Die spaarbussie by die horings pak
Partykeer lees jy iets en dit laat jou ver terugdink, of dit laat jou verlang na plekke waar jy nog nooit was nie. Dit het so ’n rukkie terug met my gebeur.
Ek het een van die koerant se byvoegsels geproeflees, en terwyl ek proeflees, beraam ek al planne om dié land te gaan besoek.
Dié besonderse land, volgens my, is Slowenië. Die berig het spesifiek oor Ljubljana, Slowenië se hoofstad, gegaan.
Gaan google bietjie, dit is asemrowend Ek wens ek kon foto’s hier plaas. Julle moet maar self gaan kyk. Wikipedia beskryf Slowenië as ’n land in Sentraal-Europa wat bekend is vir sy berge, ski-oorde en mere.
Hulle sê die Bledmeer is ’n gletsermeer wat deur warmwaterbronne gevoer word, en dat daar in die dorpie Bled ’n middeleeuse kasteel is.
In Ljubljana is die Dragon-brug en bootritte op die Ljubljanicarivier. Die Bledmeer, die Postojnagrotte en die Triglav Nasionale Park is net ’n paar plekke wat besoek kan word. Die bevolking was in 2016 sowat 2,065 miljoen en die inwoners praat Sloweens, Italiaans of Hongaars. En toe sien ek iets wat bietjie van ’n probleem kan skep.
Die land se geldeenheid is euro. Ek het gehoop dit is dalk een van daardie goedkoop bestemmings. Maar my luck is uit. Ek sal lank moet spaar om hierdie emmerskoplys-item af te merk. Seker nog langer as jy na vandag se ekonomiese toestande kyk. Alles word net duurder. Soos die petrolprys in Suid-Afrika wat meer as R17 per liter volgende maand gaan wees. En soos julle almal weet, is Namibië by die heup aan Suid-Afrika vas. So, wat daar gebeur, gebeur gewoonlik ’n maand of twee later met ons.
Dit beïnvloed weer die pryse van alles wat ons van Suid-Afrika af invoer. Ek noem dit die vicious circle-effek. Ek sal Slowenië vir eers in my agterkop bêre, tot die dag wat ek genoeg gespaar het. Ek hoop net nie ek is dan te oud om die land volkome te geniet nie.
Tot dan sal ek terugdink aan al die plekke wat ek wél gesien het, soos Brittanje, Wallis, Skotland, Ierland, Frankryk, Oostenryk, Switserland, Mosambiek, Zambië en Tanzanië, en dankbaar daaroor wees dat ek die geleentheid gehad het om daarheen te reis en nuwe kulture te beleef. Nie almal kry daardie geleentheid nie. Nog ’n troos is dat Rome nie in een dag gebou is nie. Of good things happen to those who wait. Ek sal rustig wees en my geldjies bietjie vir bietjie spaar. Slowenië, ek hoop nie jy wag te lank vir my nie!

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie