Die Skoonheid van skep
Te danke aan 'n hervestigingsplaas by Gobabis het een van die San-vroue daar, wat nie kan lees of skryf nie, selfs vir die eerste keer ooit na Amerika gereis.
In die skadu van 'n groot ou boom op die plaas Skoonheid in die Gobabis-omgewing sit 'n klein San-vroutjie en werk aan haar nuutste armband. Dié armband is bestem vir die oorsese mark. Langs haar sit haar dogtertjie en hou haar ma met groot oë dop.
Me. Eveline Rooinasie is maar een van sowat 50 vroue wat deel is van die San Alive Clinic Crafts-projek. Die projek is in 2003 deur dr. Hélène de Kok op dié hervestigingsplaas begin sodat die San-vroue 'n inkomste vir hulself kan genereer.
KLEIN BEGIN
“Ek het met 'n kliniek op die plaas begin en die vroue en hul kinders het onder die bome gesit en vir my gewag. Die armoede was groot omdat daar nie werk op Skoonheid is nie. Die kinders het loopneuse gehad en was taamlik verwaarloos. Dit is waar die idee van 'n projek wat vir hulle 'n inkomste sal voortbring, begin het,” het De Kok gesê.
Sy het met vier vroue begin en vandag word die handgemaakte armbande, halssnoere, plekmatjies, selfoonhouers en ander artikels in Duitsland, Amerika en Skandinawië verkoop.
Me. Meikie Jakob is een van die vroue wat baie betrokke by die projek is.
“Ek is baie bly dat ek deel van die projek kan wees. Dit gee vir my die versekering van 'n inkomste en daarsonder sou my kinders nie kos hê nie,” het sy gesê.
Die vroue verdien gemiddeld tussen N$320 en N$350 per maand vir hul werk, afhangende van hoeveel hulle produseer. Jakob verdien gemiddeld tussen N$600 en N$700 per maand omdat sy meer produseer.
Dit is geld wat gebruik word om hul families te onderhou en word hoofsaaklik aan kos bestee. Die vroue maak hul eie en hul kinders se klere en bly verniet op Skoonheid.
MEER DOPPIES, MEER GELD
“Die vroue word vir elke item wat hulle maak, onmiddellik betaal. As hulle ander werk doen, soos byvoorbeeld volstruiseierdoppies maak, word hulle meer betaal,” het De Kok gesê.
Die items wat hulle maak, word deur die Omba-galery in Windhoek verkoop. Omba koop ook hul “doppies”.
Dít is sirkels van verskillende groottes wat uit volstruiseierdoppe gesny word.
Met 'n handgemaakte werktuig word dan in die middel 'n klein gaatjie geboor. Die werktuig is 'n lang stokkie met 'n dun ysterpunt. Die stokke word tussen twee handpalms vinnig heen en weer gerol om die gaatjie in die middel van die sirkel te maak. Die doppies word in amper al die tradisionele handgemaakte San-kunswerke gebruik.
“Daar word ekstra betaal vir die maak van die doppies omdat dit meer werk is,” het De Kok gesê.
Die vroue word ook ekstra betaal as hulle plekmatjies met rosyntjiebosstokkies maak. Die plekmatjies word veral deur lodges in Namibië bestel en gekoop.
Omba-galery en De Kok hou 'n oog op die mark en ontwerp en ontwikkel voortdurend nuwe idees daarvolgens.
“In 'n stadium was gewigte wat mens aan 'n tafeldoek se hoeke vasmaak baie gewild. Ons het ou medisynebottels met sand gevul en die vroue het dit met krale versier. Maar dit verkoop nou nie meer nie. Ons moet dus gedurig nuwe goed ontwerp. Ons is juis tans besig met 'n reeks halssnoere en bypassende armbande wat spesifiek vir die Amerikaanse mark ontwerp is,” het De Kok gesê.
VROUE ONTWERP SELF
Wanneer 'n ontwerp baie ingewikkeld is, lei Omba-galery die San-vroue wat belangstel op om dit te maak. Hoe ingewikkelder die ontwerp, hoe meer geld verdien die vroue daarvoor. Die vroue ontwerp ook self gedurig nuwe produkte.
“Meikie is een van die vroue wat altyd gretig is om 'n nuwe ontwerp te leer maak. Dit is nog 'n rede waarom sy meer geld as die ander vroue verdien,” het De Kok gesê.
“Volstruisdopkuns is in ons bloed in. Dit is iets wat ons oumas al gedoen het. Ek is so trots daarop dat my skeppings deur vroue in ander lande in die wêreld gedra word,” het Jakob gesê.
Volgens De Kok is die vroue baie kunstig, maar omdat die meeste van hulle ongeletterd is, kan hulle nie hul items self bemark nie.
REIS NA SANTA FE
Dít is waarom me. Anna Jors na 'n internasionale handwerkskou, die International Folk Art Market, in Santa Fe in Nieu-Mexiko gestuur is.
“Anna kan nie Engels praat nie. Sy het ook nog nooit gevlieg of Namibië verlaat nie. Sy moet vyf verskillende vliegtuie gebruik om by haar bestemming in Santa Fe uit te kom,” het De Kok gesê.
