Die skande van sekuriteit in Namibië
'n Nuwe ooreenkoms oor werksomstandighede is tussen werkgewers en vakbonde gesluit, hoewel nog nie in die Staatskoerant gepubliseer nie.
Augetto Graig - Wat is die waarde van veiligheid en sekuriteit?
Hoeveel sou 'n mens betaal om snags rustig te slaap, met die wete wrede misdadigers sal nie in die donker ure aanval nie?
In Windhoek kos dit maklik tussen N$200 tot N$350 om 'n wag vir 'n 12 uur-aandskof te huur, maar hoeveel van daardie bedrag uiteindelik in die wag se sak beland, wissel geweldig.
Twee jong dames klim om 06:45 van 'n bakkie af. Tevergeefs soek hulle na hul poste en gaan staan maar voor die hekke van die woonstelblok. Laurensia Shatipambwa* (36) en Erica Lukas* (31) ken mekaar net drie maande vandat hulle as sekuriteitswagte by 'n maatskappy aangestel is. Hulle is geklee in swart broeke en wit hemde. Dit is al uniform wat later teen die reën of koue moet help. Sonder knuppel of enige ander vorm van beskerming word ook van hulle verwag om per selfoon die kantoor te kontak tydens 'n voorval wat sterker ondersteuning mag vereis.
Shatipambwa is van die Oshanastreek.
Sy het haar drie kinders by haar ma gelos voordat sy Windhoek toe getrek het op soek na werk. Geld is bitter skaars. Sy sê sy is gelukkig om darem iets te kan verdien, al kon sy nog niks van die N$900 van haar maandelikse inkomste huis toe stuur nie.
Lukas het 'n soortgelyke probleem.
Haar ouers wat buite Otavi woon, is van haar afhanklik vir brood op die tafel.
Teen 12:30 sit die twee sente bymekaar om 'n porsie slaptjips en 'n koeldrank te koop. Hulle geniet middagete op die sypaadjie voor die hoë mure van die kompleks wat hulle oppas.
Om 19:00 tel die bakkie hulle weer op, sonder dat 'n woord met die inwoners van die woonstelle gewissel is of hulle selfs by die hekke in was.
Vir Emilia Seke* (39) is dinge nie veel beter nie.
Ná vyf maande raak sy gewoond aan die lang aandskofte van 12 uur, maar sê sy mis haar seuntjies van 5 en 12 jaar oud, omdat sy ook op haar afdae byna die hele dag om slaap. Haar skof begin soms 17:00, soms 18:00 en strek deur die nag, totdat die werksbakkie haar weer tussen 06:00 en 07:00 kom optel.
“Ek werk, maar die loon is baie min,” sê sy. Sy verdien N$2 000 per maand, waarvan N$800 vir haar uniform en vervoer afgetrek word. Selfoonkrediet moet sy ook self koop, anders is daar geen kans op hulp as dinge skeefloop nie. Tot dusver was daar nog geen gewelddadige voorvalle nie, en Seke plaas haar vertroue op die kannetjie traangas aan haar heup, 'n knuppel en haar voete om mee weg te hardloop as boewe te wreedaardig begin raak.
MINISTERIE VAN ARBEID
Die verhale is tipies dié van tussen 15 000 en 17 000 Namibiërs wat daagliks vir die land se groeiende sekuriteitsdienste werk.
Volgens die permanente sekretaris van arbeid, nywerheidsbetrekkinge en werkskepping, mnr. Bro-Matthew Shinguadja, is tot dusver geen volledige opname gedoen om die presiese getal sekuriteitswagte landwyd vas te stel nie.
Sy ministerie is verantwoordelik vir die afdwing van die landswette met betrekking tot werksomstandighede in die bedryf. Vanweë van 'n ooreenkoms tussen die werkgewersorganisasie, die Sekuriteitsvereniging van Namibië (SAN), en verskeie vakbonde wat wagte verteenwoordig, het die regering in 2014 'n nasionale minimum loon vir sekuriteitswagte aan alle maatskappye in die bedryf voorgeskryf.
Volgens Shinguadja is die loonbedrag outomaties in 2015 aangepas, maar verlede jaar se onderhandelinge het erg gesloer.
Alhoewel 'n nuwe ooreenkoms bereik is, kon die ministerie nog nie reëls in die Staatskoerant publiseer of dit afdwing op al die ondernemings in die bedryf nie.
“Die nuwe ooreenkoms oor minimum lone vir sekuriteitswagte is nog nie in die Staatskoerant gepubliseer nie,” sê Shinguadja. “Voor dit gedoen kan word, is daar 'n proses waardeur die betrokke partye na die ooreenkoms formeel en volgens die prosedure van die arbeidswet aansoek by die ministerie moet doen. Die ministerie het nog geen aansoek van enige party ontvang nie,” sê hy.
Volgens die nuwe ooreenkoms sal 'n eerstevlakwag ten minste N$8,75 per uur verdien; aansienlik meer as die N$6,75 tot N$7 wat hulle nou moet verdien. Vanaf Julie vanjaar sal wagte wat meer as 'n jaar vir dieselfde sekuriteitsmaatskappy werk, verwag om ten minste N$10 per uur te verdien, mits die ooreenkoms voor dan wettig word.
Ander standaarde met betrekking tot werksomstandighede ooreengekom, sluit in die verskaffing van uniforms en die aanvaarbare proses vir geskilresolusie. Kwessies van behuising, vervoer en mediese versekering word nog bespreek, sê Shinguadja.
Maar, sê hy, dit is nie nodig om te wag totdat die ooreenkoms in die Staatskoerant verskyn voordat maatskappye dit in die bedryf kan toepas nie. Hy sê die publikasie daarvan verseker bloot dat die inhoud van die ooreenkoms op alle sekuriteitsmaatskappye van toepassing is, en intussen kan SAN-lede daarmee voortgaan.
Shinguadja doen 'n beroep op samewerking en toegeeflikheid van maatskappye.
“Daar is verskeie uitdagings met die handhawing van reëls in die bedryf,” sê hy. “Sommige maatskappye wil nog steeds nie voldoen aan die minimum loon waarop ooreengekom is nie. Van hulle misbruik die tekort aan arbeidinspeksies en swak of afgewesige vakbonde, asook tekort aan kennis van hul regte en die vrees van afdanking tussen wagte. Ander sê hulle verskaf dienste aan klein besighede en mense wat nie genoeg kan betaal om te verseker wagte kry hul minimum loon nie,” sê Shinguadja.
MINIMUM LOON
Een voorval waaroor Republikein se susterskoerant Namibian Sunin in berig het, betrek Superior Security Services, 'n sekuriteitsmaatskappy wat ten minste tot Oktober 2016 nog hul wagte slegs N$3,80 per uur betaal het. Die eienaar, mnr. Andreas Haingura Karupu, het toe ook kliënte die skuld gegee en gesê hulle weier om genoeg te betaal sodat hy sy wagte behoorlik kan vergoed.
Op een van sy wagte se betaalstrokie vir Oktober 2016 word aangedui Superior Security Services het N$850 betaal vir 220 ure se werk, waarvan 55 ure oortyd was. Daarvan was nog N$200 vir vervoer en kos afgetrek. Daar was toe sprake van klagte wat teen Karupu en sy maatskappy by die arbeidskommissaris aanhangig gemaak is, maar tot dusver is daar geen nuus van vordering met die saak nie.
Shinguadja sê arbeidsinspekteurs van die ministerie word nie aan spesifieke sektore toegewys nie. “Werksplekke of sektore word geïnspekteer volgens 'n jaarlikse plan van aksie, op 'n reaktiewe optrede of deur verrassingsinspeksies soos die situasie dit vereis,” het hy gesê.
Hy sê gevolge vir maatskappye wat skuldig bevind word aan minagting van die reëls, sluit in klagte van onregverdige arbeidspraktyke, 'n verpligting om te betaal of die kansellering van tenders en kontrakte.
SEKURITEITSRAAD NODIG
Volgens mnr. Dries Kannemeyer, president van SAN en die uitvoerende direkteur van dei sekuriteitsmaatskappye G4S, is die gevolge vir lede van die werkgewersorganisasie wat nie voldoen aan die reëls nie, van dieselfde aard. “SAN-lede wat nie die ooreenkoms nakom nie, kan nie langer lede bly nie en daar sal ‘n geskil teen iedere en elke maatskappy by die ministerie van arbeid verklaar word wat nie die minimum loon betaal nie.
“Voordele is ook daar vir maatskappye wat aan die reëls voldoen, soos die vereistes van regeringtenders vir sekuriteitsdienste wat aandring dat dit slegs toegeken word aan maatskappye wat hieraan voldoen,” het Shinguadja gesê. “Niemand, hetsy privaat of in die regering, word toegelaat om maatskappye aan te stel wat nie voldoen aan enige van Namibië se wette nie, insluitend die minimum loon soos in die Staatskoerant aangedui,” sê hy.
"Die grootste voordeel vir ons lede én ander is die speelveld wat nou vir almal gelyk is en gesonde mededinging wat kan plaasvind.”
Hy sê die grootste probleem is die bedryf wat nie gereguleer is nie. "Enige iemand kan 'n sekuriteitsmaatskappy begin, aangesien daar geen reëls is waaraan voldoen moet word nie.” Kannemeyer meen 'n sekuriteitsraad moet aangestel word en elke sekuriteitsmaatskappy en -wag moet daarby registreer word. Die minister van veiligheid en sekuriteit moet die regulasies onderteken en dit moet gepolisieer word, voordat dinge kan verbeter, sê hy.
Volgens die permanente sekretaris van arbeid ontwikkel die sekuriteitsbedryf in Namibië vinniger as gevolg van verskeie faktore, wat insluit dat dit maklik is om 'n sekuriteitsmaatskappy met 'n paar mense sonder enige opleiding, kwalifikasies of wapens te begin.
Shinguadja sê: “Dit is 'n baie belangrike sektor, maar dit is ook 'n risiko vir beide die staat en die samelewing as dit nie goed beheer word nie. Werknemers in die sektor word die meeste uitgebuit, mishandel en bly arm. Hulle is wat internasionaal genoem word die 'werkende armes'. Die sektor moet streng gereguleer word voor dit relevant tot die ekonomiese ontwikkeling van die land en maatskaplike groei van sy werknemers kan wees.”
(*Name verander om werknemers te beskerm.)

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie