Die slang en ek
ETTEBAB SKRYF:
Saterdagaand gaan slaap my hondjies en ek soos gewoonlik. Nog ’n dag verby, maar môre is nog ’n dag!
Moenie egter nie vergeet nie: “môre” begin net na middernag. So 03:15 word ek wakker. Ek staan op en sien danksy ’n dowwe naglig wat aan gelos word, lê iets wat lyk soos ’n langerige tou – een gedeelte nog op die vlak van die sitkamer en ’n gedeelte in die laerliggende portaal wat na die slaapkamers lei.
Die honde het nie ’n speeltou nie.
Penflitslig in die hand om nog beter te kan sien, tree ek nader. Nes ek gedink het - dis ’n slang!
Onmiddellik word die kamerdeur toegemaak sodat die hondjies nie betrokke raak nie en veilig is. Dis die heel belangrikste.
Dank die hemele dis nie ’n grys slang nie, want dan beteken dit swart mamba. Genadiglik is dit ’n gelerige bruin (of is dit bruin gelerige?), rustige slang.
Volgende keuse: Is dit ’n kobra of maar net ’n huisslang?
Ek skyn die lig reg in sy oog. Die kop trek nie bak nie en die slang is nie dikkerig nie, dus is dit hopelik ook nie ’n kobra nie.
Die slang trek hom/haar op ’n bondel, die posisie om te kan uitskiet en pik.
Ek is die badkamer in en gryp die plastiekemmer uit die stort (ons moet mos water uitdra, onthou?). Ek skiet, hopelik, soos blits by die slang verby en skyn nog steeds die lig reg in sy/haar oë. Ek plak die emmer van agter oor die slang neer en gryp die naaste swaar ding om bo-op die emmer te sit.
Nou om vir Francois, die slangvanger, halfvier in die oggend wakker te lui. Hy is buite Windhoek op ’n plaas.
Op die ou end, met ander hulp, wat twee onkundige mense bymekaar voeg wat slange betref, het ons ’n dun stuk “hardboard” onder die emmer ingewikkel, dit styf vasgedruk en die emmer omgedraai. Die “hardboard” is te groot om bo-op te hou, die emmer se deksel moet op.
Teen vieruur Sondagoggend word die slang weer in die veld losgelaat. Nee, nie doodgemaak nie. En ek spuit “snake repellent” by die agterdeur waar die klein "doggy door" is dat dit hop. Te veel adrenalien pomp, slaap is nie ’n opsie nie.
Eers toe die hemel blou word, dop ek om, net om net na 07:00 deur die hondjies herinner te word dis opstaantyd.
Later, toe die son behoorlik skyn, kry ek ’n oproep van Francois. Op die ou einde kom ons ooreen die slang het seker net water kom soek.
GENADEWATER
Honde se waterbakke wat buite is en klein waterfonteintjies is genadewater vir diere wat van die natuur afhanklik is – iets waaraan ons min dink. Ek het nooit gedink slange word ook dors nie. Ek moes dadelik op die Internet gaan kyk hoe slange water drink.
Gaan staan buite, kyk na die droë geel gras, kyk na die dorre grond en dink dan vir jouself waar moet skilpadjies, meerkatte, slange, akkedisse en ander diere water kry as dit so droog is. Dan besef jy hoe min ’n ander wese se lewe sonder kos en water in jou gedagtes opkom. Hoe min jy omgee.
Het jy al gesien hoe rooi perdebye en heuningbye water kom drink op die klippe of plaveisel? Hoeveel heuningbye het jy al hierdie jaar gesien? Hoeveel skoenlappers? Suikerbekkies soek na blomme vir nektar, maar waar is die blomme?
Ek het ‘n Honeysuckle gaan koop en in ’n pot geplant. Ek het kosmosse en stink afrikanertjies om potplante in die potte geplant.
ONKRUID
Iemand het my verlede reënseisoen gevra hoekom ek nie die onkruid in my werf uittrek nie. Nee, want dit is groen.
Ons het nie meer tuine nie en enigiets wat meer lewe kan gee, wat die kaalheid groen laat lyk, is ’n geskenk.
Wat is “onkruid” werklik? Niks anders as natuurlik plante wat nie in ons mensgemaakte tuine welkom is nie.
Dan besef jy (hopelik) hoekom jy daar is. Jy is daar as die Skepper se bewaarder/oppasser van Sy skepping.
Net daar het ek eers alles gelos en vir die voëltjies saad gaan gooi. Nou weet ek wat die rooikopparkiete wat deesdae so baie hier is en so fluit en raas wil hê: "Net ’n bietjie sonneblomsaad, mens, is al wat ons vra." En dan is daar die ander voëltjies wat ook saam vra vir ietsie om te eet. ’n Bietjie broodkrummeltjies is nie te veel gevra nie, is dit?
Voordat iemand my wil herinner mense is belangrik, wil ek sê nee - almal is belangrik in die skepping. Mense het stemme en hande om hulself te help, diere het nie.
Net môre gaan ek die veld oorkant my huis instap en kyk waar ek vir die diertjies in die veld ’n bak water kan neersit, waar niemand dit sal verwyder nie, waar ek dit gereeld kan volmaak. Ek hoop hulle ontdek die water.
En wanneer ek inkopies gaan doen, is daar ook voëlsaad op my lys, ook sonneblomsaad.
Dankie, slang, dat jy na my toe gekom het sodat ek kan besef my hulp is nodig. Al moes jy dit op die mees onmoontlike uur doen, al weet jy jy is min mense se gunsteling dier.
En veral groot dankie dat jy nie ’n mamba was nie.
Daar kan kommunikasie in plaas van konfrontasie tussen mens en dier in die natuur wees.
(Aangeheg is ’n foto van ’n kobra wat in Indië water gegee word tydens droogte. Ek het dit op die Internet gevind.)

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie