Die pad vorentoe

’n Nuwe webreeks wys die veerkragtigheid van kreatiwiteit.
Yandi Du Plessis
Yandi du Plessis

’n Nuwe aanlyn reeks genaamd, Walking Forward, is onlangs op YouTube bekend gestel.

Dié reeks fokus op die impak van die Covid-19-pandemie op Namibië se kreatiewe sektor.

Pleks daarvan om ’n hartseer verhaal te vertel, wil dié reeks fokus op die bietjie hoop wat gevind kan word in die manier waarop diegene in die kuns- en kultuurbedryf die uitdaging van 2020 aangepak en die beste van die gegewe geleenthede gemaak het.

In Walking Forward gesels die kreatiewe entrepreneur Ndinomholo Ndilula met van Namibië se talentvolstes wat vertel wat hulle doen om nié deur die wêreldwye pandemie gepootjie te word nie, en hoe hulle die pad vorentoe, na 'n onbekende en opwindende toekoms, gaan aanpak.

Die reeks bestaan uit vyf episodes, almal tussen vyf en ses minute lank. Ndilula voer onderhoude met mense in die kreatiewe sektor, van modelle en ontwerpers, musici, diegene in die visuele kunste, tot professionele dansers.

Volgens die vervaardiger van die reeks, Tim Huebschle, het die kreatiewe sektor die mag om te transformeer, om met die tye aan te pas wanneer uitdagings voorkom, veral omdat kreatiwiteit die sleutelkomponent van die ekonomiese sektor is.

"Walking Forward bied ’n blik agter die skerms van vyf kulturele subsektore en plaas die kollig op diegene wat die uitdagings van 2020 aanvaar en dit in geleenthede omskep. Die titel van die reeks dryf die onderliggende boodskap van ons webreeks.”

Na aanleiding van die model van ondersoekende joernalistieke TV-programme, spesifiek Carte Blanche, bied Ndilula die webreeks aan, wie se diep belangstelling in en passie vir die kreatiewe ekonomie dié reeks tot sy volle reg laat kom, sê Huebschle.

“In 'n neutedop is die idee om die impak te verstaan wat Covid-19 op die kuns- en kultuurbedryf gehad het en steeds het, maar in plaas daarvan om die werklikheid wat ons almal ken te betreur, vertel ons stories van hoop, verhale oor kreatiewe innovering, stories wat diegene vier wat aanhou om vorentoe te beur.”

Hoewel Covid die kritieke tekortkominge in die kreatiewe ekostelsel van Namibië uitgelig het, het dit ook benadruk hoe sinoniem die kenmerke van vindingrykheid en deursettingsvermoë is vir die kreatiewe werksomgewing in Namibië, sê Ndilula.

“Toe teaters, klubs, dansplekke en komedieklubs oraloor die wêreld gesluit is, was dit duidelik dat dinge anders gedoen sal moet word. Ter plaatse het Covid produksieprosesse laat stilstaan, wat steundiensfunksies gestuit het en die verspreidingsprosesse wat reeds dekades lank gevolg word, ontspoor het.

Alhoewel dié ramp steeds lewens oraloor die wêreld neem, het Covid opkomende kreatiewe sentrums, soos Windhoek, die geleentheid gegun om hul ontwikkelingsproses te heroorweeg. Om rekening te hou met die nodige vereistes vir sulke kreatiewe sentrums om te oorleef en te floreer in die nuwe normaal, voeg hy by.

“Die Walking Forward-webreeks het my die geleentheid gebied om my in Windhoek se kreatiewe ekostelsel te verdiep en te ondersoek hoe 'n handjievol organisasies en individue hul veerkragtigheid handhaaf tydens 'n wêreldwye pandemie. Benewens die webreeks het ek ooreenstemmende bloginskrywings gepubliseer. Die doel hiervan is om konsepte, idees en potensiële aksies voor te lê wat die lesse wat ek uit die onderhoude geleer het, sal weerspieël en bydra tot 'n nuwe era van die gebruik van Namibië se kreatiewe hulpbronne,” sê Ndilula.

Collective Productions, 'n Namibiese filmproduksiemaatskappy wat al verskeie bekroonde dokumentêre films, kortfilms, musiekvideo's en TV-advertensies vervaardig het, het ook Walking Forward vervaardig.

Die maatskappy is in 2009 deur die skrywer en regisseur, Huebschle, en die vervaardiger en sakebestuurder, David Benade, gestig.

“Met meer as 20 jaar se ondervinding in die film- en televisiebedryf, is ons doel boeiende storievertelling. Ons glo dat Namibië stories het om te vertel en dit is ons roeping om outentieke films te maak wat gehore, plaaslik én oraloor die wêreld, sal inspireer.”

Die reeks kon realiseer danksy die finansiering van die Namibiese Filmkommissie (NFC) en Bank Windhoek. In samewerking met die Namibiese Kunsteraad (NACN) het die NFC 'n gedeelte van die kunstenoodfonds beskikbaar gestel met die doel om voortgesette kreatiwiteit en kunstenaarskap tydens die wêreldwye pandemie aan te moedig.

In lyn met hulle doel om “positiewe verandering aan te moedig”, het Bank Windhoek dié projek ondersteun aangesien “dié webreeks nuwe moontlikhede blootstel en blootstelling gee aan die kuns van Namibiese storievertelling.”

Al vyf episodes van Walking Forward kan op YouTube gekyk word.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!