Die stilhouplek
Die stilhouplek

Die stilhouplek

Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Hello, daar!

Ek ken jou gesig, sommer van kleins af!

Soos ek jou pa en ma en oupa en ouma en ook húl ma's en pa's geken het.

Bly om jou weer te sien, al woerts jy net in jou motor hier verby op pad Windhoek toe. Wanneer kom kuier jy weer ‘n bietjie onder my vriendelike skaduwee, vertoef jy en drink weer dorstig aan hierdie natuurbeelde uit jou kinderdae?

Onthou jy toe jy so vyf jaar oud was, het julle by my kom rus toe jul motor ‘n pap band gehad het? Jy en jou ouma het in my geselskap gewag dat helpende hande moes opdaag.

Ander kere het ek oor julle gewaak toe julle by my sementtafel en –stoeltjies kom sit het en padkos eet. Ek het in my binneste gelag vir jul op pad see toe-grappe, my mond het gewater vir die hoenderboudjies, blougekookte eiers en warmbottelkoffie.

En toe het jy grootgeword en weggegaan, al woerts jy soms nog verby. Ek sien jy kyk nog verlangend en bewonderend na my.

Ek was darem nie alleen nie, want menige reisiger hou my geselskap, stop by my stilhouplek. Inderdaad, ek is ‘n legendariese reus en ‘n gewilde gasheer.

Ek is ‘n stille getuie, wat reeds 300 jaar swyg oor alles wat ek al moes aanhoor en aanskou.

Mense gesels hartsake onbeskroomd voor my, asof niemand luister nie, niemand sien nie en niemand sal kan vertel nie.

Die verhale wat ek sou kon deel! Van oorloë en bloed, van ossewaens en San-jagters en meer onlangs – die teerpad wat hulle hier voor my staanplek verby gebou het. Ek het toe sommer ook ‘n sementtafel en –stoeltjies gekry.

Ek ken die Tsumeb-paartjie wat hul hartsake in my teenwoordigheid bespreek, die ouerpaar wat by my kom vertel hoe hulle hul kinders daar vér verlang. Hulle het weggegaan uit hierdie vallei van vrede, nes jy en jou geslag jonges. (Wat is dit met jul jonges wat altyd jul geleenthede elders gaan soek? Ek het my kinders geleer om te groei waar hulle geplant is, te blom waar hulle staan.)

Ek sien my kuiergaste se trane oor die droogte, ek sien wie gooi vullis rond en ek ken die gesig van die B1-reeksmoordenaar. Ek hoor soms hoe daar gekonkel word aan duistere planne. Ek het dit alles al gesien. Ek verklap nooit my geheime nie.

Die getuienis wat ek sou kon lewer! Maar ek swyg en net my blare fluister in die wind – in ‘n taal wat geen mens verstaan nie. Geen hof kan my ontbied of my vra om enige geheime uit te lek nie, buiten miskien die Grootste Hof in die Hiernamaals nie.

Ek is die reuse- wildevyeboom by die stilhouplek op die pad tussen Kombat en Grootfontein. Ek staan reeds vir 300 jaar en waak – meer onlangs het ek die belangrike taak gekry om te waak oor ‘n sementtafel en –stoeltjies, en ‘n asdrom en geheime.

Die stories wat ek sou kon vertel!

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer