Die prys van pandemiepolitiek
Die prys van pandemiepolitiek

Die prys van pandemiepolitiek

Jo-Mare Duddy Booysen
Ek was te klein om desjare se stryd tussen die Natte en die Sappe te onthou. Maar ek onthou goed toe ‘n oopkop Dirk Mudge in die laat sewentigerjare van die Nasionale Party in die destydse Suidwes weggebreek het om te help bou aan ‘n nuwe Namibië.

My ouers het nie twee keer gedink nie. Vir hulle was Mudge die enigste sinvolle opsie om ‘n toekoms vir die land te help verseker.

Dis toe dat ek met ‘n ander soort apartheid begin kennis maak het.

My ouers se politieke keuses het baie in ons familie en vriendekring nie aangestaan nie. Ons het almal hoofsaaklik uit mekaar se pad probeer bly, maar wanneer ons noodgedwonge bymekaar moes wees, het die vonke dikwels gespat.

Ons was verdeel, uitmekaar geskeur en verlore vir mekaar.

Nie eers die feit dat ons almal genadiglik aan dieselfde kerk behoort het, kon ons bymekaar hou nie.

Kerke, soos politiek, kelder ook dikwels hegte verhoudings, het ek vroeg reeds besef. Kinders wat nie aan hoofstroomkerke behoort het nie, is soos melaatses op ons skoolgrond verdryf. Selfs tussen gemeentelede van die drie Afrikaanse susterskerke was daar maar min verdraagsaamheid daai dae.

Ek’t nie gedink sulke erge verdeeldheid sal in my grootmensjare weer sulke grootskaalse amok maak nie.

Tot 2021, tot entstowwe teen Covid-19 in Namibië aangekom het. Tot mense vir of teen die spuit moes besluit.

Debatte, argumente en slegsêery word elke dag vuriger – veel leliker as die politieke en godsdienstige minagting wat tydens my kinderjare geheers het.

Daar’s eenvoudig geen middeweg nie. Dit maak nie saak of dit familie of vriende of selfs lede van dieselfde gesin is nie. As jy nie met ons is nie, is jy teen ons en basta!

Ek het lanklaas soveel ongeduld, min begrip en onverdraagsaamheid ervaar. Met die pandemie wat toenemend hand uitruk, blaas vrees en paniek menings oor entstowwe aan. Verwyte word al meer rondgeslinder, mense word beledig, verneder en verstoot.

Anders as toe ek ‘n kind was en sulke rusies tot die telefoon, briewe of soms ‘n familiebegrafnis of troue beperk was, geskied slagtings nou voor die massagehore van sosiale mediaverhoë.

Ek het lanklaas ‘n gemeenskap so verdeeld gesien. Nooit verwag mense sal eenvoudig aanhou en aanhou tweespalt saai nie, ongeag die emosionele en geestesgevolge daarvan nie.

Namibiërs het nog nooit so hard vir oorlewing baklei nie – liggaamlik, geestelik en ekonomies.

Ek weet dis makliker gesê as gedaan, maar kan ons nie ons verskille met wedersydse respek takel nie?

Ons staan nie ‘n kans sonder mekaar nie. Almal vir een en een vir almal, onthou? Nie elkeen vir homself en die duiwel vir ons almal nie.

Kommentaar

Republikein 2025-04-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer