Die skadu van Hornkranz: Tussen massamoord en vryheid
Ian Liebenberg skryf:
Hornkranz lê 130 kilometer suidwes van Windhoek in die Khomas Hochland. Hierdie storie gaan ver, ver terug.
Die massamoord op Herero- en Namamense in die eertydse Duitswes-Afrika (later Suidwes-Afrika onder Suid-Afrikaanse beheer) is by verre aan die minderheid mense in Suid-Afrika bekend. Dat sewentig persent van die Hererovolk verdelg is in die Duits-Herero Oorlog (1904-1908) is dalk nog minder bekend.
Vandag sou ons dit volksmoord of "genocide" noem. In die naam van die Keiser van Duitsland het dit gebeur.
Die Nama-bevolking het ook rofweg twintig persent van hul mense verloor deur ‘n soortgelyke vernietigingsaksie. Koloniale heersers duld geen weerstand nie en die Vernietigingsbevel van toendertyd is ‘n konkrete bewys daarvan.
Dit is waar die skaduwee van Hornkranz inkom.
Die verhaal roep om weer vertel te word op die tyd waarin Suid-Afrika onlangs Vryheidsdag gevier het en Namibië die naweek Cassingadag gaan vier.
GISTER, VANDAG EN MÔRE. . .
Gister het met vandag en môre te doen. Van so ‘n sosiale en politieke werklikheidsbesef kan mens kwalik wegkom.
Vir sommige was Hornkranz ‘n “Slag”, vir andere ‘n “Slagting”.
Hendrik Witbooi en sy mense weier halstarrig om hulle te onderwerp aan die Keiserlike beheer vanuit Duitsland daar ver uit Europa op hulle afgeforseer. Op die oggend van 12 April 1893 net voor eerste lig, val die Duitsers gelei deur Kaptein Curt von Francois, Witbooi se staning by Hornkranz aan.
Vyf-en-tagtig Witbooimense word doodgeskiet. Vyf-en-sewentig van hulle is kinders, vrouens en ou mans. Een Duitse soldaat sterf. Witbooi se eie seun sterf ook in die “kontak”.
Ek en Andre du Pisani stap by Hornkranz oor die slag(tings)veld. Dis ‘n vreemde gewaarwording om van die witgekalkte plaashuis met sy klipkraal af te stap na die Gaubrivier en die skimme van destyds.
Ná meer as ‘n honderd en twingtig jaar is die toendertydse kerkgeboutjie net-net herkenbaar aan ‘n klompie rowwe stene. Later sou ons na die grafte van die slagoffers gaan kyk.
'N SKAAMTELOSE OPERASIE'
Piet van Rooyen gee uitstekende verheldering op Witbooi se terugkyk op die voorval in ‘n onlangse artikel.
In sy dagboek skryf Witbooi: “Kaptein von Francois het ons vroeg in die oggend aangeval . . . die kamp binnegeval en dit op so ‘n brutale manier verwoes dat ek nooit kon dink dat ‘n lid van die beskaafde Wit nasie (daartoe) in staat is nie – ‘n nasie wat die reëls en wyses van oorlogviering ken . . .”
Witbooi noem dat hy sy krygers uitgelei het aangesien die oormag te groot was. Hulle laat die vroue, kinders en ou mense agter - vas oortuig dat ongewapendes nie aangeval sou word nie.
Die aanvallers se beskaafde oorlogsreëls verval. Die Duitsers gaan vir die agtergeblewenes.
Witbooi se vertelling in ‘n brief bly behoue. “. . . klein kindertjies is aan hul moeders se bors doodgemaak (asook) ouer kinders en vroue en mans . . . Die liggame van van die mense wat doodgemaak is, is binne die grashutte verbrand . . . Verskriklik het Kaptein von Francois te werk gegaan . . . ‘n skaamtelose operasie.”
Dit was ‘n slagting eerder as ‘n slag.
Witbooi deel die Britse Magistraat in Walvisbaai in 'n skrywe mee: “Von Francois het gehandel soos mens van geen Witmens verwag nie.” Hy vra dat die storie rugbaar gemaak word in Brittanje en wyer, ‘n vroeë beroep op internasionale politieke bemiddeling.
Bitter min gebeur. In Suid-Afrika het ‘n koloniale mag ook sy kloue ingeslaan.
DIE VERLEDE EN DIE NOU
So ver terug as 1858 probeer die verskillende strydende groepe in wat nou Namibië is, tot ‘n vergelyk kom oor onderlinge struwelinge.
Die Vrede van Hoachanas word gesluit. Dit faal byna dadelik, maar by die terugkyk kan mens nie help om te dink: Was hierdie dalk die eerse tekens van ‘n hard gebeidelde wil om in dié harde land te oorleef deur samewerking? Was dit dalk die begin van toekomstige saamstaan en ‘n proto-nasiebou wat eers in Maart 1990 verwerklik sou word ná jare van bloedige stryd wat duisende se dood gekos het?
Dis ‘n vreemde gevoel van terugkyk en vorentoekyk as mens die grafte sien. Verskeie kopklippe staan daar. Nie almal nie; wind, weer en vloed het oor meer as honderd en twintig jaar sy tol geëis.
Waar ek sit vir ‘n foto besef mens dat jy heel moontlik op ‘n graf sit . . .
Die verlede praat met jou in die nou.
Andre sê: “Hier het die slagting begin”. Dit sou net erger word die jare vorentoe. Dit het die mense van Namibië ‘n honderd en sestig jaar gevat sedert die Vrede van Hoachanas, om ‘n juk af te werp wat deur die Duitsers aan die Unie van Suid-Afrika aangegee is en nog skerper sou sny tydens die era van hardkoppige apartheidsoorheersing met min van ‘n verstaan hoe lank dié stryd al aankom.
Die historiese tronke van Totale Aanslag en Rooi Gevaar sou die slagting oor grense laat spoel. Hierdie was ‘n gevaarlike pluimsaad. Dinge sou gebeur soos invalle in Angola, operasies soos Reindeer, vandag nog omstrede – daarom dat die Namibiërs dit gedenk as Cassingadag.
“It was not a nice day . . .”
'n VLIETENDE BRIL
Hoewel jare uitmekaar, kan mens dalk vergelykings tref met die Verdrag van Hoachanas hoe broos ook al en die Uniewording in Suid-Afrika - en per dalks met die onderhandelinge in die 1990'ers in Kempton Park, Suid-Afrika. In menswees, politiek, en verlore lewens opgeloop, verknoop verlede, hede en toekoms.
Dit kan nie anders nie – die mens is ‘n denkende wese en dit verg ‘n vlietende bril soos Hornkranz om mens aan die dink te sit.
Hoe het dit gekom dat Namibiërs van vele groepe ‘n vreedame land ondanks dramatiese uitdagings geskep het? En so tussen Hornkranz en nou; is daar dalk lesse vir ons hier?
* Liebenberg is verbonde aan die Fakulteit Krygskunde van die Universiteit Stellenbosch en die Suid-Afrikaanse Militêre Akademie (Sama). Hy het die afgelope twee weke klas gegee by die Universiteit van Namibië.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie