Die uitdaging van 'n ope lugruim

Ondanks verskeie internasionale ooreenkomste is Afrika se lugrederye steeds nie op dieselfde bladsy wat 'n oop lugruim en samewerking betref nie.
Estelle de Bruyn
Estelle de Bruyn in Cancun, Mexiko - Een van die grootste uitdaginngs wat Afrika die afgelope 30 jaar in die gesig staar, is die rol van lugrederye in staatsbesit en watter rol regerings behoort te speel in die regulering en bepaling van watter rederye toegelaat moet word om die vasteland se markte te betree en die omvang van toegang wat gegee moet word.

Dit is een van die kwessies wat tydens die algemene jaarvergadering van die Internasionale Lugvervoervereniging (IATA) bespreek is wat vandeesweek in Cancun, Mexiko, aangebied is.

Die huidige toedrag van sake is dat die meeste dienste van intra-Afrika en interkontinentale lugrederye deur 'n string bilaterale ooreenkomste tusssen indivuele rederye en lande gereguleer word. Die raamwerk vir hierdie bilaterale ooreenkomste is aanvanklik deur die Chicago Konvensie van 1945 gereguleer. Dit het tot die vorming van die Verenigde Nasies se Internasionale Lugvaartorganisasie (ICAO) gelei wat globale regulerende standaarde vir burgerlugvaart wêreldwyd ingestel het.

Ooreenkomste

Die bilaterale ooreenkomste stel regerings wat daartoe instem, in staat om toestemming te gee om lugdienste tussen hul onderskeie lande te bedryf en te spesifiseer hoeveel vlugte ingestel kan word.

Dit sluit in die aantal sitplekke wat per week of per maand binne die lande wat bedien word, verkoop kan word.

Tot die vroeë 1990's het sommige van die bilaterale ooreenkomste selfs die sagtheid van die kussings, die tekstuur van die komberse en hoe dik of dun die snye brood en wat op toebroodjies wat aan passasiers bedien word moet wees, voorgeskyf. Tariewe vir vliegtuigkaartjies is ook ingevolge die ooreenkomste vasgestel. Dit is nie meer die geval nie.

Volgens lugvaartkenners het hierdie bilaterale ooreenkomste mededinging in die wiele gery en die keuses vir passasiers en verskepers van lugvrag beperk en meegebring dat die koste van lugvervoer op baie intra-Afrika-roetes hoog gebly het. Dit was nie goed vir die betrokke lande se ekonomieë nie aangesien die bilaterale ooreenkomste handel en toerisme kunsmatig beperk het.

Hierbenewens moet in ag geneem word dat toerisme nie net tot reis vir ontspanning beperk is nie, maar 'n hoë-opbrengs korporatiewe milieu is en dat regerings, sakeondernemings, hotelle, motorverhuringsagentskappe en restaurante hieruit voordeel put en bydra tot werkskepping.

Yamoussokrou

In 1988 het die Wêreldbank aan die Organisasie vir Eenheid in Afrika (OEA), die voorganger van die Afrika-unie (AU), aan die hand gedoen dat Afrika se lugruim en markte oopgestel word ingevolge die Yamoussokrou-verklaring.

Ministers van verskeie lande wat die byeenkoms bygewoon het, het almal die ooreenkoms onderteken en aangedui dat hul onderskeie lande so 'n oopstel-projek steun. Ongelukkig het die politieke wil ontbreek om dit deur te voer en die meeste lande het gevrees dat hul lugrederye, wat steeds deur baie regerings as nasionale statussimbole beskou word, nie die mas sou opkom teen groter buitelandse rederye nie wat die markte sou oorneem.

In 1999 het AU-lidlande in Mauritius vergader en 'n hersiene Yamoussokro-besluit aanvaar waarvolgens Afrika se lugruim slegs vir Afrika-lugrederye oopgestel sou word. Agtien jaar later het min egter verander en die status quo is steeds van krag.

Namibië

Namibië was tot nou toe 'n toonaangewer in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeeenskap-streek (SADC) en het geëksperimenteer met ooreenkomste met ander lande in die streek, met wissselende welslae.

Ooreenkomste van Suid-Afrika en Zambië was nie te geslaagd nie en die markaanvraag was onvoldoende. Boonop was nie almal ewe verbind daartoe om dit te laat slaag nie.

By 'n byeenkoms in Johannesburg in Januarie 2014 het AU-lidlande hulle opnuut tot die implementering van 'n ope lugruim verbind wat een die einde van 2016 in werking moes wees. Tot nou toe is daar egter nie veel van 'n aanduiding dat dit vrugte afwerp nie.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer