Die perfekte ek
Halfvyf skree die wekker.
Ek het in my drafpakkie en swembroek geslaap, dus is dit net voete in tekkies druk, vasryg en uit by die deur.
Die vorige dag is die roete bepaal en afstand gemeet – presies 12 km van my voorhek af tot by die Mole en terug.
Met hangskouers begin die tone klap, oë nog halftoe.
Die bloed suis, my kop draai. Ek sien rooi en geel kolle, en sleepstrompeldraf soos ‘n dronke heen en weer oor die wandellaan. My keel brand, my asem is weg, die trane loop. Maar dis als vir ‘n goeie doel. Vasbyt dié sal ek.
By die Mole stort ek in ‘n hygende hoop ineen en wag vir die son om op te kom. Drafpakkie en tekkies uit, en minus 55 grade se water in. Dis so koud, my tande trek kleinkoppie in my blou gums. Maar dis als vir ‘n goeie doel.
Van die Mole tot by Tiger Reef en terug sparteldryfswem ek die seemyle. Spoel halfbewusteloos die laaste meters uit tot op die strand en voel vere vir die grootoog-toeriste wat op die la-di-da restaurantstoepe oor hul botterblink croissants met salm en hollandaise-eiers vir my staar.
As hulle maar net weet van die nuwe ek. Mý dieet is tog soveel gesonder – nie ‘n greintjie suiker, stysel, suiwel, eiers of vleis meer oor my lippe nie, baie dankie. Ek floreer op neute, groente en vrugte.
Intermittent fasting is my nuwe styl – ek eet net tussen 08:00 en 14:00, daarna niks tot die volgende dag. Die koskaste het nie een item met preserveermiddels in nie en alles in die yskas is organies vars.
Ek drink voortaan net water, het my elektriek-sigaret opgegee en wyn is ‘n hoofstuk wat ver weggebêre is.
Maandae tot Vrydae is ek van 18:30 tot 20:00 in die gim. Saterdae speel ek tennis vir drie ure en Sondae doen ek 1 000 sit-ups, pull-ups en push-ups in my leë garage. Leeg omdat ek my kar verkoop en ‘n bergfiets der fietse gekoop het om naweke vir die pret Arandis of Henties toe te ry. Ek stap werk, gim en winkels toe.
My grimeertas is aangevul met net die beste oogpoeiers, omlyners, onderlaag, maskara en lipstiffies. My eens woeste krulhare word elke drie maande met die Brazilian straight glad gevee en is permanent in ‘n stylvolle chignon.
Saans bestee ek minstens twee ure aan die aanwending van antiplooirome en jels, asook ‘n manikuur en pedikuur. Net voor ek in die bed klim, drink ek ‘n vitamien E-pil en smeer my hakke met voetroom waarna dit met kleefplastiek toegedraai word vir die nag. Ek loop nooit meer kaalvoet nie en my naels is te alle tye ‘n ligte koraalpienk geverf.
My verweerde jeans, bont plakkies, hippie-hemde, -armbande, -ringe en -krale is weggegee en het plek gemaak vir snyerspakkies, wighakskoene en bedeesde halssnoertjies.
Ek lag nie meer kliphard onbeskaamd nie; glimlag net fyntjies-beleefd. Niks ontstel my meer nie, want ek doen in my etensuur joga en mediteer as niemand kyk nie.
Halfsewe skree ek myself wakker.
“Is Ma oukei?” vra my jongste.
“Só oukei,” jubel ek. “Vieslike nagmerrie. Jy ook lus vir koffie en dik snye plaasbrood met kaas en jêm?”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie