Die pad na 'n nuwe geloof

Zee Adams het op die ouderdom van 31 besluit om matriek te voltooi nadat sy 18 jaar gelede haar skoolloopbaan moes kortknip.
Iréne-Mari van der Walt
Iréne-Mari van der Walt – “Ek onthou hulle het my gevra of ek wil teruggaan skool toe en ek het gedink ek sou die jaar moes herhaal. Ek het gedink my klasmaats sou my daaroor spot, toe sê ek nee.”
So vertel Zainab (Zee) Ryklief Adams van die dag waarop 'n maatskaplike werker haar voor 'n keuse gestel het wat haar lewe onherroeplik sou verander.

Zee, van Swakopmund, het as een van 12 kinders in 'n Moslem-huishouding op Walvisbaai grootgeword.

“Ek dink nie my pa het noodwendig plek gehad vir ander se siening nie. Hy was reg en dit was dit,” sê sy van haar pa.

Zee se ouers het haar in graad 7 – toe sy 13 jaar oud was – uit die skool gehaal.

“Ek dink my ouers het as gevolg van hul geloof geglo dat hoërskool haram (onheilig) is,” sê Zee, wat nou as eiendomsagent vir haarself werk.

Sy moes haar jonger boeties en sussies grootmaak en gelyktydig by die familie se verskeie maatskappye hand bysit.

“Ons is gereeld geroteer. Hulle het in die koop-en-verkoop bedryf begin en soos daardie besigheid uitgebrei het, het daar talle besighede uitgespruit. My ma het 'n manier gekry om absoluut enigiets te verkoop, sy was baie besigheidsgedrewe.”



WEDERGEBOORTE

“Dit was 'n groot teleurstelling vir my familie toe ek buite-egtelik swanger geraak het. Ek dink vir baie families is dit so, maar veral in ons streng geloofswaardes.

“Selfs as kind was ek nuuskierig oor Christenskap, maar ek was nooit braaf genoeg om iets daaraan te doen nie,” sê sy.

Sy onthou hoe sy ná skool gewag het vir haar netbaloefening om te begin.

“Daar was altyd Bybelstudie en ek onthou hulle het vir ons lekkers gegee as ons 'n Bybelvers van die vorige week kon onthou,” vertel sy van haar eerste herinnering van die Christen-geloof.

Zee vertel egter haar hart kon nie net deur lekkers gewen word nie.

“Dit was 'n geleidelike proses. Mense het van God se liefde gepraat en dat jy jou naaste moet liefhê en ek het van daardie beginsels gehou.”

Sy is later getroud, maar in die begin van 2019 het haar huwelik verbrokkel. Sy het 'n tweede seun uit hierdie huwelik. Sonder 'n matriekkwalifikasie moes sy dringend introspeksie hou.

Zee vertel sy het onwetend haar swangerskap met haar oudste seun toegelaat om 'n wig tussen haar en haar opvoeding te dryf.

“Ek was onseker van myself. Ek het nie gedink ek kon dit doen nie en op daardie manier was my swangerskap vir my 'n welkome verskoning wat ek kon gebruik om op te hou.

“Ek was jonk en ek was bang. Ek het werklik geglo ek was te dom."

“Toe my huwelik skeefloop, het ek besef ek moet na myself omsien en dat ek werklik my matrieksertifikaat kon kry. Ek wou aan myself bewys dat ek kon en ek wou myself verbeter. Ek wou geleenthede vir myself en 'n beter lewe vir my seuns skep,” sê sy van haar besluit.

Sy hoop dat haar stryd vir ander 'n inspirasie sal wees.

“God kan enigiets vat wat vir jou lelik is en dit in iets wonderlik omskep. Jy moet net aanhou, jou geloof behou en jouself liefhê. As ek dit kan doen, kan jy,” sê sy.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!