Die sondes van die sibbes
Die sondes van die sibbes

Die sondes van die sibbes

Gerine Hoff
Nou die dag moes ek een van die spruite dokter toe vat en natuurlik wil die kleintjie nie by die huis bly terwyl ouboet by “oom dokter” aandag kry nie.

Soos dit maar gewoonlik die geval is as albei kinders saam iewers heen gaan, kan hulle mekaar nie uitlos nie en het hulle hulleself weer op hul beste swakste gedra.

Wat is dit met sibbe dat hulle ure lank heerlik met mekaar kan speel – ja, selfs stout streke uithaal – en minute daarna mekaar die harnas injaag?

Op die spesifieke dag gaan die tweetjies só te kere dat ek later nie meer weet waar om my kop weg te steek nie, want hulle luister eenvoudig glad nie na my nie. Die arme dokter skud net sy kop.

Dis mos sulke tye wanneer ander mense wonder waar is die stout ­kinders se ma, en jy heel verleë moet erken hulle is joune.

Vroeër die week deel ek my vreeslike dokterbesoek met 'n kollega van die Allgemeine Zeitung.

Hy vertel hoe hy en sy sus onlangs saam by 'n sosiale geleentheid kuier waar daar 'n klomp kinders is wat wilder as die wildtuin aangaan. Sy sê ewe vir hom sy kan nie onthou dat hulle ooit só was nie.

Nee, deel hy haar vinnig mee. Sy kan dit net nie onthou nie. Soos byvoorbeeld hoe hy haar by 'n muurtjie afgestamp het en sy letterlik haar been gebreek het.

Of hoe sy hom met 'n mes gegooi het en sy lewe met 'n haarbreedte gespaar is.

Hy het gevra ek moet, om vrede te bewaar, geen name noem nie!

Daarmee saam dink ek toe aan hoe ek en my boet soms baklei het. Ek onthou hoe hy een aand na die ongevalle gejaag moes word omdat ek hom van 'n sitkamerbank af geskop het en hy sy kop teen 'n tafel oopgekap het. Kon hy nie maar net nié afgeval het nie?

Verskeie steke en 30 jaar later sit die merk nou nog agter sy kop.

Maar boetiegoed was beslis nie altyd die slagoffer nie. Ek onthou ewe goed hoe hy my op 'n goeie dag met 'n potlood wat deur 'n blowpipe geblaas is, in die hand raakgeskiet het.

Moenie dink die potlood het sommer van 'n beentjie afgebons nie – nee, ek moes dit fisiek uittrek! As jy mooi kyk, sien jy dié merk ook nog.

My man en twee van sy broers was regte orrelpypies. Hy meen natuurlik hulle was vreeslik soet.

Maar skoonma vertel 'n ander s­torie. Van hoe hulle sommerso in die ry af pak gekry het al was net een stout. O, die sondes van sibbe.

My ma het 'n staaltjie van haar eie. Sy vertel toe sy en haar sus 10 en 8 jaar oud was toe hulle op 'n dag stry gekry het en hoe sy haar kleinsus met een hand aan haar bokstert beetgekry het, terwyl sy haar met die ander met 'n broodmes van alle dinge probeer pakgee het!

Genadiglik het ons almal vandag 'n veel vreedsamer verhouding met ons sibbe.

Tog, daarmee saam, lyk my nie dit maak saak hoe oud jy is nie, sibbe het eenvoudig die vermoë om beide die beste en die slegste in 'n mens uit te bring.

Jy kan nie met óf sonder hulle nie!

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!