Sy het vir Jors 'n lêer gemaak met al haar reisplanne en haar aangesê om dit mooi op te pas.
“Jy moet op die lêer slaap en dit met jou lewe verdedig,” het sy vir Jors gesê.
Op die eerste bladsy van die lêer staan: “My naam is Anna Jors. Ek kan nie Engels praat nie. Ek kan nie lees of skryf nie.”
Die besonderhede en doel van haar reis word dan uiteengesit en onderaan staan:“Help my, asseblief.”
Jors het met haar lêer onder die arm haar reis by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako begin.
“Ek was baie bang toe ek op die vliegtuig geklim het. Mense het my bang gemaak. Hulle het vir my gesê die ding gaan uit die lug val en ek sal nie terugkom nie,” het Jors gesê.
Maar die vliegtuig hét nie geval nie en Jors het veilig in Santa Fe aangekom ná twee dae se reis.
'I LIKE MERICA'
Met haar aankoms het me. Karin le Roux, direkteur van die Omba Crafts Centre in Windhoek, vir Jors bygestaan en ook vir dié vroue wat moes agterbly, foto's van haar gestuur.
“Haar familie het my gebel en gevra of Anna dan steeds in die lug is, omdat hulle niks van haar hoor nie. 'n Dag later het ek 'n foto van Anna gekry waar sy op 'n groot bed in haar hotelkamer lê en glimlag. Ons was baie verlig en bly om te sien Anna het veilig daar aangekom,” het De Kok gesê.
Met haar terugkoms het Jors vir De Kok by die lughawe begroet met 'n: “I like Merica.”
“Ek het die aandag van die mense daar baie geniet. Ek het my tradisionele San-klere aangehad en daar gesit en werk. Baie mense het na die stalletjie toe gekom en vir my gekyk,” het Jors vertel.
'OUES MOET OOK DANS'
Sy sê sy het die geleentheid om van ander mense te leer met beide hande aangegryp en sy wil nou haar ervaringe met die ander vroue op Skoonheid deel.
“Die een ding wat baie vir my uitgestaan het, is die mense wat so dans. Die oumense dans saam met die jongmense. Ouma en oupa, almal dans saam. Hier by ons dans die oumense nie. Hulle sê net altyd dit is iets wat die jeug doen. Maar almal kan saam dans en dit saam geniet,” het Jors gesê.
Volgens haar was die kos wat sy in Santa Fe gekry het 'n bietjie vreemd.
“Hulle eet te veel groente. Hulle eet net groente. Ek is dit nie gewoond nie en het my vleis baie verlang,” het Jors gesê.
KURSUSSE
De Kok probeer die vroue voortdurend bemagtig deur vir hulle verskillende kursusse aan te bied. Ná die suksesvolle voltooiing van elke kursus kry die vroue 'n sertifikaat. Woman at Work het onlangs 'n naaldwerkkursus vir agt van die vroue aangebied.
“Ons het twee naaimasjiene gekoop en nóg gehuur sodat elke deelnemer aan die kursus op haar eie masjien kon werk,” het De Kok gesê.
Me. Willemina Gamta was een van die vroue wat die naaldwerkkursus voltooi het.
“My droom is dat die projek vorentoe gaan, want ek wil vorentoe gaan. Sodra ek my kralewerk klaar gedoen het vir die dag, maak ek klere met die hand. Ek moet besig bly, want net só gaan my lewe verander,” het Gamta gesê.
Die vroue maak al hul eie en hul kinders se klere met die hand en nou hoop hulle om klere met die naaimasjiene ook te maak.
“Dit is vir my baie lekker om al die kursusse by te woon en om nuwe goed te leer. Nou moet ons lappe kry en dan kan ons begin om klere vir ander mense in die omgewing te maak en te verkoop. Ons kan ook ander vroue oplei,” het Jakob gesê.
LEWE Ná SKOONHEID
Vier vroue is Windhoek toe gestuur om 'n basiese rekenaarkursus by Namcol te doen. 'n Basiese oppasserkursus is ook aangebied vir dié vroue wat belang gestel het.
“Die idee met al die kursusse is dat die vroue so veel as moontlik leer sodat hulle van Skoonheid af kan aanbeweeg en formele werk elders kan soek. Daar is sowat 1 000 inwoners op die plaas en daar is geen werk nie. So ons wil die vroue wat belang stel die geleentheid bied om elders werk te kry om 'n beter lewe vir hulself en hul kinders te kan gee,” het De Kok gesê.
Volgens De Kok word 'n gasvryheidskursus vroeg volgende jaar in Windhoek aangebied.
“Ek sal graag twee vroue soontoe wil stuur, want dan kan hulle op 'n lodge of gasteplaas gaan werk, maar die verblyf in Windhoek vir ses weke is 'n groot probleem,” het sy gesê.
Die San Alive Clinic Crafts-projek se hoofdoel is om armoede te verlig, om kinders op te voed, om gesondheidsbewustheid te kweek, siektes te bestuur en om vroue met die vaardighede toe te rus om hulself op te hef.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie