Die prinses, 'n cream soda en 'n briefie op 'n kis
Henriette Lamprecht - Dit was een van daardie dae waarop jy in breë trekke kan antwoord op die vraag “waar was jy die dag toe . . ?”.
Ek onthou nie die datum of die maand nie, maar dit wat ek gevoel het, hoe die mense om my gevoel en gelyk het, tot selfs die reuke dekades later asof dit gister was.
Met die herdenking van prinses Diana se dood, vanjaar twintig jaar gelede, wat nou weer sterk op die voorgrond is met haar twee seuns wat vir die eerste keer vir die wêreld wys hoe geweldig die verlies vir hulle was, kom die onthoue terug van daardie dag wat in misslierte gehul was.
Ons was groentjies op Swakopmund se strate, ons tuiste ’n gemeubileerde, gehuurde woonstel sonder enige wasgoeddrade en sonlose kamers wat, hoewel dit oorkant die pad van die see geleë was, op ’n binnehof uitgekyk het met vierkantklippaadjies en woestynrosies in hul some.
Deel van die meublement was ’n televisie, ’n klein vierkant met ’n bolskerm met CNN wat die suksesvolste die wasige beelde tot in ons koue sitkamer kon stuur. Daar is dinge wat ek nie kan onthou nie, soos my motivering om die dag van Diana se begrafnis uit ’n warm bed op te staan, myself teen die miskoue te pantser en middedorp toe te stap.
Dalk was dit die koue van die woonstel, dalk die skielike intense behoefte om juis toe ’n ander se asem, lyf, stem te hoor om die skielike alleenheid en hartseer te besweer.
Ek onthou die strate was stil, die parkeerplekke voor selfs gewilde toesakplekkies vir koffie en brötchens met kaas was leeg.
Die wind van die see se kant was sag, koud en het met gewyde reëlmaat ’n sliert mis oor die nat soutpaaie en teen vensters dof van soutwinde gestoot. Uit respek vir iewers ’n prinses wat van haar deurskynromp tot haar troudag tot nou waar sy in ’n kis met lelies en ’n seuntjiebriefie gelê het, maand vir maand op die voorblad, binneblad en agterblad van die Huisgenoot verskyn het.
Ek onthou ’n winkel, die naam dalk nog ’n onthou in oud-Swakopmunders se geheue van toe, wat alles gehad het. Van kos tot klere tot elektriese toebehore. Binne was dit warm, stil. Iewers voor die nuutste televisiestelle het ’n hopie mense gestaan. Die met naamplaatjies en uniforms van die winkel, die ander net om ook te kyk. Te deel in die stoet met die twee kop onderstebo seuntjies agter hul ma se kis.
Ek het by hulle gaan staan en ons het hande vasgehou, onthou ek. Ons het mekaar getroos, onthou ek. Snot en trane oor die vrou wat ons van g’n kant af ken nie en in ’n tonnel in Parys, so ver ver van hier, dood is.
Iewers het ek my losgewikkel, die hartseer in die hopies mense en die kis op die televisie skielik net te veel.
Ek wou alleen huil en het besluit om haasore iewers in die sliertstrate te gaan soek om die televisie in die koue woonstel se beelde te verhelder.
In ’n klein winkeltjie, met net ’n deur en agter in die hoek ’n lessenaar, sit ’n vrou. Haar oë ook vasgenael op die klein boepenstelevisie op haar lessenaar met haasore kyk sy vir die seuntjies en die kis wat uit alle hoeke met blomme bestrooi word. Toe ek sien sy huil ook, val ek in ’n bondeltjie op die administrasiestoel voor haar lessenaar neer en huil saam.
Ek onthou die oorgetrekte tissueboks met kerspitwerk en valletjies, hoe ons vir mekaar tissues aangee as ons neuse in die huil verstik. Ek onthou haar opstaan, verdwyn en terugkom met ’n blikkie Cream Soda wat sy met ’n druk van my skouer vir my gee om die hartseer oor die dooie prinses te probeer besweer.
Later, toe ek prewel ek soek haasore om my eie hartseer alleen in die koue woonstel te gaan besweer, haal sy dit van die rak agter haar af. Stuur my met ’n vashoudruk en ’n belofte van son wat altyd deur misslierte breek, terug die stil strate in.
In die koue woonstel kry die bolpenstelevisie sy ore, ek die beelde helder en my kans om alleen te treur. Saam met elkeen wat ooit agter ’n kis aan moes stap.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie