Die onderstebo wêreld waarin ons kinders leef

Meer as 13% van tieners wêreldwyd tussen die ouderdomme van 10 en 19 jaar leef met ’n geestesongesteldheid.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Hartseer, stres, angs, depressie – die dikwels onsigbare draad wat kinders oor oseane heen deesdae saambind.

“Hoekom het die wêreld so vinnig so baie verander?” of “Waar en hoe pas ek en my toekoms hierby in?” is van die vrae en emosies waarmee miljoene kinders oor vastelande heen worstel in ’n wêreld wat letterlik binne dae deur ’n pandemie op sy kop gekeer is.

In ’n verslag van Unicef wat fokus op die toestand waarin die wêreld se kinders tans verkeer, word beraam dat meer as 13% van tieners tussen die ouderdomme van 10 en 19 jaar leef met ’n geestesongesteldheid soos gedefinieer deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO). Dit verteenwoordig 86 miljoen tieners tussen 15 en 19 jaar oud en 80 miljoen tieners tussen 10 en 14.

Word die miljoene opgedeel in seuns en meisies, leef 89 miljoen tienerseuns (10 tot 19) en 77 miljoen tienermeisies (10-19 jaar) met ’n geestesongesteldheid. Die hoogste voorkoms is in die Midde-Ooste en Noord-Afrika, Noord-Amerika en westelike Europa.

Angs en depressie verteenwoordig sowat 40% van gediagnoseerde geestesongesteldhede onder tieners, gevolg deur afwykings soos aandagafleibaarheid of hiperaktiwiteit, eetsteurnisse, outisme, bipolêre afwyking, skisofrenie en ’n groep persoonlikheidsafwykings.

Kinders en jong mense vertel ook van psigo-maatskaplike nood wat nie tot die vlak van epidemiologiese afwyking styg nie, maar nogtans hul lewens, gesondheid en vooruitsigte vir die toekoms ontwrig.

Volgens navorsing wat Gallup vir Unicef se volgende verslag, Changing Childhood, uitgevoer het, het ’n gemiddeld van 19% van 15- tot 24-jariges in die eerste helfte van die jaar gesê hulle voel dikwels depressief en het min belangstelling om enigiets te doen.

Die koste-aspek is bitter hoog in terme van die tol wat dit finansieel van menselewens, families en gemeenskappe eis. ’n Verwoestende 45 800 tieners sterf jaarliks as gevolg van selfdood; meer as een persoon elke 11 minute. Selfdood is ook die vyfde grootste oorsaak van sterfte onder tienerseuns en -meisies 10 tot 19 jaar. Vir tieners 15 tot 19 jaar is dit die mees algemene oorsaak van sterfte ná beserings in ’n padongeluk, tuberkuloses en interpersoonlike geweld.

Vir meisies in dié ouderdomsgroep is selfdood die derde mees algemene oorsaak van sterfte en vierde vir seuns in dié groep.

In dollar en sente gesien, wys nuwe ontleding vir die Unicef-verslag dat die jaarlikse verlies in menslike kapitaal wat uit geestesongesteldhede in kinders 0 tot 19 jaar spruit, op US$387,2 miljard gestel word. Hiervan weerspieël US$340,2 miljard geestesongesteldhede wat angs en depressie insluit en US$47 miljard verlies weens selfdood.

Ten spyte van die skokstatistieke en ’n wydverspreide aandrang vir optrede wat kinders se geestesgesondheid bevorder, beskerm en versorg, word belegging hierin verwaarloos. Die gemiddelde wêreldwye uitgawe op geestesgesondheid is ’n skrale 2,1% van die gemiddelde regering se uitgawe op gesondheid in die algemeen. In sommige van die wêreld se armste lande bestee regerings minder as US$1 per persoon om geestestoestande te behandel.

Die aantal psigiaters wat spesialiseer in die behandeling van kinders en tieners is minder as 0.1 per 100 000 in alle lande buiten dié wat as hoë-inkomstelande geklassifiseer word waar die syfer 5,5 per 100 000 is.

Volgens die Unicef-verslag beteken die gebrek aan belegging dat werksmagte – ingesluit gemeenskapsgebaseerde werkers – nie toegerus is om geestesongestelde oor verskeie sektore heen waaronder primêre gesondheidsorg, onderwys, maatskaplike beskerming en elders te hanteer nie.

Die verslag beklemtoon geestesgesondheid word grootliks gestigmatiseer en misverstaan; tog is dit ’n positiewe toestand van welstand en ’n fondasie wat kinders en jong mense toelaat en in staat stel om aan hul toekoms te bou. Stigma, hetsy opsetlik of nie, weerhou kinders en jong mense daarvan om hulp te soek en beperk hul geleenthede om te groei, te leer en te floreer.

DIE GRONDSLAG

Net soos fisieke gesondheid, moet geestesgesondheid gesien word as ’n positiewe omdat dit “die grondslag is van die menslike vermoë om te dink, te voel, te leer, te werk, sinvolle verhoudings te bou en by te dra tot gemeenskappe en die wêreld”.

Die verslag maan geestesgesondheid bestaan op ’n kontinuum wat tydperke van welstand en tydperke van nood kan insluit, met die meeste wat nooit in ’n diagnoseerbare afwyking ontwikkel nie.

Kritieke oomblikke van ’n kind se ontwikkeling en faktore gebaseer op ervaring en omgewing, kan egter ’n risiko vir geestesgesondheid inhou of dan help om dit te beskerm. Juis daarom is dit so belangrik dat beleidsrigtings vir geestesgesondheid se benadering ten doel moet hê om die risiko te verminder en die beskermende faktore te vermeerder.

Dié risiko- en beskermende faktore kan in drie sfere oftewel wêrelde van invloed verdeel word: die kind se huislike omgewing; veiligheid en sekuriteit en gesonde verhoudings in kleuterskole, skole en gemeenskappe en dan die wêreld in die algemeen met grootskaalse maatskaplike bepalers soos armoede, rampe, konflik en diskriminasie.

“Geestesgesondheid is verbind met kritieke oomblikke van breinontwikkeling, met faktore soos toksiese stres weens ongunstige kinderervarings (ACE’s), fisieke en emosionele mishandeling, chroniese verwaarlosing en geweld wat as snellers kan dien.”

Navorsing wys dat blootstelling aan minstens vier ACE’s sterk geassosieer word met geestesongesteldheid, alkoholmisbruik en seksuele losbandigheid, problematiese dwelmgebruik en interpersoonlike en selfgerigte geweld.

Die verslag maan ouerskap is “kritiek” om sterk fondasies vir kinders se geestesgesondheid te lê.

Vir vele versorgers vereis dié kritieke rol egter die steun van ouerskapprogramme wat inligting, riglyne en finansiële en psigo-maatskaplike ondersteuning insluit.

Selfs voor bevrugting en in vroeë kinderontwikkeling sluit risikofaktore vir die kind se geestesgesondheid lae gewig by geboorte, wanvoeding, die geestesgesondheid van die ma en tienerouerskap in.

Wêreldwyd word 15% van kinders met ’n lae gewig gebore, terwyl 15% van meisies reeds voor 18 ’n ma is. In die wêreld se minste ontwikkelde lande ervaar 83% van kinders gewelddadige dissipline van versorgers en 22% hiervan is in die vorm van kinderarbeid.

Ten spyte van die verbande tussen vroeë geleenthede vir leer en kinderontwikkeling woon sowat 81% van kinders in die lande wat die minste ontwikkel is, vroeë kinderonderrig by.

Onder ouer kinders word afwesigheid van skool of voortydige skoolverlating verbind met sosiale isolasie, wat op sy beurt kan lei tot geestesafwykings soos selfskending, selfmoordgedagtes, depressie, angs en middelemisbruik.

Tydens tienerjare is versorging en ondersteunende ouerskap een van die grootste beskermers van geestesgesondheid, beklemtoon die verslag.

Skole en onderriginstellings kan geleenthede bied om geestesgesondheid te ondersteun, maar kan kinders eweneens blootstel aan risiko’s soos buitensporige eksamendruk, boelies, rassisme, diskriminasie en groepsdruk.

– Bron: The State of the World’s Children – On My Mind: Promoting, protecting and caring for children’s mental health

FOTO’s ter illustrasie, TANJA BAUSE

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!