Die mooi gesig van Hoop
Die mooi gesig van Hoop

Die mooi gesig van Hoop

Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – Ek het haar gesig gesien!

Ek is seker haar wange is van maanskyn gemaak, deursigtig en waasagtig. En haar hare is soos die fynste sydrade van silwer, los en vloeiend om haar stralende hoof.

Sy is bejaard, inderdaad nie vandag se kind nie.

Sy dans in die maanlig en in haar voetspore groei wit blomme. Al die sterre in die Melkweg skitter in haar oë en die lig daarvan verjaag die donker.

Inderdaad bring haar aanraking genesing – soos ‘n moeder – al is dit soms net ‘n roof op ‘n wond. Daar is ‘n titseltjie troos in die sysagte sakdoek wat sy jou aanbied. In haar aangesig droog mense wat hartseer is hul trane af!

Hulle mag dalk selfs weer begin dans.

Wanneer die monsters een van ons magtelose sterflinge omsingel, maak sy dikwels haar opwagting en steek haar hand uit. Sy bring ‘n goeie tyding oor môre en beweer dat die toekoms dalk nié heeltemal so troebel is as wat die doemprofete dit laat lyk nie.

Kyk op, sê sy. Op na die berge, sê sy.

Die probleem is nie almal kan of wil haar sien nie. Dit is ook nie maklik om haar te sien nie, sy is dikwels geheimsinnig en dalk selfs ontwykend. Dog nie doelbewus nie.

Dis moeilik om te verduidelik. Jy is geneig om blind vir haar te wees as jy jou oë vestig op die gort wat beslis in ons wêreld gaar is. Dalk is sy hier en daar te bespeur, maar dikwels té vlietend.

‘n Mens moet toegee, die wêreld se ‘gort’ het skielik in ‘n kokende, vuurspuwende brousel van boosheid ontaard – ‘n monster wat alles en almal verskeur. Natuurlik is dit moeilik om tans haar stem te hoor, selfs al is dit vir selfbehoud.

Nie vandag se kind nie, en kén sy nie al die dwalinge en donker stegies van die lewe nie!

Midde hierdie moet jy haar wil sien! Jy moet haar ook wil hoor! Luister net mooi, want sy sing saam met die voëls as die dag breek en haar stem klok in die helder gelag van kinders.

Sy staan egter nie alleen nie. Sy sou nie haar werk op haar eie kon verrig nie.

Sy het twee susters.

Die een hoef jy net ‘n mostertsaadjie van te hê wat jou in staat sal stel om berge te versit en die ander . . . Sy is die grootste van die drie. Sonder haar is niemand niks.

Die susters se name is Geloof en Liefde.

Háár naam is Hoop.

Uit die pruttende pot ‘gort’ spring Vrees, Haat, Wanhoop, Wantroue en Woede, maar sy en haar susters besit die vermoë om die monsters terug na hul donker hoeke te verjaag.

Sy is waarskynlik nie die belangrikste van die drie susters nie. Ek vermoed egter sy is die een wat haar voet eerste in die deur moet kry, voor die ander twee haar kan volg.

Sy is dalk wat baie van ons tans nodig het.

Sy is die mooi gesig van Hoop.

Kommentaar

Republikein 2025-04-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer