Die Simmentaler-beesras in kruisteelstelsels
Die Simmentaler-beesras in kruisteelstelsels

Die Simmentaler-beesras in kruisteelstelsels

Ronelle Rademeyer
Anette Theunissen en dr. Michiel Scholtz - Alhoewel daar somtyds genoegsame genetiese variasie binne ’n ras bestaan om die wins­gewendheid van inheemse Sanga-rasse, of die aanpasbaarheid van eksotiese beesrasse te verbeter, is dit meermale te duur en neem dit eenvoudig te lank om dié verandering binne ’n kudde tot stand te bring. Kruisteling daarenteen kan die genetiese variasie baie vinnig bewerkstellig. Benewens verhoogde insetkoste, word hierdie variasie veral benodig as gevolg van die nou bewese gevaar van aardverwarming, wat ’n veranderde omgewing gaan meebring. Dit het ’n impak op weiding, voerproduksie en die gehalte van voer, en veroorsaak ’n verandering in die verspreiding van dieresiektes, draerorganismes en parasiete. Dus bestaan daar direkte gevolge vir reproduksie en groei, asook die volhoubare winsgewendheid vir die produsent. Die groter wêreldwye bewustheid van die koolstofvoetspoor van rooivleis vereis ook ’n verhoging in die doeltreffendheid van produksie. Alhoewel bestuursingrypings sommige van die faktore kan teëwerk, sal aangepaste bees(geno) tipes eerder die oplossing wees.
Geneties is daar twee komponente van oorerwing in kruisgeteelde diere, naamlik komplemen­tariteit en heterose. Eersgenoemde is die wyse waarop twee of meer eienskappe in verskillende of dieselfde ras van diere kombineer of mekaar komplementeer. Heterose (basterkrag) is die bykomende genetiese effek wat die nageslag van diere van verskillende rasse toon. Beide hierdie genetiese effekte begin reeds by bevrugting en affekteer die diere lewenslank. Hierdie effekte is van ekonomiese belang en beïnvloed eienskappe soos vrugbaarheid, oorlewing, reproduksietempo, peri-natale vrektes, groeitempo, melk­produksie, langlewendheid, diere­gesond­heid soos interne parasiete, aantal bosluise en baie meer.
Inheemse Sanga-moederlyne is belangrik omdat hulle hoofsaaklik kleiner is en minder vreet. Hulle het goeie moederseienskappe, asook lae geboortegewig en vrektes van geboorte tot speen. Verder het die rasse uitstekende vleiskwaliteiteienskappe, maar die meerderheid van die rasse se totale vleisproduksie is laag. Kruisteling van Sangas met eksotiese rasse verhoog veral eienskappe met lae en medium oorerwing soos vrugbaarheid en groei.


Table 1: Heterose effekte op speentempo in koeie wat op Vaalharts-navorsingstasie (in 1988) met Bonsmara-bulle gepaar was





*Heterose hoeveelhede word in hakies gekwantifiseer


Vrugbaarheid
Navorsing by Vaalharts-navorsingstasie (tabel 1) toon dat suksesvol met Simmentaler-koeie in die omgewing geboer kan word. Simmentaler-koeie het die hoogste vrugbaarheid in die suiwer rasse gehad, maar Simmentaler-kruiskoeie het gemiddeld 10,4% meer kalwers gespeen vir die aantal koeie gepaar. Hiervan was die verhoging in speentempo gemiddeld 3,6% komplementêr van aard en 6,8% was as gevolg van heterose bydraes. Speentempo is ekonomies ’n omvattende eienskap aangesien dit die vrugbaarheid en peri-natale vrektes van rasse insluit. Terwyl daar waarskynlik geen heterose bydrae (-0.3%) van ½ Simmentaler x ½ Charolais-kruiskoeie tot speentempo is nie, was die verhoogde speentempo van Simmentaler x Afrikaner-kruiskoeie ook hoofsaaklik komplementêr van aard (4,9% raseffek teenoor 3,3% heterose effek vanaf die Simmentaler). Heterose effek het egter onderskeidelik 10,6% en 13,7% bydraes gelewer in die geval van die Simmentaler x Hereford en Simmentaler x Brahman-kruiskoeie wanneer hulle met Bonsmara-bulle gepaar was.
Die gemiddelde speentempo van Simmentaler x Afrikaner teruggekruisde en ander drieras-koeie (in tabel 2) het die aantal speenkalwers verder met 2,7% verhoog teenoor die tweeras-koeie (in tabel 1). Hiervan het die ½ Simmetaler x ¼ Brahman x ¼ Afrikaner-kruiskoeie die beste gevaar.


Tabel 2: Die gemiddelde speentempo in Simmentaler-teruggekruisde en ander drieras-koeie (wat met Bonsmara-bulle gepaar was).



Gewigseienskappe
Simmentaler-bulle se effek op gewigseienskappe word in tabel 3 aangedui. Dit blyk dat met die uitsondering van die ½ Simmentaler x (¼ Charolais x ¼ Afrikaner) kruistipe, bulle per se nie geboortegewig merkwaardig deur heterose verhoog nie. Simmentaler-bulle met lae inherente geboortegewig sal dus nie kalwingsprobleme veroorsaak nie. Simmentaler-koeie sal egter wel geboortegewig verhoog. Die bulle het wel ’n groot positiewe effek op speengewig, en dit kan selfs verhoog indien die moederlyn ook Simmentaler-bloed bevat. Die heterose effek van Simmentaler op speengewig is laer as by die Brahman, maar steeds baie gewens. Simmentaler-koeie het ook addisionele heterose effek op speengewig, maar die kruiskoeie het groter onderhoudsbehoeftes.


Tabel 3: Heterose-effek op gewigseienskappe


*S = Simmentaler; A = Afrikaner; B = Brahman; C = Charolais en H = Hereford
**Heterose hoeveelhede word in hakies gekwantifiseer
Die navorsing het getoon dat heterose effek op speengewig waarskynlik groter is in drierastipes van die Simmentaler en moet beslis saam met die effek op speentempo vir die hoogste ekonomiese voordeel benut word.
Alhoewel die genetiese resultaat nie heeltemal dieselfde sal wees nie, kan drierasgenotipes ook geteel word uit komposietbulle wat met suiwer koeie geteel word. Vandaar die waarde van Simbra- en Afrisim-bulle.
Die Bonsmara-moederlyn is by verre die grootste in die land en die vraag ontstaan dus onwillekeurig of die Simmentaler suksesvol as vaarlyn op dié koeiras gebruik kan word. ’n Vergelykende studie van die genetiese effek van bulle van verskillende rasse wat met Bonsmara-koeie gepaar is, dui in tabel 4 aan dat slegs kontinentale rasse komplementerend ten opsigte van speengewig sal wees. Die bulle se heterose bydraes was waarskynlik kleiner as dié van die Hereford en die Brahman. Laasgenoemde bulle het in die studie nie die vermoë gehad om speengewig komplementêr te verhoog nie, maar het wel die nodige heterose-effek gehad om dit wel te kon doen. Die gemiddelde heterose bydrae van die rasse tot speengewig was rondom 13,6 kg en alle gekruisde kalwers het weens verskillende genetiese redes by speen swaarder geweeg as die suiwer Bonsmara-kalwers.


Tabel 4: Komplementêre (ras-) effekte van verskillende suiwerrasbulle met Bonsmara-koeie (in 1988).


*Komplementêre (ras-) effekte word in hakies aangedui.


Ten slotte
Heterose gee toegevoegde waarde in kruisteelstelsels wanneer diere met goeie genetiese meriete in ekonomiese eienskappe met mekaar gepaar word. Hierin kan die Simmentaler-beesras ’n groot rol speel.
Bron: Simmentaler Joernaal 2014


*Anette Theunissen is verbonde aan die Noord-Kaap se departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling en prof. Michiel M. Scholtz aan die LNR se Instituut vir Diereproduksie en die Universiteit van die Vrystaat.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer