Die mure het angels
Die mure het angels

Die mure het angels

Tanja Bause
Tanja Bause - Die bekende Windhoekse byeboer, mnr. Roland zu Bentheim, is tans besig om twee swerms bye uit ’n woonstel te verwyder, wat studente van die Namibië Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust) huisves.

In twee van die woonstelvertrekke het ’n swerm bye hulself in die loop van sowat vier jaar tuisgemaak. Zu Bentheim moes die mure oopkap om die bye te bereik.

“Ek skat beide die swerms is sowat vier jaar oud en bestaan uit sowat 5 000 bye, wat baie klein is. ’n Swerm bestaan gewoonlik uit sowat 20 000 bye, maar weens die droogte lê die koningin nie nou eiers nie en teel hulle nie baie aan nie,” sê hy.

Volgens Zu Bentheim is daar ook bye op die tweede, derde en vierde verdiepings van die studentewoonstelblok.

“Daar is ook nog ‘n swerm op die 11de vloer aan die teenoorgestelde kant van waar ek nou die bye verwyder. Dié swerm is ook al etlike jare binne-in die muur. Die probleem is die mense moet hul woonstel ’n week lank ontruim omdat ek die mure moet oopkap, die bye uithaal en die gate weer moet toemaak. Dit neem tyd.”

Die bye dring die muur binne deur gate, wat weens verbrokkelde sement tussen die gebou se buite- en binnemure ontstaan het.

“Ek sal al die gate ook moet verseël om te verhoed dat die bye terugkeer.”

Buite het Byvreter-voëls van die geleentheid gebruik gemaak om die bye wat ontsnap, te vreet.

“Die voëls help ook nie. Hulle sal seker nog ’n duisend bye vreet en dit maak die swerm net kleiner,” sê die byeboer.

Zu Bentheim hervestig bye wat hy verwyder op ’n veilige plek buite Windhoek.

Windhoekers met bye wat pla, kan vir Zu Bentheim by 081 635 7323 kontak.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer