Die storie van Greenwich se meridiaan

Oor twee weke is dit weer tyd vir Namibiërs om hul horlosies 'n uur terug te stel wanneer wintertyd amptelik weer sy verskyning maak. Vir die een beteken dit letterlik en figuurlik donkerte, vir die ander 'n laatslaapbederf. Maar waar is Greenwich en wat is 'n meridiaan wat tydsones dwarsoor...
Henriette Lamprecht
Dit het begin by 'n man met die naam Benjamin Franklin wat in 1784 die voorstel maak om kerse te spaar. Vandag, meer as twee eeue later, is dagligbesparingstyd (DST) vir die een 'n kopseer, en vir die ander 'n laatslaap-ligpunt in 'n donker wintertonnel. Namibië is sedert 1994 deel van die twee-keer-per-jaar -verandering wanneer inwoners in ooreenstemming met die Namibiese Tydwet nr. 3 van 1994 in die somer twee ure voor Greenwich-tyd en in die winter een uur voor Greenwich-tyd moet aanpas.

Soos elke storie begin dit by 'n saadjie wat geplant is, op 'n dag lank gelede, en die karakters en uitvindsels van vervloë tye wat in vandag se moderne eeu steeds van belang is.



Die begin van die begin

Die eerste plek van belang is die dorp Greenwich, wêreldwyd bekend as die tuiste van Greenwich-tyd (GMT) en die Royal Observatory. Greenwich-tyd is 10 minute voor Bristol-tyd en 13 minute voor Cardiff-tyd. Tegnies gesproke is dit die jaarlikse gemiddelde van die tyd elke dag wanneer die son oor die eerste meridiaan by die Royal Observatory in Greenwich beweeg. Die Royal Observatory in Greenwich is waar Oos vir Wes op die 0°-lengtelyn ontmoet.



Sontyd en kloktyd

Middelbare tyd (“mean time”) is horlosietyd, eerder as sontyd (astronomie­tyd). Sontyd wissel dwarsdeur die jaar soos die tyd-interval 'n stel meridiaanlyne kruis. Elke dag wat deur 'n horlosie gemeet word, het dieselfde lengte wat op sy beurt gelyk is aan die gemiddelde lengte van 'n son-dag. Dit is 'n manier om tyd te standaardiseer en te reguleer sodat mense presies kan weet hoe laat dit is waar hulle geleë is.

Vanaf 1884 tot 1972 was GMT die internasionale standaard van burgerlike tyd. Hoewel dit nou deur Gekoördineerde Universele Tyd (UTC) vervang is, is GMT steeds die tyd wat in Brittanje volgens wet gevolg word in die winter en dit word deur die land se weerkantoor, die vloot en BBC World Service gebruik. Greenwich-tyd is ook die naam van die tydsone wat deur sommige lande in Afrika (Namibië ingesluit) en Wes-­Europa (Ysland ingesluit), dwarsdeur die jaar gebruik word. Vandag word GMT van een middernag na die volgende bereken.



John, die koninklike ­sterrekyker

Dit was nie tot die pendulum-horlosie in die 1650's ontdek is, wat dit moontlik of bruikbaar was om die verhouding tussen middelbare (horlosie-) tyd en sontyd uit te werk nie.

John Flamsteed het met die formule vorendag gekom om sontyd na middelbare tyd om te skakel en het ook 'n stel omskakelingstabelle in die vroeë 1670's gepubliseer. Kort daarna is hy as die eerste Koninklike Sterrekundige (Astronomer Royal) aangewys en het hy sy plek in die nuwe Koninklike Sterrewag (Royal Observatory) ­ingeneem. Hier het hy die beste ­pendulum-horlosies laat installeer en dit op die plaaslike tyd – Greenwich-tyd – of die gemiddelde tyd wat die son die meridiaan by Greenwich oorsteek, gestel. Aan die begin was Greenwich-tyd egter net vir sterrekykers werklik belangrik.

.

Die lang soektog na 'n ­lengtegraad

'n Eeu later het die vyfde Koninklike Sterrekyker, Nevil Maskelyne, Greenwich-tyd na 'n breër gehoor gebring. As deel van die groot soektog in die agtiende eeu om lengtegraad (Oos-Wes-posisie) te bepaal, het Maskelyne in 1767 die Seemansalmanak bekend gestel. Dit was tabelle van lunêre afstand wat gebaseer is op waarnemings by Greenwich en het GMT as die tydstandaard gebruik. Dié inligting het navigators in staat gestel om hul posisie op see te vind. GMT was ook noodsaaklik vir die ander groot oplossing vir die ­leng­­tegraad-probleem wat deur John Harrison se befaamde tydhouers verteenwoordig is. Britse seevaarders het begin om ten minste een chronometer op GMT te stel om hul lengtegraad van die Greenwich-meridiaan te bepaal. Dié twee oplossings sou die weg vir GMT baan om 'n eeu later die wêreldwye tydstandaard te word.



Daar's 'n trein . . .

Tot die middel van die negentiende eeu het feitlik elke dorp sy eie plaaslike tyd gehad wat deur die son bepaal is. Daar was geen nasionale of internasionale konvensies wat bepaal het hoe tyd gemeet moes word, wanneer die dag begin en eindig of wat die lengte van 'n uur moes wees nie. Met die groot uitbreiding van die spoorweë en kommunikasienetwerke in die 1850's en 1860's, het 'n wêreldwye behoefte vir 'n ­internasionale tydstandaard egter onvermydelik geword.

Britse spoorwegmaatskappye het begin om 'n enkele standaardtyd vir al hul netwerke in te stel om sodoende hul tydroosters minder verwarrend te maak. Die tydroosters het meestal van Greenwich-tyd gebruik gemaak. In Desember 1847 is GMT dwarsoor Groot Brittanje deur die Railway Clearing House aanvaar en het amptelik die spoorwegtyd (Railway Time) geword.

Teen die middel 1850's is bykans alle openbare horlosies in Brittanje op Greenwich-tyd gestel en het dit in 1880 uiteindelik Brittanje se wettige standaardtyd geword.



Amerika kies eerste

In 1884 is die Greenwich-­meridiaan by die ­Internasionale Meridiaan-­konferensie as die wêreld se ­nul-meridiaan voorgestel. Twee redes het die voorstel gemotiveer. Eerstens het Amerika toe reeds Greenwich as basis vir sy eie nasionale tydsonestelsel gekies. Die tweede rede was dat 72% van die wêreld se handel in die laat negentiende eeu van seekaarte afhanklik was wat Greenwich as eerste meridiaan gebruik het. Die voorstel is gebaseer op die argument dat deur Greenwich as 0º-lengtegraad te benoem, dit tot voordeel van die grootste aantal mense sal strek.

As verwysing vir GMT het die nul-meridiaan by Greenwich die middelpunt van wêreldtyd en die basis van ons globale stelsel van tydsones geword.

Die Airy Transit Circle-teleskoop by die Royal Observatory Greenwich, ontwerp deur die Koninklike Sterrekyker George Biddell Airy, het die teleskoop geword wat die nul-meridiaan van die wêreld sou definieer. Die 1884 Internasionale Meridiaan-konferensie het voorgestel die meridiaanlyn, gemerk deur die kruismarkering in die oogstuk van die Airy Transit Circle, sou die 0°-lengtegraad aandui en sodoende ook die begin van die universele dag.



'n Horlosie wat almal kan sien

Dié horlosie staan as die Shepard gate-horlosie bekend en kan vandag steeds by die hekke van die Royal Observatory gesien word. Dit was die eerste horlosie ooit wat Greenwich-tyd direk aan die publiek getoon het.

Dit is 'n “slawe”-horlosie, verbind met die Shepard-meesterklok wat in 1852 by die Royal Observatory opgerig is. Van toe tot 1893 was die meesterklok die hart van Brittanje se tydstelsel. Dié horlosie se tyd is per telegraaflyne na Londen, Edinburgh, Glasgow, Dublin, Belfast en baie ander stede gestuur.

Teen 1866 is tydseine van die horlosie na Harvard-universiteit in Cambridge, Massachusetts, via die nuwe transatlantiese ondersese kabel gestuur. In terme van die verspreiding van akkurate tyd in elke dag se lewe, is dit een van die belangrikste horlosies wat ooit gemaak is.



'n Lyn vir sterrekyk

'n Meridiaan is 'n noord-suidlyn wat gekies is as die nul-verwysingslyn vir sterrekundige waarnemings. Deur duisende waarnemings te vergelyk wat vanaf dieselfde meridiaan geneem is, is dit moontlik om 'n akkurate kaart van die lugruim te bou.



Hoeveel halfronde in jou wêreld?

Die lyn in Greenwich verteenwoordig die historiese nul-meridiaan van die wêreld – die 0º-lengtegraad. Elke plek op aarde is in terme van sy afstand Oos of Wes van dié lyn gemeet. Die lyn self het die oostelike en westelike halfronde van die aarde verdeel, net soos die ewenaar die noordelike en suidelike halfronde verdeel.



Waar Airy sit

Airy's Transit Circle lê by die oorspronk­like definisie by die 0°-lengtegraad en breedtegraad by 51° 28' 38” N.



En die wenner is . . .

Die Greenwich-meridiaan is in 1884 as die wêreld se nul-meridiaan verkies. Die keuse begin by 41 afgevaardigdes van 25 lande wat in Washington vir die Internasionale Meridiaan-konferensie byeen was. Teen die einde van die konferensie het Greenwich met die benoeming as 0º-lengtegraad weggestap met 22 stemme teen een (San Domingo). Frankryk en Brasilië het besluit om buite stemming te bly.



Dit beweeg?

Tussen 1984 en 1988 is 'n nuwe koördinaatstelsel aanvaar wat op satellietdata en ander metings gebaseer is en 'n nul-meridiaan vereis wat 'n vliegtuig verteenwoordig wat oor die middelpunt van die aarde beweeg.

Die werklike nul-meridiaan van die wêreld, soos ooreengestem deur elke nasie op die planeet in 1984, is die IERS Verwysingsmeridiaan wat ook as die Internasionale Verwysingsmeridiaan of IRM bekendstaan.

Die IRM is die enigste meridiaan wat nou beskryf mag word as die primêre meridiaan van die wêreld, omdat dit soos deur internasionale ooreenkoms as die 0°-lengtegraad beskou word. Die IRM beweeg 102,5 meter na die ooste van die historiese primêre meridiaan van die wêreld by die breedtegraad van die Airy Transit Circle by die Royal Observatory. Die hele sterrewag en die historiese primêre meridiaan lê nou wes van die werklike primêre meridiaan.



'n Koninklike park op 'n heuwel suid van 'n rivier

Greenwich was 'n koninklike park en paleis op 'n heuwel suid van die Teems-rivier, oos van Londen.

In 1675 begin die groot wedloop om akkurate kaarte vir navigators te skep en Charles II bied goedgunstiglik die grond aan die Royal Society vir Brittanje se eerste nasionale sterrewag. Christopher Wren word beveel om die koepelvormige gebou te ontwerp, terwyl John Flamsteed as die Koninklike Sterrekyker aangewys word. Britse kartograwe begin om die lengtegraad van Greenwich te stel en in 1884 word dit as die primêre meridiaan aanvaar.



'n Uur se verskil in 'n som

Elke 15°-lengtegraad verteenwoordig 'n uur se verskil in tyd. Hier's die som:

24 x 15 = 360, die grade van 'n sirkel. Jy kan die tyd van elke ligging op aarde uitwerk as jy weet hoeveel grade dit Oos of Wes van Greenwich is.

Die Greenwich-meridiaan is die beginpunt van elke tydsone in die wêreld. GMT, die afkorting, is die gemiddelde tyd wat dit die aarde vat om van middag tot middag te roteer. Dit verteenwoordig ook die verwysingspunt vir elke wêreldtydsone vir die tydsonekaart. Hoewel GMT deur atomiese tyd (UCT) vervang is, word dit steeds algemeen as die korrekte tyd vir elke internasionale tydsone aanvaar.



Tik-tok, tik-tok, hoeveel tydsones op jou stok?

Daar is 25 heelgetal-wêreldtydsones - van -12 deur 0 (GMT) tot +12. Elkeen is

15°-lengtegraad soos gemeet Oos en Wes van die primêre meridiaan van die wêreld by Greenwich, Engeland. Daar is beide burgerlike bestemmings wat tipies drieletter-afkortings (bv. EST) vir die meeste tydsones het en ook militêre bestemmings. Dié gebruik elke letter van die alfabet (buiten “j”) en is bekend vir hul fonetiese ekwivalent – E.G. Greenwich-tyd (burgerlik) of “Z” – (militêr of lugvaart).

Jou aand, my oggend, hulle ­middernag

As ons 'n enkele tydsone vir die aarde gehad het, sou middag in sommige plekke in die middel van die dag gewees het, maar dit sou oggend, aand en die middel van die nag in ander plekke wees. Omdat verskillende dele van die aarde daglig binnegaan en verlaat op verskillende tye, is verskillende tydsones nodig.





Hulle het nie tyd nie . . .

• Sentraal Afrikaanse Republiek:

1 - UTC+01:00 (WAT)

• Tsjaad: 1 - UTC+01:00 (WAT)

• China: 1 - UTC+08:00

(Chinese ­Standaard Tyd)

• Colombië: 1 - UTC-05:00





*Bronne: www.rmg.co.uk; www.greenwichmeantime.

com; www.independent.co.uk; www.theatlantic.com; www.nytimes.com; www.newyorker.com





Die regte tyd op die regte (Namibiese) plek

Namibiërs moet twee keer per jaar hul horlosies vorentoe of agtertoe stel om by winter- en somertyd onderskeidelik in te val. Dié praktyk is in ooreenstemming met die Namibiese­ Tydwet, nr. 3 van 1994. Volgens dié wet is Namibië in die somer twee ure voor Greenwich-tyd en in die winter een uur voor Greenwich-tyd.

Namibië gaan wintertyd om 02:00 op die eerste Sondag van April binne en keer weer terug na somertyd op dieselfde tyd die eerste Sondag in September. In die Zambezi-streek bly die horlosies egter somer en winter dieselfde.

Die minister van binnelandse sake, me. Pendukeni Iivula-­Ithana, het vroeër vanjaar die Namibiese Tydwetsontwerp ter tafel gelê om die huidige stelsel te verander sodat somertyd die hele jaar geld.



Draai die wyser en kyk wat gebeur

Dagligbesparingstyd (DST) is volgens 'n 2016-studie nie so goed vir jou gesondheid nie. Volgens dié studie is die alge­hele risiko vir hartaanvalle 8% hoër in die twee dae ná dagligbesparingstyd. Kankerlyers is ook 25% meer geneig om dan 'n hartaanval te kry en mense ouer as 65 se risiko is 20% hoër.

Op die koop toe is daar meer verkeersongelukke, regters deel swaarder strawwe uit en werknemers is meer geneig om op die internet te speel as om hul brood in die sweet van hul aanskyn te verdien. Kom DST tot 'n einde en die son maak vroeër haar verskyning, vier straatmisdade hoogty en volgens navorsers in Australië kom meer verkeersongelukke voor waarby wilde diere betrokke is. Die rede – dis spitstyd vir takbokke, koalas en elande om vir 'n wandeling te gaan. Mense wat aan seisoenale gemoedsversteuring ly, trek ook aan die kortste end van die kers, want dit steel die bietjie lig in hul lewens.

Volgens 'n direkteur van 'n sentrum vir slaapmedisyne is mense se hartritmes immer ook biljoene jare gelede gestel op 'n ritme wat beslis nie DST in ag geneem het nie. Slaapverlies bly ook 'n kopseer omdat, hoewel mense 'n uur op hul horlosies “wen”, navorsing wys die meeste gebruik die ekstra uur nie vir 'n middagslapie nie! – CNN/New Yorker

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!