• Tuisblad
  • Menings
  • Die Oranje Man kort rus, ’n nuwe haarstyl en hamburgers
Die Oranje Man kort rus, u2019n nuwe haarstyl en hamburgers
Die Oranje Man kort rus, u2019n nuwe haarstyl en hamburgers

Die Oranje Man kort rus, ’n nuwe haarstyl en hamburgers

Francoise Steynberg
Vandag, 3 November, is stemdag vir die Amerikaners vir ’n nuwe president.

Eintlik bring die Amerikaners reeds geruime tyd per pos hul stemme uit weens die Covid-19-pandemie. Teen afgelope Sondag het 90 miljoen kiesers reeds gestem.

Dit is tot dusver reeds die grootste deelname in ’n Amerikaanse presidentsverkiesing in meer as 100 jaar. Slegs 47 miljoen Amerikaners het hul kruisies in 2016 getrek.

Ek het onlangs ’n Amerikaner in Namibië gevra of hy reeds sy posstem uitgebring het.

“Natuurlik. Ek het vir Biden gestem. Ek sal nie nog ’n termyn met Donald Trump kan verduur nie!” het hy driftig gesê.

Die politieke voorspellers en Demokraat Hillary Clinton het in 2016 lelik bloedneus gekry toe die kieskollege die Oranje Man, Donald Trump, as president aangewys het – al het Hillary landswyd die meeste stemme gekry. Vanjaar is die voorspellers versigtig om nie weer hul naam met ’n plank te slaan nie.

My vraag aan die Demokrate is waarom hulle in 2016 vir Hillary as presidentskandidaat verkies het? Is daar enige iemand wat van die kille Hillary hou? Haar man oudpresident Bill Clinton het nie twee keer gedink om die kat in die donker met Monica Lewinsky te knyp nie.

My tweede vraag aan die Demokrate is waarom hulle vir Joe Biden as vanjaar se presidentskandidaat verkies het? Is daar in die hele Amerika met sy miljoene mense nie ’n beter kandidaat om teen die Oranje Man te staan nie? Biden is baie oud.

Die dae van fossiele in die parlement is verby. Selfs in Namibië is die jeug siek en sat vir al die ou mense wat net sit en slaap in die parlementsbanke.

Nieu-Seeland is ’n sprekende voorbeeld van politieke vernuwing waar kiesers weer die jong Jacinda Ardern as premier verkies en waar die land in ’n referendum vir genadedood ja gestem het. Sy het ook ’n koalisie met die Groen Party gevorm. Namibiërs kan gerus ook leer van koalisies met een sterk opposisieparty.

Ek sal nie nog ’n presidentstermyn met die Oranje Man sonder erge irritasie kan oorleef nie. Ongelukkig word die wêreld met Amerikaanse nuus gebombardeer. Hoor ons ooit iets van Ysland se wonderlike manier om hul natuurlike hulpbronne in krag te omskep?

Hoe gaan dit Namibië raak as Trump weer die verkiesing wen, of as Oupagrootjie Biden oorvat? Nie een van die twee was al ooit in Namibië nie. Dalk sou Biden nie toegelaat het dat die Amerikaanse ambassade in Windhoek honderde inheemse bome op die bouterrein verwoes het toe hulle die nuwe kompleks begin bou het nie?

Die Oranje Man het in 2018 gesê Afrikalande is “sh*thole countries” en noem ons land Nambia.

Die Oranje Man – in my opinie – is ’n narsis, voel ’n veer vir vroue, die natuur en corona. Hy speel te veel gholf en op Twitter.

Ek wens ons Namibiërs kon ook op 25 November ons stemme in ons munisipale en streekraadverkiesings per pos uitbring, maar ons kry nie eens die elektroniese kiesmasjiene reg nie. Die masjiene word gesteel of val van lorries af.

G’n wonder die Oranje Man tel Namibië by sy lys van “sh*thole countries” nie, maar ek gun hom sy rus, sy hamburgers, ’n nuwe haarstyl en rondrits in sy gholfkarretjie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!