Die smart nu00e1 die storm
Die smart nu00e1 die storm

Die smart ná die storm

Altesaam 88 mense is in die buurland dood weens vloede in drie provinsies.
Julian Jansen – Philisiwe Zama is Dinsdagoggend, nadat ongekende swaar reënneerslae Durban getref het, onder modder, ’n omgeslane muur en asbesplaat gevind, bukkend, asof sy gebid het, albei haar arms beskermend om haar vyfjarige seun, Sethu, se lewelose lyf.

Die lyke van die 40-jarige ma en haar seun van Chatsworth in die eThekwini-munisipaliteit is met die eerste lig saam met nog ses ander op ’n skoolterrein hier gevind.

Die Zamas en twee ander gesinne het saam in ’n opsigterhuis by die Westcliff Secondary School gewoon.

Bo die huis het die hoë grondwal van die sokkerveld getoring.

Toe die reën Maandagnag begin uitsak op hierdie buurt, waar huise knap teen mekaar teen steiltes ingeryg is, het modder die opsigterhuis begrawe.

Pastoor Jonathan Naidoo van die AFM Miracle Tabernacle in Chatsworth het aan Rapport vertel hoe reddingswerkers, die polisie en eintlik “die hele Chatsworth” Dinsdagoggend geswoeg het om die tien inwoners uit ’n moddergraf te probeer red.

“Ons het oor die maande ’n helpende hand uitgereik na die inwoners van daardie huis, maar Dinsdag moes ons hande uitsteek om hul lyke uit die modder te trek,” sêNaidoo, terwyl hy ’n ogie gooi oor die aflaai van noodvoorraad vir vloedslagoffers.

’n Klipgooi ver sit Zama se sibbe, Lindani Zama en Mnelisi Magwaza, verdwaas.

Haar woning is nou ’n rommel- en modderhoop. Hier lê ruikers. Daar is agt houtkruise geplant.

Eenkant wag vriende van Rajab Juma (22) van Malawi dat sy begrafnis kan begin. Hy was ’n Moslem, wie se geloof vereis dat ’n begrafnis binne ’n dag al gebeur.

Magwaza sê Maandag het dit “baie, báie hard gereën”. “Mense het my gebel: ‘Gaan kyk, jou mense is onder die modder!’ Ek het mense en babas hoor skreeu . . . Die reddingswerkers het my gekeer, want selfs húlle was versigtig om in die stikdonker en swaar reën te help. Jy voel die pyn, want jy kon niks doen nie.”

Magwaza sê Naidoo se kerk huisves hulle elke dag en gee hulle kos ook. “Pres. Cyril Ramaphosa was ook hier. Hy het belowe dat hy gaan help, so ons wag maar.”

***

In Rockviewstraat, Amanzimtoti, kyk die oud-Vrystater Johan Fourie Vrydag hoe ’n reusehyskraan sy wit Mercedes SLK en rooi Hyundai uit ’n reusesinkgat haal.

Met Maandagnag se stortvloed het “driekwart” van sy huurhuis, die jacuzzi, sy kleinseun Tiaan (17) se motorfiets, die bure se swembad, die tuin, “allés”, in daardie gat in verdwyn.

Fourie rook die een Pall Mall ná die ander, stap op en af.

Die vorige nag het diewe oorblywende waardevolle besittings van hom en sy vrou, Lianna, uit sy “kwart”-huis en uit die sinkgat gestroop.

“Nou is my hele lewe weg, skilderye, foto’s, ’n sentimentele wynkraffie, jare se versamelgoed, Lianna se onvervangbare Delft-breekware, ek praat nie van daai China-twak nie. Alles wat oor was in ons lewe gevat!

“En dit vang my vandag rêrig ordentlik.”

’n Stormwaterpyp loop sowat 30 m van sy huis deur ’n serwituut trapsgewys na die see daaronder.

Volgens Fourie het hier al voorheen ’n sinkgat ingeval, wat opgevul is. Bure en omstanders wat die skade Vrydag gadegeslaan het, beaam Fourie se storie dat die eThekwini-munisipaliteit al lank weet van die water wat ná buie hier by die drein in die pad opdam.

Volgens Fourie het die water dan ook so kniehoogte in sy motorhuis opgedam. Hieroor was hy sedert November “al vier dae by die munisipaliteit”.

Fourie het Maandagaand te midde van die gietende reën ’n “verskriklike slag” in sy huis gehoor.

Hy het by die venster uitgeloer. Daar was “een reusegat!”

’n Groot kraak het in die vloer van sy kroeg verskyn. Net toe hy daaroor spring, verskyn ’n reusegat en sluk daardie deel van die vloer in.

Omstreeks 01:45 Dinsdagoggend het die gesin en hul twee honde, die worshond Caeser en Rot, ’n chihuahua, straat toe gevlug op ’n smal tuinpaadjie wat agter hulle ingeval het soos hulle hardloop, “net soos in ’n horror movie”, sê Fourie, en haal nog ’n sigaret uit.

***

Teen Saterdag was die sterftesyfer weens twee weke se swaar reën oor KwaZulu-Natal 81.

Rampspoed het die provinsie vir die eerste keer op die nag van 18 April getref, toe ’n muur by ’n Pinksterkerk naby Empangeni tydens swaar reën meegegee en op slapende pelgrims geval het. 13 mense – 12 vroue en ’n 10-jarige seun – is dood.

Maandag het die hemele se sluise weer oopgemaak.

Lennox Mabaso, woordvoerder van die KwaZulu-Natalse departement van samewerkende regering en tradisionele sake, het gister aan Rapport gesê reddingspanne het Vrydag nog ’n liggaam aan die Suidkus gevind.

Altesame 68 mense het dus in vyf dae daar verdrink of versmoor.

“Ons maak ons ook gereed vir baie begrafnisse in die komende week,” sê Mabaso.

Die provinsiale LUR vir gesondheid, dr. Sibongiseni Dhlomo, het die families van slagoffers aangemoedig om hul liggame van geliefdes by lykshuise te gaan uitken.

Die eThekwini-munisipaliteit het teen druktyd nog nie op navrae gereageer nie.

*Gered: Khumbani Lembede van Mandelapark in Mariannhill naby Pinetown se vrou, vier kinders en motor het weggespoel. Hulle is almal in veiligheid gebring.

* Gered: Getty Thabethe (59) van Mariannhill se lyk is gevind ’n dag nadat ’n paneelwa in ’n vloedstroom haar en twee ander vroue getref en meegesleur het. Die twee ander vroue is gered.

* Dood: Die bejaarde Wendy Conde van Shelly Beach naby Margate se lyk is Woensdag in haar weggespoelde Ford Fiesta langs die N2 in Umtentweni gevind.

* Dood: Asiphe Buso (11) van die Alfred Nzo-distrik naby Kokstad in die Oos-Kaap het Woensdag tuis gebly weens die swaar reën, maar het later verdrink toe sy vir ’n takie gestuur is. Nog twee onbekende mense het daar verdrink. Twee gr. 6-leerlinge, Yanga Solubambo en Aseza Mngcilo, het in die O.R. Tambo-distrik naby Mthatha verdrink.

* Dood: In die Vrystaat het ’n 65-jarige man in Welkom en die 45-jarige Isak Mahane op die plaas Winkelspruit naby Ventersburg in vloedwater verdrink.

* 88: Die getal sterftes weens vloede in die drie provinsies tussen 18 April en Saterdag. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!