Die toekoms in 'n ambag

Kathy Namundjebo is 'n ­gekwalifiseerde skrynwerker met haar eie onderneming.
Tanja Bause
Tanja Bause – “Dit is nie maklik om ’n vrou in ’n manswêreld te wees nie.”

Só sê Kathy Namundjebo van Kathy’s Joinery & Renovations.

Kathy is bekend vir haar gehalte houtwerk en spog met groot kliënte soos Hartlief, die Universiteit van Namibië (Unam), NamPower en die Maatskaplike Voorsorgkommissie (SSC).

Haar pad na sukses was nie maklik nie.

Kathy het by haar oumagrootjie op Okatope in die Ohangwenastreek grootgeword.

“Toe ek 12 jaar oud was, het ek uitgevind my ouma is nie my ma nie.”

Hierná het sy by haar ma op Swakopmund gaan bly, wat intussen weer getrou het.

Kathy se stiefpa het haar nie aanvaar nie.

“Die gevolg was dat my ma my van een plek en skool na die ander gestuur het. Ek was in die skool op Okombahe, waar ek Damara moes leer. Van daar af is ek na die Topnaars gestuur waar ek graad 7 voltooi het. Toe is ek na die Tegniese Hoërskool Herman Gmeiner op Swakopmund en vandaar na die Colin Foundation op Arandis.

“Ek het nie herinneringe van baie liefde in my kinderdae nie. Waarvoor ek wel dankbaar is, is dat ek sewe tale kan praat omdat ek so baie rondgeskuif is.”

In 2004 het Kathy Windhoek toe getrek om aan die Vocational Training Centre (VTC) as skrynwerker opgelei te word.

“Ek het by ’n tannie gewoon wat my aan my pa voorgestel het. Hy was ook weer getroud en dié keer was dit sy vrou wat nie van my gehou het nie. Ek was 23 toe ek my pa vir die eerste keer ontmoet het. Ek het sopas in Windhoek aangekom en het geen geld gehad nie. Maar ek mag nie by hom gaan woon het nie, omdat sy vrou dit nie toegelaat het nie.”

Kathy het in ’n sinkhuis in die Goreangab- informele nedersetting gaan bly terwyl sy gestudeer het.

“Ek het van Goreangab af na die VTC toe gestap. Ek het nooit moed verloor nie.”

Dit was swaar jare en Kathy moes weens ’n tekort aan geld vyf jaar in plaas van drie studeer.

“Ek het geen finansiële ondersteuning gehad nie. Daarby het ek die Namandjebo-van, wat mense onmiddellik laat dink ek kom van geld af.”

Kathy het gestudeer tot haar geld opgeraak het, en dan gewerk tot sy weer genoeg geld gespaar het om verder te kan studeer.

Sy het vasgebyt en nooit van haar drome vergeet nie, sê sy.

“Ek het ’n moeilike begin gehad, maar dit het my die mens gemaak wat ek vandag is. Ek is nie meer kwaad vir my ouers nie. My kinderjare en omstandighede is nie uniek nie en dit het my nog altyd laat streef daarna om ’n beter lewe vir myself en my dogter te skep.”

Eie besigheid

Tydens en ná Kathy se studies het sy by verskeie besighede as skrynwerker gewerk. Daardeur het sy die geleentheid gekry om verdere opleiding in Duitsland te ontvang.

Kathy het gehoor die destydse minister van handel, mnr. Hage Geingob, was van plan om entrepreneurs toe te spreek.

“Ek het my besigheidsplan gereed gehad en met hom gaan praat. Hy het my besigheid se eerste masjiene, deur middel van die ministerie, geskenk. Ek het plek by die Katutura-nywerheidstalle gaan huur en in Maart 2009 met my besigheid, Kathy’s Joinery & Renovations, begin.”

Hoewel sy alles van boekrakke, klere- en skoenkaste, skoolstoele, kantoormeubels en beddens maak, is kombuise haar groot liefde.

“Ek hou daarvan om kombuise te ontwerp. Ek weet dat die potte so naby aan die stoof as moontlik moet wees. Dit is sulke klein besonderhede wat ek dink die verskil in my kombuise maak.”

Kathy kan ook meubels herstel en opknap.

“Dit is nie maklik om ’n vrou in dié bedryf te wees nie. Mans neem jou nie ernstig op nie, en dit voel of jy jouself voortdurend moet bewys. Ek glo my grootste bedryfsbate is my reputasie. As jou werk en diens nie van goeie gehalte is nie, sal jy nie suksesvol wees nie. Uitnemendheid is wat kliënte na jou besigheid lok en wat hulle laat terugkeer.”

Toekomsplanne

“Ek het Kathy’s Manufacturing College geregistreer. Ek wil jongmense graag praktiese opleiding bied.”

Tans is sewe mense in Kathy se diens.

“Ek neem mense vir drie jaar in diens en dan moet hulle genoeg weet om hul eie besigheid te kan begin. Hulle moet uitgaan en werkskeppers word,” sê sy.

Kathy droom van ’n groter perseel vir haar besigheid sodat dit kan uitbrei.

Sy glo die toekoms lê in ambagsmanne se hande.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!