Die saxofoon is Suzy se inspirasie
Die saxofoon is Suzy se inspirasie

Die saxofoon is Suzy se inspirasie

Haar wens is om terug in die gemeenskap te ploeg.
Tanja Bause
Tanja Bause – As sy net een of twee musikante kan inspireer, of mense wat musiek wil maak en gedink het hulle kan dit nooit doen nie, dan is haar werk hier gedoen, glo die Namibiese saxofoon­speler Suzy Eises (30).

Die 30-jarige Suzy het op Oranjemund grootgeword as die jongste van drie susters en een broer.

“Ek weet nie of dit was omdat ek die jongste was dat ek gevoel het niemand hoor my nie. Dit was altyd die ouer broer en susters wat dit of dat moes doen wat ­verantwoordelikhede gehad het.

“Ek wou ook aandag hê en wou gehoor word. Ek weet nie of die feit dat ek die jongste was my dalk gedryf het om 'n instrument te leer speel sodat mense my kan sien en hoor nie.”

Van kleins af het sy van musiek en dansoptredes gehou en saam met haar vriende talle konserte in haar ouers se huis gereël.

“Ek het my familie ingangsfooie van ek dink N$1 gevra om die ­optredes te kan sien. Ek het my ma geld gevra om haar eie huis te kon binnekom en my te kon sien optree,” het Suzy laggend gesê.

Volgens haar was dit waar die liefde vir optredes en die verhoog begin het.

“Op skool, toe ek so agt of nege jaar oud was, het ek vir juffrou Hannekie Brand as musiekonderwyseres gehad, wat vir my nie net klavier leer speel het nie, maar ook geleer musiek lees en skryf het. Sy het my aangemoedig om in die koor en later aan kompetisies as duet of solo deel te neem. Ek het oor die grens in Springbok aan sangkompetisies deelgeneem.”

Suzy erken sy was gelukkig om haar kinder- en skooljare in Oranje­mund deur te bring, omdat sport, kuns én musiek aangemoedig is.

“Ek het op skool ballet- en dansklasse gehad. Ek het ook klavierlesse gehad en in die koor en op my eie gesing.”

Een dag in pouse­tyd het die bekende ­Suid-Afrikaanse saxofoonspeler Dan Shout en sy groep vir die kinders kom speel.

“Dan is oorspronklik van Oranjemund en hulle het vir ons op laerskool musiek kom speel. Ek was verstom oor die optrede en dit het in my kop agtergebly. Dit was een dag wat ek nooit sal vergeet nie.”



HOËRSKOOL

Nadat sy primêre skool voltooi het, moes die besluit geneem word of sy in Windhoek of in Kaapstad haar hoërskoolloopbaan sal voltooi.

Haar ouer broers en susters was almal in Kaapstad op skool en Suzy het in hul voetspore gevolg.

“Ek was in 'n meisie­skool en dit was die eerste keer dat ek 'n meisie gesien het wat die saxofoon speel. Daar was 'n opvoering by die skool en 'n jazz-meisiesgroep het opgetree. Ek was weer eens in verwondering met die instrument.

“Dan Shout en sy groep het weer in my ­gedagtes opgekom en nou die meisies se jazz-groep – net daar het ek geweet ek wil leer hoe om die saxofoon te speel.

“Direk ná die optrede het ek na die direkteur toe gegaan en sy het gesê as my ma vir my 'n instrument koop, kan ek vir lesse kom.”

Suzy het 'n saxofoon gekry en met lesse begin. Haar onderwyseres het haar aangemoedig om na die Grahamstad Jazz-fees toe te gaan.

“Ek was nie die beste sax-speler in die skool nie. Ek was maar gemiddeld, maar sy het my aangemoedig en ek het gegaan. Daar by die fees het ek talle saxofoonspelers op die verhoog gesien. Die meeste van hulle was mans, maar ek het daar en dan geweet dit is wat ek wil doen. Ek wil musiek maak, maar nie net musiek nie, ek wil die saxofoon speel en jazzmusiek maak. Ek was 16 jaar oud.”

Die skool was baie akademies ingestel en haar punte was oukei, maar Suzy wou net musiek maak en tussen musikante wees.

“Weer eens weet ek nie of dit was omdat ek die jongste in die huis was nie, maar ek het daarmee weggekom. My een suster is 'n tandarts, die ander een werk vir buitelandse sake. Ek is die kreatiewe een.”

“Ek het nie geweet wat ek ná skool wou doen nie. Dit was in die tyd wat die Verenigde Koninkryk visums vir vakansiewerk uitgereik het en ek het 'n visum vir twee jaar uitgeneem.

“Ek was nie seker wat ek wou doen nie; ek wou musiek maak, maar meer as dit het ek nie geweet nie.

“In die eerste jaar was ek op verskeie plekke en die tweede jaar het ek in Londen deurgebring. Ek het as 'n kelnerin gewerk en verskeie kort kursusse in musiek gedoen.”

In 2011 het sy huis toe gekom en agtergekom dat musiek en veral instrumentale musiek nie groot in Namibië was nie.

“Ek praat nie van die opleiding van musiek nie, maar van professionele optredes en vermaak van instrumentale musiekmakers van enige aard.”

“Ek het met my oom Dennis Eiseb gaan gesels. Hy speel klavier en is 'n onderwyser by die Kollege van die Kunste. Ons het besluit om saam optredes te begin doen. Dit is waar dit begin het en ek het geld begin kry vir my liefde vir musiek. My eerste optrede was tydens die Wêreldmusiekdagvieringe in Junie 2011.”

Suzy het by privaat en sakefunksies begin optree en sy het geld gespaar om in 2013 na die VSA te gaan om verder musiek te studeer.

“Ek het vir twee jaar musiek by die Brigham Young Universiteit in Idaho gestudeer, voordat ek huis toe gekom het. In 2015 het alles in plek begin val en ek het my besigheid Suzy Music Productions geregistreer en maak nou nie net musiek nie, maar leer ook mense klavier en saxofoon speel.”



OPTREDES

Suzy het al in Dubai, die VSA en Tanzanië opgetree.

Die optrede in 2018 in die VSA was vir 'n internasionale fees waar die organiseerders na mense buite die VSA gekyk het om deel te neem.

“Daar is baie geleent­hede buite die ­Namibiese grense en jy moet oopkop wees vir hulle en nie net aan 'n musiekloopbaan in Namibië dink nie.

“Persoonlik wil ek in die toekoms my teikengehoor vergroot, want ek glo my musiek is nie net vir Namibië nie, maar vir die hele wêreld.”

“Die optrede in Dubai was 'n internasionale fees vir vroue en ek het vir Afrika verteenwoordig. Vroue vanoor die wêreld het daar opgetree.

“Gelukkig het ek in my laerskooljare op Oranje­mund geleer hoe om musiek te lees. Met die optrede in Dubai moes ek Indiese musiek leer en speel.

“Dit is belangrik as 'n musikant dat jy ­aanpasbaar is; dit sal jou help om 'n inkomste uit jou musiek te kan maak. Dit help nie as jy net 'n enkele soort musiek kan maak nie; jy moet alles kan doen en speel.”



TOEKOMS

“Ek wil baie graag in Europa verder musiek gaan leer. Die droom is om by die Berklee College of Music te gaan studeer. Hulle het 'n kampus in Spanje en hulle is die beste skool vir kontemporêre musiek. Ek is tans besig om te spaar sodat ek dit kan gaan doen.”

Intussen leer Suzy ander mense klavier, saxofoon en musiekteorie aanlyn en van aangesig tot aangesig.

“Ek gee tans aanlyn klas vir 'n meisie van Uganda wat in Italië studeer.

“Ek weet daar is baie minderbevoorregte kinders en mense in die land wat dalk wil leer hoe om die saxofoon te speel. Ek weet ook ek was bevoorreg en het geleent­hede gekry deur my ma en waar ek grootgeword het en dit is hoekom ek wil teruggee.

“Ek wil nie net musiek vir my eie sak maak nie, ek wil graag mense inspireer en hopelik kan ek een of twee musikante help. Hopelik sal iemand eendag sê ek is hier waar ek nou is weens Suzy.

“Ek wil net mense inspireer; ek is 'n swart vroulike saxofoonspeler. Ek speel 'n instrument wat meestal net deur mans gespeel word, so niks is onmoontlik nie as sy passievol daaroor is.”

Suzy ondersteun die Physically Active Youth inisiatief in Namibia en die Hugh Masekela-stigting in Suid-Afrika finansieel.



RAAD

“My raad vir enige aspirantmusikant daar buite is om vas te byt. Gaan na konserte, wees in die geselskap van musikante en leer. As jy passievol oor iets is, sal goed gebeur en uitwerk.

“Moenie jou van stryk laat bring nie. As jy 'n ingenieur wil word en sien daar is net mans, laat jou ook nie daardeur afsit nie. As jy iets wil doen, doen dit. Moet nooit jou passie verloor nie.”

• Suzy tree op Vrydag 23 April om 19:00 by El Barrio @Nyama op. Kaartjies is teen N$200 by [email protected] of 081 700 9729 beskikbaar.

“Ek en my hele groep sal goeie musiek in 'n mooi tuin met heerlike kos en drankies speel.”
[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!