Die president wat graag gee

Dit was nie net die lojale Zimbabwiese staatsmedia wat pres. Robert Mugabe Dinsdag met sy 93ste verjaardag gelukgewens het nie.
Estelle de Bruyn
Daar is steeds Zimbabwiërs wat hom steun en na hom opsien.

Soos ’n Zimbabwiër die naweek getwiet het: “Daar is baie wat vrywillig vir Zanu-PF stem. Aanvaar dit.”

Waarom sal Zimbabwiërs ná jare van lyding Mugabe bly steun?

Sy nalatenskap

Mugabe het ’n kernrol in Zimbabwe se 1980-bevryding van die koloniale magte gespeel.

En hy maak seker niemand vergeet dit nie.

Sy verhaal vind aanklank ver buite Zimbabwe se grense en dit is waarom hy ook steun op die res van die vasteland het.

Om mense daaraan te herinner dat jy die land bevry het, is die eerste les in hoe om ’n diktator te word, sê Jeffrey Smith van die niewinsgewende organisasie Vanguard Africa.

Daar is tekens dat Mugabe en ander oorlogsveterane se houding dat hulle, 40 jaar later, nog iets “geskuld” word vir hul bevrydingsdade, jonger mense toenemend ontgogel.

Hy gee aan Zimbabwiërs

Mugabe se vrou, Grace, het die tonge los gehad nadat sy verlede week in haar Buhera-skoene, seep en kookolie aan ondersteuners gegee het - die einste goed wat die belastinggaarder by handelaars afgevat het.

Tendai Biti, voormalige minister van finansies, is woedend daaroor en noem dit onwettig.

Mugabe gee graag groot goed weg. Plase. Aandele. Maar net as jy ’n toegewyde Zanu-PF-lid is.

Geen ware opposisieparty

Dalk was daar nog in 2008 ’n kans op ’n ware opposisieparty toe Morgan Tsvangirai van die MDC die eerste verkiesingsronde gewen het.

Sedertdien het hy nie juis hond haaraf gemaak nie. Kom ons wees eerlik: wie wil met iemand geassosieer word wat heeltyd verloor?

Daar is ook geen “aanvaarbare” teenstander in Mugabe se eie party nie, soos hy self gesê het.

Emmerson Mnangagwa, wat ’n moontlike opvolger sou wees, het nie Mugabe se charisma of gladde tong nie.

Grace Mugabe? Kom ons laat dit daar.

Hy het sy sondebokke, dankie

Maatskappye wat hul deure in Zimbabwe sluit?

Geen buitelandse beleggings? Dit is alles as gevolg van onwettige Westerse sanksies.

Mugabe het dit die afgelope 16 jaar oor en oor gesê.

Hy maak seker die staatsmedia herhaal dit ook. Gevolglik glo ’n groot aantal Zimbabwiërs dit en herhaal dit.

Vergeet gerus dat dit geteikende sanksies van die VSA en die Europese Unie is en ook dat die doelbewuste besluit om nié in ’n land te belê nie, nie eintlik ’n vorm van sanksie is nie.

Hy is ’n suksesverhaal

Grace het twee jaar gelede gesê Mugabe is die armste president ter wêreld, maar hy het darem ’n mooierige herehuis in Borrowdale, Harare, en genoeg geld om vir haar ’n diamantring te koop.

Mugabe se verhaal van ’n vee-oppasser met ambisie is ietwat te dik vir ’n daalder, maar hy hou daarvan om sy familielede te bederf, soos sy skoonsuster onlangs aan die media gesê het.

Dit het talle Zimbabwiërs nie juis aangestaan nie, maar daar sal altyd diegene wees wat Mugabe bewonder vir sy materiële welvaart en toewyding aan sy familie.

Is Zimbabwiërs dus lief genoeg vir Mugabe om volgende jaar vir hom te stem, selfs al is hy ’n lyk?

Dis nie meer lank voor die wêreld sal weet nie. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-01-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 30° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 19° | 33° Oshakati: 23° | 32° Ruacana: 20° | 35° Tsumeb: 20° | 33° Otjiwarongo: 21° | 31° Omaruru: 24° | 33° Windhoek: 23° | 31° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 18° | 23° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 18° | 22° Rehoboth: 24° | 35° Mariental: 26° | 39° Keetmanshoop: 25° | 40° Aranos: 26° | 39° Lüderitz: 19° | 31° Ariamsvlei: 25° | 40° Oranjemund: 17° | 25° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 24° | 37° Lubumbashi: 15° | 21° Mbabane: 16° | 28° Maseru: 17° | 33° Antananarivo: 18° | 23° Lilongwe: 19° | 26° Maputo: 23° | 34° Windhoek: 23° | 31° Cape Town: 20° | 28° Durban: 22° | 27° Johannesburg: 18° | 32° Dar es Salaam: 27° | 32° Lusaka: 17° | 27° Harare: 16° | 28° #REF! #REF!