Die tandemuis kom kuier
Die tandemuis kom kuier

Die tandemuis kom kuier

Gerine Hoff
Die tandemuis het onlangs weer by ons 'n draai kom maak. Dis nou al die vierde keer, maar o wee, wat 'n proses. Want tande wissel is by ons, wel, soos tande trek.

Tandjies een en twee het al amper 18 maande gelede gegroet. Omdat die twee tandjies onder redelik los was, het die juffrou by die kleuterskool gehelp om hulle te trek.

S dink toe sy gee vir hom 'n tissue om die effense bloed mee af te vee en toe spoel hy die snesie in die toilet af. Maar eintlik was die twee tandjies binne in om huis toe te bring sodat Muis dit kan kom haal om vir kontant te ruil.

Groot was sy teleurstelling toe hy besef die tande is weg. Juffrou moes toe maar 'n briefie skryf wat die situasie aan Muis verduidelik. Lyk my Muis was tevrede met die verduideliking, want 'n geldjie is tog die volgende dag in S se skoen gekry.

Tand drie – dié keer een van die boonstes – is weke lank gewikkel totdat dit uiteindelik só los was, S se oom het dit sommer oor 'n naweek in Swakop getrek. Gelukkig weet Muis – of was dit nou dié keer die Tooth Fairy? – waar om ons te kry, en S se bankbalans het weer effens gegroei.

Natuurlik het hy intussen besef hierdie tande wissel-storie is 'n lucrative business en dit is nie lank nie, of hy begin die volgende tand wikkel. Maar nou weet ons mos al dit gaan 'n weke lange proses wees.

Of gaan dit?

Want een aand speel hy en sy niggie 'n bietjie rof, en toe ons weer sien, is tand nommer vier uitgestamp (met min moeite, en met die nuus wat iets tussen 'n lag en huil aan ons oorgedra is).

Nou ja, toe sit die kind met 'n haasbek, maar met nog 'n paar dollar in sy sak. Intussen wag ons vir die nuwe “haastande” om hul verskyning te maak, wat 'n proses op sy eie is.

Dit het my laat dink aan die grappie oor die dogtertjie wat binne 'n paar dae van mekaar haar tandjies verloor het en heel tevrede was met die geldjie wat die tandemuis vir haar gebring het. Maar mettertyd was dit minder lekker om sonder voortande te wees. Toe haar pa een aand kom nag sê, is hy verbaas om geld in sy dogter se skoen te sien. Op die vraag waarvoor dit is, het sy geantwoord sy soek haar tande terug.

Wat my bring by 'n vriendin wat vertel sy het tandemuis gespeel toe haar seuntjie wakker word en skree “uitgevang!”.

Sy het doodstil gaan staan en blitsvinnig aan verduidelikings begin dink oor hoekom sý en nie die tandemuis geld kom aflewer nie. Gelukkig het hy haar voorgespring toe hy sê: “Sit die geld terug. Die tandemuis het dit vir mý gebring!”

Shame, die arme tandemuis/Tooth Fairy se werk bly maar moeilik. Want nie net moet hy/sy nag ná nag die wêreld vol jaag om tandjies te gaan haal nie (wat doen hy/sy nou eintlik daarmee, wil S weet), maar hy/sy moet nog tred hou met die ekonomie ook. Want wat is deesdae die going rate vir 'n melktandjie? Ons het ­immers nog 'n hele paar tande om te gaan . . .

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!