Die regte pad
Lloyd Zandberg - Jy sien, ek het dit al verskeie kere genoem en daaroor geskryf, maar dis my lot en gaan vir ewig ‘n uitdaging wees.
Ek is ‘n Weegskaal. As daar ‘n soort formule vir die uitwerk van ‘n ware Weegskaal moes wees, was ék die antwoord.
Een van die eerste aspekte van ons lewens as Weegskale, is dat ons gaande daaroor is om op te gaar. Ons gooi nie ‘n enkele dingetjie weg nie. Dit gaan gepaard met ons ontsaglike sentimentele benadering tot die lewe. Die geringste papiertjie, veertjie, briefie, wynprop, poskaart, korreltjie sand, koffiebekers sonder ore, liedjies, noem dit, tande en kerswas word gestoor, gebêre of gefile.
Net goed wat vrot is, gooi ons weg.
In die huis waar ek tans woon, is drie slaapkamers. Die een is waar ek doeks, en die ander twee word in hierdie stadium as stoorkamers gebruik. Dis bokse, kratte en sakke vol goeters waar jy kyk.
Die probleem met laasgenoemde is nie die opgaar nie, maar eerder die tekort aan orde.
Ek is mal oor opgaar, ek is ‘n kenner op die gebied, maar in dieselfde asem verpes ek chaos.
Dit maak my mal. Dit laat my drink en eet. Vir enigeen wat daar kom kuier, mag dit soos ‘n muisnes voorkom, maar ek weet presies wát wáár is.
As jy my vra waar my eerste sigaretstompie is, pluk ek boks nommer vier uit, skarrel, krap en dink bietjie, dan haal ek sommer vinnig vir jou die topper van ‘n Marlboro-filter uit ‘n vuurhoutjieboksie uit, wat met blou pen bekrap is. Vra my of ek my melktande iewers het, dan haal ek vir jou ‘n Absa-banksakkie uit, en dê, oogtandjies.
Mense vra my op ‘n gereelde basis waarmee ek besig is. Hoekom klou ek so vas? Wat is my storie? Is ek bang vir die toekoms?
Ek weet nie wat met my aangaan nie. Is alle Weegskale so?
Ernstig, nou, sien ek dit as problematies? Nee. Nie eers amper nie. Niemand kom kuier by my, loop in my kamers van sentiment in, en staak ons vriendskap oor al die bokse nie. En so terloops, ek laat nie sommer mense daar bo toe nie. Jy moet ten minste een van my sibbes se verjaardae of volle naam ken voor ek jou “inlaat”.
My huiswerker maak vanselfsprekend die cut, ongeag die vereistes. Ek meen, sy moet daar stofsuig en darem die ergste orde skep.
Verlede week tref die Oktober-blues my. Doef! Tussen die oë. Uitklophou. Dis nie ‘n mooi gesig om waar te neem nie. Ek kry zits, sweterige hande en sukkel om te slaap, dink en lees. Al wat my gewoonlik uit hierdie vibe kry, is as ek in kamer twee en drie op my bas, met Tassenberg en agtergrondmusiek gaan sit. Dan begin ek krap. En kyk waar in my lewe ek was en waar ek nou is.
En omdat ek weet wat goed vir my is, het ek dit gaan doen. Ek sement my neer op ‘n klein stukke vloer wat nie beset is nie, gryp die naaste boks, skeur sy kruisbande los en druk my hande in.
Heelbo lê ‘n resep van my oorlede ouma wat sy nog met die hand geskryf het. Dis sauerkraut, soos wat hy in Duitsland gemaak word. Ek beweeg aan. Huil maak my moeg. Volgende is ‘n Pick n Pay-sakkie vol tarentaalvere, wat ek by Namutoni een jaar met Kersfees gekoop het. Wat ek daarmee wou doen, weet die Wêreldspektrum alleen.
Sluk. Groot. Gulsig. Die Weegskaal kom sterk deur. Gooi die vere tot in die gang. Krap verder. Matriekafskeidpak.
Mooi, netjies in ‘n Edgars-sak. Hoewel hy met die hand deur ‘n man van Senegal gemaak is, slaap hy in daai sak. Elke liewe draadjie is op sy plek. Simmetries en perfek. Ek dink, nou maar toe, hulle sê mos, as jy in jou matriekafskeidpak of -rok pas, is jy op die regte pad. Ek het die pak die aand van die afskeid gedra en toe nooit weer nie.
Ek haal hom uit die sak ek begin hom stadig aantrek. Hy sukkel, maar ek het hom aan. Dis net-net. Ek glo dit byna nie. Jare later en hy pas nog. Wie sou kon raai? Ek is blykbaar op die regte pad.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie