Die regsaspekte van toegang tot plaaspaaie
Regsake vir boere
In my praktyk word ek van tyd tot tyd geraadpleeg oor probleme wat boere ondervind met toegang tot hul plase deur die publiek.
Dit is belangrik dat die leser moet onderskei tussen private paaie op en tussen plase en openbare paaie.
Private paaie word geskep deur ‘n reg van weg oor jou plaas aan mense te gee. Andersins kan dit ook wees dat jy as individu geregtig mag wees om oor ‘n ander boer se plaas te ry, aangesien daar ‘n reg van weg in jou guns geregistreer is.
‘n Reg van weg is ‘n serwituut en die tegnies korrekte beskrywing van so ‘n serwituut is ‘n erfdiensbaarheid, wat ‘n voordeel aan ‘n bepaalde stuk grond verleen.
By ‘n erfdiensbaarheid is dit ‘n absolute vereiste dat daar twee stukke grond moet wees: ‘n heersende eiendom en ‘n dienende eiendom.
Tegnies gesproke word die serwituut ten gunste van die heersende grond geregistreer en die dienende grond is onderhewig aan die serwituut. By voorbeeld sal ‘n reg van weg oor ‘n plaas (die dienende grond) ten gunste van ‘n ander plaas (die heersende plaas) heers. Hoewel ons in gewone voertaal daarvan praat as synde ‘n persoon ‘n reg van weg het, is die reg eintlik ten gunste van die grond en jy as eienaar van die grond oefen die reg uit.
Die serwituut verval nie wanneer die dienende plaas verkoop word nie, aangesien die reg ewigdurend aan die grond kleef. Dus moet die nuwe eienaar van die dienende grond ook die reg van weg oor sy plaas toelaat en ‘n volgende eienaar van die heersende plaas mag die reg van weg gebruik.
Die houer van die serwituut (die heersende eienaar), moet sy reg op ‘n bedagsame wyse uitoefen en so min as moontlik steurnis veroorsaak vir die eienaar van die dienende grond. Die eienaar van die heersende grond mag nie ‘n plig op die eienaar van die dienende grond, of ten opsigte van die uitvoering van sy regte op die dienende eienaar, lê nie. Dit is dus ‘n passiewe reg sover dit die dienende eienaar aangaan.
In teenstelling hiermee het ons ook geproklameerde paaie in Namibië. Sulke paaie en hul instandhouding word deur wetgewing gereguleer. Onthou, geproklameerde paaie is openbare paaie wat deur alle lede van die publiek gebruik mag word.
Dit is belangrik dat boere verstaan dat hulle moet onderskei tussen private plaaspaaie en openbare (geproklameerde) paaie.
By dispute oor die gebruik van paaie wat deur serwitute geskep word, is dit ‘n persoonlike saak tussen die eienaars van die heersende en dienende grond. Indien sulke dispute nie self opgelos kan word nie, moet die eienaars hul prokureurs nader om te help.
In die geval van openbare paaie is die posisie anders. Hier verwys ek julle na die Paaieowerheid wat sy regte en pligte uit onder meer die Paaie-ordonnansie van 1972 verkry.
Die Paaie-ordonnansie onderskei tussen verskillende tipes geproklameerde paaie, naamlik geproklameerde plaaspaaie; geproklameerde distrikspaaie (hulle is gewoonlik grondpaaie); geproklameerde grootpaaie (hulle is gewoonlik geteer) en hoofpaaie (soos die B1 en B2) wat dorpe met mekaar verbind.
Die Paaie-ordonnansie maak voorsiening vir sekere wysigings ten opsigte van die klassifikasie van geproklameerde paaie. By voorbeeld, ‘n geproklameerde plaaspad kan dus geskep word waar daar tans nie een is nie, of ‘n geproklameerde plaaspad kan geherklassifiseer word as ‘n distrikspad, afhangend van die omstandighede.
Ek het kontak gemaak met ‘n paaie-inspekteur en is meegedeel dat die prosedures soos in die Paaie-ordonnansie geskep, steeds in die praktyk toegepas word en doeltreffend is.
Julle kan die gebiedsbestuurder vir paaie-instandhouding by die Paaieowerheid in jou gebied kontak, wat raad sal gee en hulp verleen.
Hierdie is die laaste artikel in die huidige reeks vir die rubriek “Regsake vir boere”. Ek het dit baie geniet om die artikels te skryf en ek wil die publiek bedank vir julle woorde van ondersteuning en erkenning. Ek vertrou ek kon ‘n bydrae lewer tot die kennis van die boere in Namibië.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie