Die onthou van 'n koue geelperske-Kersfees
Met “Jingle Bells” en “Little Drummer Boy” wat reeds van vroeg af in winkelsentrums blêr, is dit moeilik om van die kommersiële histerie van Kersfees te ontsnap. Buiten die immer teenwoordige note van elkeen wat al ooit ’n Kersalbum vrygestel het wat jou tot in die sentrumtoilet en selfs die parkeerterrein agtervolg, is daar die versierings. Teen liggies het ek geen kritiek of verweer nie. Siende dat Otavi se straatligte laat in my grootwordjare op die dorp hul verskyning gemaak het en ek ’n selfs robotlose dorp vir die stad verruil het, is daar immer ’n behoefte aan al die liggies wat ek kleintyd misgeloop het. Hoe blinker en hoe bonter, hoe beter.
Met dié wat aansit by die familie-Kerstafel nie meer as drie stoele op die ondermaanse is nie, en die Hemelse Kerstafel waarvan die stoele vol is, kom maak die Kersfees-knop-in-die-keel ook teen November haar verskyning. En begin die onthou’s in my binneste roer van vervloeë Kersfeeste toe die stoele meer as drie was.
’n Hoëveld-Kersfees, met ’n storm van blitse en reëndruppels wat jou binne sekondes papnat het en weerlig wat sommer hier neffens jou kamervenster in die klipkoppies slaan. Otavi-kinders wat in ma en pa se bed teen die donder- en bliksemklanke skuil. Almal in een bed, almal eintlik so vreeslik baie bly oor die reën wat val en druis, want in Otavi juig jy as die hemele haar hart vir jou oopmaak.
Oom Hennie, wie se perskebome in afwagting op die familie van ver se koms elke dag met gewyde presisie net genoeg water kry, hier en daar ’n takkie of ’n blaar gesnoei word om bakke vol geelronde perskes sonder ’n tandmerk of twee van ’n gogga te verseker.
Al met die eerste aand se slaap in die ou, houtvloerhuis met die gewels, die pienkblou Krismisrose wat dit omsoom en die Brixton-toring in die verte, begin die geelperskeritueel. Vroeg soggens gaan soek jy self tussen die takke na dié perske wat oom Hennie met sy tuin- en karhande gewyd afspoel en met dieselfde gewyde presisie ná ete saans in skywe in jou poedingbak sny. Voor dit word elke soetsonperske eers in die dikboom emaljebak in die yskas koelgemaak.
Die roltrap in die Cresta-inkoopsentrum wat die Otavi-kinders met angs, maar ook eindelose verwondering vervul. Samoesas by die Oosterse Plaza. Ysskaats in die Carlton-sentrum. ’n Kerskonsert op Oukersaand met elke kleinkind wat ’n beurt kry om te vertel van die herders en Josef en Maria en die babaseuntjie in die stal. Vir atmosfeer die wit kerse wat geplant word in ’n gaatjie in ’n wit papierbord en ’n doilie wat die warm kerswas se drup van jou hande af wegkeer.
Kersfees in ’n blou-en-rooi tent, vasgeknyp teen ’n babablou Sprite-karavaan net duskant Myl 4 se branders. Stranddienste wat jou van vroegoggend tot laat saans besig hou met van sandkastele bou tot toutrek en getuienisse van hoe jy jou hart vir die Here gegee het.
’n Emmer vol Riviera Foods-koekies en -springmielies wat óf kaassout óf karamelsoet is. ’n Kerssangdiens op die strand met bont opvoustoele en –sambrele en die branders se breek wat “Stille Nag” en “Kom Alle Getroues” se refreine terugtrek die see in. Vrugtekoek in oormaat gedoop met Ouma Vlam se halfjack brandewyn wat sy bêre vir okkasies soos dié. Die galjoene wat vroeër die dag nog in die koue Benguela geswem het en vanaand oopgevlek op die rooster en met net sout en peper op sy blaaie op die vuur sis. Net so blertsie-blertsie dikskil-suurlemoensappies uit Otavi se boord op sy lendene.
Tog is dieselfde gevoel van behoort en saam- en gebind wees te vind in ’n driestoel-Kersfees.
Van ’n Kerssangdiens in die Queen se Engels in die Canterbury-katedraal tot ’n snikhete somerson-Kersdag langs Okaukeujo se watergat.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie