Die Neckartaldam se 'beker loop oor'

Terwyl La Niña nou volwassenheid bereik het, kan reënneerslae deur die vorming van siklone en tropiese depressies naby Madagaskar geraak word.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – Terwyl 'n weerkenner meen swaar reën is moontlik in die tweede deel van Februarie en Maart vir Namibië op pad, het Neckartal se groot oomblik gister omstreeks 10:50 aangebreek toe dit eindelik begin oorloop het.

Daar is sedert Maandag al asems opgehou dat dié nuut geboude dam vir die eerste keer sou oorloop.

Teen 10:00 gister het die dam 851,02 Mm³ water bevat en was dit 99,3% vol, terwyl nog sowat 248,85 m³ water die dam elke sekonde binnegestroom het, volgens NamWater se jongste damverslag.

Die dam het sedert Maandagoggend 06:00 tot gister 10:00 altesaam 54,150 Mm³ water ontvang. Terselfdertyd het die Oanobdam ook Maandag om 08:00 begin oorloop, sê NamWater.

Die Nautedam se sluise is gister opnuut omstreeks 11:00 getrek nadat dit 106% vol was, om sowat 500 m³ water per sekonde uit te laat. Die sluise sou tot omstreeks 23:00 oopgehou word sodat die dam se vlak terug na 98% gebring kon word.

Volgens die hidrologiese diens van Namibië se vloedverslag het die Neckartaldam se invloei van water afgeneem kort voordat dit begin oorloop het. Dit het teen Maandag 12:00 nog soveel as 1 124,5 m³ water per sekonde ontvang.

Me. Pauline Mufeti, hoof van hidrologie by die hidrologiese diens, het gister gewaarsku dat die Oranjerivier asook die Visrivier se vlakke na verwagting ook gaan styg as gevolg van swaar reën en die gevolglike uitlating van water deur damme op dié riviere.

REËNVOORUITSIGTE

Die langtermynvooruitsigte vir swaar reën in die tweede deel van Februarie, asook in Maart, lyk belowend vir Namibië, met 'n vloedmoontlikheid.

Só het die onafhanklike landbou-meteoroloog, mnr. Johan van den Berg, gister in sy jongste verslag oor reënverwagtinge gesê. Hy voeg by dat swaarder reën weer vanaf die laaste week van Januarie verwag kan word – maar dit sluit Namibië se suidelike en suidwestelike dele uit.

Na verwagting sal 'n kort droogtespel nog tot minstens môre voortduur, met uitsondering van die noordoostelike dele van die land, het hy gesê.

Dit volg nadat die ministerie van werke en vervoer se meteorologiese diens gister 'n aanvullende reënbulletin vir 1 tot 17 Januarie uitgereik het.

Hiervolgens is bogemiddelde reën ontvang oor die grootste dele van die Kharas-, Hardap-, Khomas, Omaheke, Otjozondjupa-, Kavango-Wes- en Kavango-Oosstreek. In die tydperk is ondergemiddelde reën egter ontvang oor die verre Weste, Erongo-, Kunene-, en die Omusatistreek, asook ander noordelike streke.

SIKLONE DIE VYAND

“Die geskiedenis toon La Niña-verskynsels word dikwels met bogemiddelde reën vanaf Desember tot April vereenselwig. Die 2020-'21 La Niña volg ook dié patroon,” sê Van den Berg.

“Die feit dat die deel van die Indiese Oseaan rondom Madagaskar oor die afgelope maand weer warmer geraak het, beteken egter dat die waarskynlikheid op die vorming van siklone en tropiese depressies in die gebied verhoog.

“Dit kan tot droër toestande oor die sentrale en westelike dele van Suider-Afrika lei en vloede in Mosambiek en omliggende gebiede veroorsaak,” het hy gesê.

Dit beteken ook die risiko op vloede is baie hoog in die komende maande.

Hy voeg by die verwagtinge van swaarder reën vanaf Februarie gaan wel daarvan afhanklik wees of siklone vorm of nie.

LA NIÑA VOLWASSE

Die huidige La Niña-verskynsel het intussen in Desember volwassenheid bereik en sal nie verder versterk nie, maar behoort tot minstens April of Mei vanjaar weerstoestande te oorheers, sê Van den Berg.

“Die Suidelike Ossillasie-indeks (SOI), wat 'n maatstaf is van die interaksie tussen seeoppervlaktemperature in die Niño-gebiede en oorhoofse weerstelsels, versterk egter tans nog tot meer intense La Niña-vlakke.”

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer