Die Unimog tem enige ruwe terrein met gemak

Besigtig die 1974- en 2014- model by Motorskou
Gerine Hoff
Deon Eysele – Wanneer selfs gewone 4x4-voertuie nie meer verder kan gaan nie, word 'n totaal ander soort werkesel en trekkeragtige voertuig benodig om verder te gaan. Dis gewoonlik hier waar die Unimog ingespan word, want dit bied 'n unieke veelsydigheid wanneer die mees robuuste omstandighede denkbaar aangepak moet word.
Die bemarkings- en openbare skakelbeampte van M+Z Commercial Vehicles, me. Marijke Viljoen, sê die Unimog word soms heeltemal onderskat en daarom het hulle besluit om vanjaar by die Bank Windhoek-Republikein-Motorskou bietjie meer fokus daarop te plaas. Die nuutste model wat op die oomblik in Namibië is, die Unimog U4000, is bekend vir sy uitstaande grondvryhoogte, kort oorhange vir beter invals- en vertrekhoeke, ewenaarslotte en die ongelooflike artikulasie van die voertuig se wiele wanneer dit oor moeilike terrein beweeg. Uniek aan die voertuig is die feit dat die Unimog anders as ander 4x4-voertuie waar twee wiele per as funksioneer, vier enkelwiele het wat afsonderlik funksioneer. Dit beskik ook oor 'n sentrale banddrukbeheereenheid waarvan die banddruk van binne die kajuit gereguleer kan word. Soos die terrein verander en dit nodig word om die bande af te blaas of op te pomp, kan dit baie vinnig en doeltreffend gedoen word terwyl die voertuig beweeg. Dit word eenvoudig met 'n knoppie in die kajuit beheer vir beter vastrap wanneer dit benodig word.
Die voertuig is as een van die bekwaamste voertuie ooit oor moeilike terrein bewys, een van die redes waarom dit destyds in die Suid-Afrikaanse weermag so hoog aangeslaan is.
Viljoen sê hulle gaan tydens die Motorskou ook 'n 1974-model Unimog op uitstalling hê waar skougangers sal kan sien hoe die voertuig oor die jare tot nou verander het.
“Wat die Unimog so gesog maak, is dat dit oor soveel aanwendingsmoontlikhede beskik,” het Viljoen gesê.
Sy het ook beklemtoon dat 'n Unimog-spesialis uit Suid-Afrika, mnr. Ferdie de Beer, die Motorskou gaan bywoon. Spesiale geleenthede word met hom gereël om kliënte se vrae te beantwoord.
Saam met die Unimog, gaan M+Z Commercial ook sy gewilde Sprinter-reeks van Mercedes-Benz vertoon. Dit is een van die gewildste passasiersvervoermiddels in die toeristebedryf.
“Die Mitsubishi Fuso wat ook deur ons verkoop word, is net so gewild in die toerismebedryf en ons gaan een van Pack Safari's se opgeboude busse hê waarmee hulle toeriste vervoer,” het Viljoen bygevoeg.

Kommentaar

Republikein 2024-11-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 32° Rundu: 19° | 36° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 23° | 36° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 33° Omaruru: 20° | 35° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 14° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 23° | 34° Mariental: 20° | 36° Keetmanshoop: 13° | 32° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 23° Ariamsvlei: 14° | 32° Oranjemund: 14° | 20° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 18° | 28° Mbabane: 18° | 35° Maseru: 16° | 30° Antananarivo: 17° | 28° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 22° | 38° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 19° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 19° | 32° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 32° Harare: 19° | 30° #REF! #REF!