Die see speel pyporrel
Zadar, deel 2
Pedro Vorster - Op die noordwestelike kaai van die Kroatiese stad Zadar buikspreek die Adriatiese See orrelmusiek.
Hier druk die oseaan se deinings getywater saam in lugkamers onder lang piertrappe. Deur openinge in die trappe word die lug uitgeblaas en dan brom die see pyporrelklanke. Die pier is trapsgewys so gebou dat kamers van wisselende grootte ‘n diep sonorose bas met klokhelder klanke soos dié van ‘n hobo en dwarsfluit tussenin kreun.
Tydens ‘n storm, sê inwoners, hoor jy die see-orrel mishoring speel oraloor die ou eilandstad.
Die branders is klein met ons besoek. Die orrel speel sag, berouvol en dromerig. Besoekers luier op die trappe, sommiges aan die skryf, ander mediteer. Iewers sing ‘n groen walvis saam.
Die kompetisie is kwaai onder die Zadariete wat bootvaarte na die omringende eilande reël.
‘n Bejaarde grys omie in ‘n swart pet met ‘n Duitse vlag voorop beman sy eie seepkiskantoortjie op die kaai. Sonder veel onderhandeling bedien hy my met ‘n spesiale prys wat pas. Moet hom nie op sy pet takseer nie. Hy is Engels, Duits en Italiaans magtig. Ons spreek af om die volgende oggend te ontmoet en sal eers aan boord in Kuna kontant betaal.
Hy daag op ‘n verspotte klein bromponie op wat hy sy “Ferrari” noem. Die naam is nommerpas. Hy systap onverskrokke soos ‘n ervare sokkerspeler deur die stegieverkeer waar motors verbode is en sny kortpaaie deur die ou stad. Ons moet draf om by te bly. Al was ons gister in die smal straatjies, ontdek ons nuwe standbeelde, aangesigte en lyk baie gangetjies verrassend van voor af nuut. Die stad was tydens die Tweede Wêreldoorlog byna totaal verpletter en word sedertdien stuk-stuk herbou, maar restourasie is nog ver van klaar.
Die begin van die bootvaart word geolie met ‘n stywe dop Grappa of twee – nie almal se ontbyt nie. ‘n Paartjie vegetariërs tree beskeie na vore. Hul brekfisbroodjie is nie kuis nie. Dié word weggeneem vir die nodige suiwering in die skeepskombuis en weer na die boonste dek gebring. Almal tevrede.
Die bootjie klop-klop onderdeur die Zdrelac-motorbrug wat die eilande Ugljan en Kuklica met mekaar verbind. ‘n Rukkie later vaar ons op die diepsee verby kalksteen-eilande, groot en klein, beboom en kaal, bewoon en sonder siele. Ons bestemming vir die dag is die Telascka-natuurpark.
Op die veerbootjie ontdek ek ‘n Fransman. Hy is kort, energiek, vriendelik en het ’n digte, blonde weglêsnor. Asterix in lewende lywe, sonder helm en Obelix. Hy reken die natuurpark-restaurant se landgoedwitwyn, bedien met die vervelige middagete, was heel goed. Baie grootgeestig van hom.
In die natuurpark is ‘n soutseemeer en die indrukwekkende Dugi Otok-kranse. Dié staan sowat 161 m bo en 85 m onder water. Die see kalwe die wit kalksteenrotse uit om beskutte inhamme te vorm waar ‘n bedreigde rooi koraalspesie oorleef.
Ons wil in die see swem en word onverdiend beloon. Die rotse tot binne die water het verweer tot vlymskerp lemmetjies. Jou iewers nerfaf stamp is onvermydelik. Jy wonder of daar haaie in die baai is.
Voor ons weer op Zadar vasmeer, anker die boot vinnig by die eilanddorp Kukljica. Daar is net tyd vir ‘n roomys, Baklava en ‘n kort wandeling verby ‘n beskeie kerkie voor ons die see weer trotseer. Op die terugvaart staan die Dalmatiese bergreeks se sneeubedekte bergspitse skielik prominent op agter Zadar. Al eis die gevaarlike berge elke seisoen lewens bly die pieke aanloklik vir klimmers en skiërs.
‘n Pienk Engelsman en sy vroutjie het vroegoggend in die gratis wyn ingeklim. Sy staan nou statiger en sterker as haar plompe metgesel wat met die terugreis snorkend op die sondek gaan lê en sy bolyf salmrooi bak. Die herhalende Kroatiese volksmusiek aan boord, son en wiegende boot het saamgespan om hom na kammaland te sus.
Stadig, met simpatie, ontdooi ons eerste indrukke van die stad. Zadar is maar Zadar, ‘n stad wat besig is om te ontwaak en woel om weer stad te wees.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie