Die prys van tande
Die prys van tande

Die prys van tande

Dani Booysen
Hier op Grysblok by die werk gaan draai gesprekke die afgelope week by die tandemuis.

Iewers op Keetmanshoop beloop die prys glo al ‘n hele N$100 per melkknewel.

‘n Ander kollega het eenkeer toe die geldsake bietjie druk, aan haar tjokker gesê die muis hou vakansie. “Waar?” wou boetie weet. “In Swakopmund-goet,” was die antwoord.

Vir ‘n kind om wanneer ‘n tand klaar los in die kas sit op ‘n muis in ‘n valletjie af te kom, moet traumaties wees.

In Engels is die muis ‘n feetjie, maar in sommige volkslegendes is die eienskappe verweef.

Volgens die webjoernaal Dorings en soms Rose het die muis in ‘n Franse storie in ‘n feetjie verander en saam met die goeie koningin onder ‘n bose koning se kussing weggekruip. Die twee het uitgespring en al die ou vreksel se tande in sy slaap uitgemoker.

Sprokies was dikwels erg gewelddadig en is oor die eeue aansienlik vir kinders versuiker.

Die tandemuis, sê Wikipedia, heet in Spaans Ratoncito Pérez en die Wikings het blykbaar al vroeg kinders vir hul uitvaltandjies betaal; wat sommige krygers in geluksnoere om hul nekke ingeryg het.

Hier ter plaatse verbrand ons nie tande soos in ander kulture, offer dit aan die son of gooi dit soos in Viëtnam en Korea op die dak of onder die vloerplanke nie.

‘n Muis het altyd tande, so vandaar die aanvraag?

Meeste kollegas is dit eens dat ons in ons kinderdae hoogstens sente vir ‘n tand sou kry. Vir ‘n eenrandstuk of -noot sou jy letterlik die voortande gee.

Gemeet aan ryk muis se toppryse, het die gebruik se koste honderdvoudig of met 10 000% toegeneem.

In die VSA was die gemiddelde prys in 2013 US$3,70; oftewel so N$33 teen daardie tyd se wisselkoers. Ouers is welkom om te vertel hoeveel hulle deesdae opdok.

Ons huidige resessie gee al jare tandpyn en ‘n moontlik wêreldwye, virusgedrewe insinking sal die seer dalk vererger.

Een spanlid het gewonder of mense begroot vir die muis. N$100 x 20 = N$2 000. Eina!

Spreekwoordelik moes Jan en San Middelklas lankal die sjokolade- en vleistande begin trek. Om nie te praat van behoeftige mense nie.

Met R1, die Namdollar het eers later gekom, kon ‘n kind ‘n hemelse fees vier. Onthou nog hoeveel Wilson-toffies jy hiervoor kon koop?

In ‘n poging om prysverskille nader te ondersoek, gaan loer Dapperrerige Daniëltjie in 1977 en 1978 se heel eerste Republikeine. Kinders begin gemiddeld op ses tande wissel, so toevallig het ek tande begin kry rondom die geboorte van ons koerant; toentertyd in breëbladformaat teen 30c – inflasie in dié prys was baie minder as in kindergebit . . .

‘N KORT INKOPIELYSIE (MET ENKELE RARITEITE)

By OK Bazaars teen “gekerfde pryse”: 1 kg witrys 70c, appelkooskonfyt 32c, ertjies 24c, Marie-beskuitjies 28c, kondensmelk 34c, 750 g Ricoffy R3,89, Post Toasties 47c, ‘n pakkie jellie 11c, ‘n dosyn eiers 50c, 4 rolle Baby Soft 79c

(Oor dié pampier het Covid-19 nou ‘n skittery van ‘n heel ander soort veroorsaak.)

Vleis: hoender 76c/kg, beessteak R1,78/kg, skaapvleis R1,68/kg

Klere het enkele rande stuk gekos.

Huisware: ‘n goeie yskas en sitkamerstel het by Nictus so rondom R500 gekos; haaifaai R300.

Wiele: By SW Ford tweedehands R750 tot R4 000. Van JL Cohen kon jy ‘n BMW 530 uit die boks koop teen ‘n paaiement van R263.

Brandstof was glo 25c/l.

Vir die braaiers: ‘n Groot sak hout R2,50

‘n Drie- tot vierslaapkamerhuis: R26 000

‘n Plaas van 3 400 ha in Tsumeb se omgewing: R40 000

(Uit Suid-Afrika het iemand in ‘n kleinadvertensie drie woonstelgeboue in Randburg in ruil vir ‘n bees-, skaap- of jagplaas in Namibië aangebied.)

Sonder om alles met die sompompie uit te werk nie, dui ‘n steekproefie op tien- of self honderdvoudige toenames, byvoorbeeld in die eiendomsmark.

Net toe ons begin dink het hierdie knerstye gaan verlig, dreig daar weens Corona dalk nog ‘n groter griep.

Ons het baie feetjies met tamaai toorgoed in hul staffies nodig. Ook minder gierige muise en rotte wat die uitbuittande in vis-, ander tenders en dergelike prooie wil slaan.

Mag die tandetrekkery oor 2019 se verkiesings ook spoedig einde kry.

En met begrotingstyd op hande sal Oom Calle ‘n baie dapper en wyse muis moet wees.

Vir almal wat ernstig is: Tyd is verby vir tande tel en heelbek bly.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!