) op die planke kom.
“Ek is ‘n storieverteller. Ek hou daarvan om stories te vertel. Ek is mal oor gelykenisse, legendes. Gewone, eenvoudige storietjies – dis wat my inspireer. En dan musiek – Russiese musiek, kerkmusiek oor ‘chants’. Ek is amper 76 en ek is dankbaar dat ek nou nog kan besig wees met dit waarvoor ek lief is.”
A Whale in the Goreangab is deel van die Bank Windhoek Kunstefees se lente-aanbiedinge, wat ook die Pottebakkersvereniging van Namibië se sewende Nasionale Keramiek Biënnale en ‘n orrelkonsert en slypskole in Oktober deur die Orrelvereniging van Suider-Afrika insluit. Behrens se musiekproduksie is verlede week van Woensdag tot Saterdag by die NTN opgevoer en sal ook in Desember aan die kus as deel van die kunstefees se someraanbiedinge opgevoer word.
“’n Mens wonder altyd as jy met die proses besig is of jy die pyp gaan rook, want jy werk meestal met amateurs – nie wat hul talent betref nie, maar omdat hulle ander werk doen. Hulle is nie net afhanklik van die teaterinkomste nie. Hulle werk tot vyfuur, party begin eers vyfuur werk. Om ‘n tyd vir repetisies te kry wat almal pas, is moeilik.”
Daar was meer struikelblokke in die skep van die musiekproduksie. Jacus Krige het siek geraak en kon toe nie weer die musiekverwerking van vanjaar se Bank Windhoek Kunstefees doen nie.
“Hy doen dit reeds van 2010 af, maar vanjaar het ons van die Big K’s koor gebruik gemaak.”
Die koor bestaan uit die Kisting-familie. “Hulle sing rof, lekker, en dit is wat ons wil hê. Hulle is nie so ‘afgerig’ nie, hulle maak oop en sing.”
22 jaar by Unam
Behrens was vanaf 1982 hoof van die dramadepartement van die Universiteit van Namibië (Unam), waartydens hy reeds in die eerste jaar met Revue ’82 begin het.
“Ek is nie ‘n musiekmens nie, maar ek het dadelik ‘n koor bymekaargekry en sommer my lyf koorleier ook gehou. Ek het ‘n hekel aan mense wat praat en nie doen nie; ek glo ons is doeners, aktiviste.
“In die volgende jaar, toe is Hannes Horne (direkteur van die destydse Suidwes-Afrikaanse Raad vir die Uitvoerende Kunste, oftewel Swaruk) hier en hy het Raka gedoen. Ons het dit in ‘n droë rivierloop gedoen – daar waar die Concordia Kollege vandag is.
“Ons het die krale en hutte vir die toneelstuk in die rivierloop gebou en ‘n tipe pawiljoen opgerig. Daar was beligting en klank. Daar het tot 500 mense op ‘n aand na ons kom kyk,” sê Behrens.
Die universiteit se afdelings vir drama, visuele kuns en musiek het later saamgesmelt en nog later ‘n fakulteit geword waarvan Behrens die dekaan was. Ernst von Biljon was verantwoordelik vir die musiek en Francois de Necker vir visuele kuns. Hulle het toe die Buro vir Beeldende Kunste (Buk) gestig en Behrens was ook die voorsitter daarvan.
In 1990 is die wet van die Universiteit van Namibië geproklameer. Behrens het in 2004 afgetree as dekaan van die fakulteit vir lettere en wysbegeerte.
“Ek het deurentyd onderrig in drama, teaterkunde en spraakleer gegee en produksies, waaronder Sjordé, op die planke gebring.”
Koördineerder van kunstefees
Hoekom het hy ná sy aftrede weer begin werk – die keer as Bank Windhoek se kunstefees-koördineerder?
“Dankie tog ek het weer begin, ek sou doodgegaan het as ek nie het nie,” sê Behrens.
Dr. Willem Moore is by Unam aangestel om filosofie te doseer. Hy het voorgestel dat ‘n Sokratiese forum op die been gebring word. Toe het hulle Bank Windhoek genader vir borgskap, wat hulle ook gekry het. Net voordat hulle weg is, het Brandt vir Behrens gevra of hy nie met hul kunstefees sou wou help nie.
“ Toe ek aftree, toe dog ek, wat doen ‘n ou nou?
“Ek los toe bietjie vir Danie Strydom af, die dosent van uitvoerende kunste by Unam, wat Magister êrens in die Vrystaat gaan doen het. Later gaan staan Danie toe en doodgaan – hy drink nou by God tee en ek saam met julle.
“Toe het ek nog tot in 2006 klas gegee, maar reeds in 2005 die kunstefees gereël, wat oor ‘n naweek plaasgevind het. In 2006 het ek ‘n kunstefees gereël wat oor twee naweke gestrek het."
Kuns is nie tydverdryf
“Ek sê nog altyd: Die kunste is nie ‘n tydverdryf nie, ek haat dit as mense dink jy doen op ‘n Woensdagaand ‘n bietjie kuns en dan is jou kwota vol.
" Dis absoluut deel van menswees en as jy jou spiritualiteit afskeep, dan is jy nie ‘n volle mens nie,” sê Behrens.
Dit was ook gevolg van die lewensbeskouing wat hy en Toni Figueira in 2007 maandelikse feeste begin het en 15 medewerkers, of “smart partners”, geïdentifiseer het wat maandeliks geld ontvang het om die een of ander vorm van kuns, hetsy visueel, dans, musiek of teater, op die planke te bring. Dit het daartoe gelei dat soms tot 30 items per maand aangebied is en dit het byvoorbeeld die Krit ingesluit.
“Later, ná 2012, het die beweging seker maar sy raklewe bereik.
“My filosofie is egter dat kuns ‘n intrinsieke deel van menswees is. Dit is nie net iets wat jy op ‘n sekere tyd doen nie."
Behrens werk ook tans aan ‘n nuwe produksie, getiteld Pilatus.
“Hy is die enigste ou wat in die geloofsbelydenis en in die 12 artikels genoem word. Al die ander Joodse heiliges is nie genoem nie – net hierdie hardvogtige Romein wat Hom gekruisig het. Dit het my nog van altyd af interesseer - wat het van Pilatus geword, hierdie man wat sy hande gewas het?”
Dit is ook vir die kunstefees in Desember aan die kus bedoel en terselfdertyd sal Randall Wicomb se biografie (Kleur – My lewe, my lied, geskryf deur Amos van der Merwe) bekend gestel word.
“Ek werk al sedert 2010 saam met Randall – ek skryf die teks en hy die musiek.”
Behrens maak dikwels van Hans du Plessis se Griekwa-psalms gebruik of van Johnny Belcher se Kaapse poësie en hy haal aan: “My Meraai is troebel, sy dra ‘n ghoem. Die kerkmense skinder, hulle dink sy is verdoem. Toe breek die water en die kind kom agterna – en ek hoor vir God sê, ‘kom na Pa’.
“Is dit nie mooi nie?”
Aftreeplanne?
Beplan Behrens om ooit af te tree uit teater?
“Partykeer as ek in die oggende opstaan, sê my lyf vir my ek moet nou bietjie minder dinge doen. Maar ek glo nie ek sal aftree nie, nee wat.”
Behrens was onlangs in België by die Gentse fees, waar hy die eenmanstuk Siberië in Afrikaans opgevoer het.
“Die Vlaminge verstaan dit, hulle is mal daaroor. Ons het sedert 1989, toe ek die eerste keer in Gent was, al taamlike belangstelling opgebou. As ons daar is, dan kom hulle. Hulle hou van Afrikaans.”
Behrens het ook Oedipus in Colonus daar opgevoer, waar hy Oedipus in Afrikaans vertolk het en sy mede-aktrise al die ander karakters in Vlaams gespeel het.
Van 1990 speel hy ook gereeld in België as Sokrates in Die Plato-storie van die Verdediging van Sokrates.
“Toe dr. Willem Moore die Sokratiese forum gestig het, het ek by die eerste byeenkoms die toneelstuk opgevoer. Die Nederlandse Jo Decaluwe het regie gedoen. Sedertdien het ek die toneelstuk seker al 20 keer opgevoer.”
In 2011 het die Vlaamse provinsies Behrens genooi om oor die land te toer en Sokrates op te voer.
Hy het Siberië al plaaslik in Duits op Swakopmund opgevoer. Dit gaan oor ‘n ou man wat ouetehuis toe gaan nadat hy sy heup gebreek het. Hy sê egter selfs toe hy ‘n krygsgevangene in Siberië was, is hy nie so sleg behandel nie.
“Dis ‘n uitstekende stuk en Jo Decaluwe het vir my gevra hoekom vertaal ek dit nie in Afrikaans en voer dit op nie. Ek het dit toe gaan doen en vanjaar vir die vierde keer in Gent opgevoer.”
Behrens is ook berkermheer van die Unam-koor.
“Ons het destyds saam met die koor deur die hele Europa getoer. Ons het een keer in die Kölner Dom opgetree – die kerk se deure is groter as die Eros NG kerk. Ook in Braunschweig by Brot für die Welt-stigting in die buitelug en by Osnabrück in ‘n ou senaatsaal wat 800 jaar oud was,” vertel Behrens.
“Ek het dit nog nooit voorheen ervaar nie, maar tydens die laasgenoemde konsert wou die encore net nie ophou nie – dit is naderhand 30 minute. Hulle wil net hoor en hoor en hoor.
“Bonnie Pereko, die koorleier, het voor die koor om die gepakte stoele gestap waar die mense sit. Later stap die hele gehoor agterna – al in die rondte.
“Ek dink dit gaan vir hierdie mense oor die Afrika-ritme, die aardsheid, die spontaniteit en dan is ons seker maar almal boorlinge van Afrika. 'Africa, the cradle of civilasation.' Ons mense het ook ‘n natuurlike aanvoeling vir harmonie en het mooi stemme. As jy boonop ‘n goeie koorleier soos Bonnie of Theodore Cookson het, dan blom die koor,” sê Behrens.
Groot man, diep stem
Waar het die liefde vir die kunste vir Behrens ontstaan?
“Ek weet nie, miskien is ek op ‘n Vrydag gebore? Miskien in die nag?” lag Behrens.
“My pa was toentertyd ‘n professionele toneelspeler, maar toe trou hy nou met ‘n Van der Westhuizen-meisie. Hy was ‘n ‘Boere-Duitser’ (‘n Duitser wat in Suid-Afrika gebore is).
“Jy weet mos nou hoe die Doppers en die NG’ers en die Hervormers daardie jare was as jy toneel gespeel het – jy was verdoem. My pa het toe opgehou daarmee, maar ek dink dit het in my bly vassteek.”
Behrens se betrokkenheid by teater het tydens sy tersiêre studies begin.
“Ek sit in my vierde jaar in Pretoria in die Onderwyskollege. Ek spesialiseer in liggaamsonderrig. Toe stap daar ‘n meisietjie in en sê hulle soek twee groot manne en is na die L.O.-goep verwys.
“Hulle kies toe die twee grootste ouens – ek en Twakkies du Toit. Ons gaan toe na Theuns Botha wat vir die Interkollege Toneelfees ‘n groot man met ‘n diep stem gesoek het. Ek is toe sy man.
“Ons speel en wen wragtig die fees! Ek is spontaan en natuurlik. Vrymoedig, nie selfbewus nie – ek doen toe die ding. Die meisie wat toe as die beste aktrise aangewys is, word toe my vrou. En nou, ná 51 jaar sit ek nog met haar opgeskeep,” sê Behrens.
Klasgee op Potch
Behrens sê van daar het nie een jaar verbygegaan wat hy nie een of twee produksies gedoen het nie.
Hy het by ‘n hoërskool begin werk en dadelik aktiwiteite soos sangspele en operettes begin doen.
“Dit was vir my heerlik. Baie gou is daar van ons as die ‘toneelskool’ gepraat.
Behrens vertel op ‘n dag het Theuns Botha vir hom gesê Frans Marx bedank by die dramadepartement in Potchefstroom en gevra of hy in die pos belangstel.
“Ek sê, my jinne, ek het nie eens ‘n graad in drama nie – ek het ‘n doodgewone B.A. met tale en geskiedenis. Toe werk ek al vir 10 jaar by die skool en ons het al groot dinge gedoen – baie pryse gewen en getoer.
Behrens het toe by Potchefstroom begin klasgee, maar prof. Hennie Bingle, die destydse rektor, het hom ingeroep.
“Hulle het hom Ou Klipoog genoem – hy het sulke blou, starende oë gehad en nie moeilikheid van studente gevat nie. Hy het vir my gesê, jongman, ek hoor wat ek hoor van jou en ons kan jou hierso gebruik, maar jy moet nagraads kwalifiseer.”
Behrens het toe verder studeer en sy doktorsgraad verwerf. Dis ook hier waar Sjordé begin het. Hy en die musikale Paul Schutte besluit toe om saam te sing – enige iets van Laurika Rauch tot Heino se musiek.
“Dit het soos ‘n bom gewerk; ons het dit Sjordé's genoem. Dit was ‘n etensuurprogram.”
Die naam is gegrond op die klank wat enige drankie maak wanneer dit geskink word. Die “dé” staan vir “hierso, vat dit”.
Toe Behrens later in Namibië kom, het hy plaaslik ook daarmee begin en dit was ook baie gewild. Intussen het Behrens se belangstelling egter verskuif.
‘Speel’ sy intreerede
Aldo Behrens het sy professoraat gekry en moes op 7 November 1989 ‘n intreerede hou.
“Ek het die rol van die aap in Franz Kafka se A Report to an Academy gespeel.
“In die intreerede het ek die vertoning gedoen. Terence Zeeman was die regisseur. Ek het doodgewoon daar gestaan en daar was ‘n preekstoel gemaak wat soos ‘n uurglas gelyk het. Bo was die 'pedestal' en onder was die hok vir die aap.
“Ek het met my toga daar gestaan en begin praat en iemand het skielik gesê: ‘Prof, asseblief, hierdie is so vervelig. Jy verteenwoordig speel hier, nou ‘praat’ jy jou toespraak. Hoekom ‘speel’ jy dit nie? Toe ‘speel’ ek my toespraak. Ek het tot uit Moskou en Berlyn reaksies hieroor ontvang.”
Behrens sê alles wat hy gedoen het vandat hy afgetree het, reken hy as hoogtepunte.
“Die Kalahari Krismisse, die Passiespel, die Sokrates, die jaarlikse besoek aan Gent, die Oedipus. Een van my hoogste hoogtepunte was moontlik die samewerking met George Weideman in ‘n slypskool. Daaruit het die produksies Gyselaars, M29 en Smeerige Geskiedenis ontstaan.”
Behrens lig ook Orange uit, geskryf deur Dorian Haarhoff, asook Skeleton en Gorilla Goat Herd.
Lab Theatre-groep
Behrens was ook betrokke by die onlangse stigting van die Lab Theatre-groep saam met onder meer akteurs David Ndjavera en Keamogetsi Joseph Molapong (Mola).
“Dit is laboratoriumteater wat navors wat toneelspel is, ook karakterisering en hoe ‘n mens teks, beweging, beligting en kostuums ontleed. Verskeie Namibiërs het rou talent, maar dit moet nog gevorm word.”
Onder die vaandel van die Lab Theatre het verskeie produksies die lig gesien. Een hiervan is Under The Camelthorn Tree, gebaseer op ‘n skrywe van Piet van Rooyen. Dit gaan oor ‘n gees in ‘n kameeldoringboom wat gesien het hoe ‘n moord onder die boom gepleeg word.
“Ek het gedink dit kan ‘n fantastiese storie wees. Toe het ons ‘n hofsaak onder die boom opgevoer en Mola het ‘n Boeddhistiese monnik gespeel,” sê Behrens. R.A.C.E en Variations on a Blue Bench is ook deur die teatergroep op die planke gebring.
“Ek is so bewus van my seëninge, eerlik. Soos Kotie Rall sê, die meetsnoere val in mooi plekke vir ‘n ou. Ek is verskriklik lief vir mense.”
Wat mense betref, sê hy God het nie Duitsers en Boere gemaak nie. “God het net mense gemaak, kom die oom vertel julle dit. Lees maar vir Genesis.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie