‘Die verhoog is my speelplek’

Lloyd Zandberg
As jy vir Jennifer Zamudio vra wat Namibië vir haar so aanloklik maak, sê sy sonder enige twyfel “die kontrasterende landskappe en natuurlik die mense”.

Zamudio het ‘n voorliefde vir ons land en tree gereeld hier op. Vanjaar is sy weer op pad. Sy sê sy is baie opgewonde om weer vir die Namibiërs te kom sing.

“Ek probeer een keer ‘n jaar in Namibië te draai, en veral om iets nuuts vir die mense te bring.

“Ek het deur die jare ‘n groot liefde vir die Namibiese kus ontwikkel – veral vir Swakopmund, Hentiesbaai en Walvisbaai. In Namibië het ek nog altyd ‘n mate van rustigheid ervaar in die mense, maar moenie ’n fout maak nie – daai rustigheid plaas nie ’n demper op geesdrif en gasvryheid nie!”

Kollig het met Jennifer Zamudio oor haar jongste album, Goud is my Woorde, gesels.

“Ek is absoluut versot op my nuwe CD! Oor die eindproduk is ek baie tevrede. Ek kan onder geen omstandige net een lied uitsonder nie. Ek het tans 14 gunstelingsnitte! Dit is verseker ‘n lekkerluister CD met genoeg woema om enige ou se voete te roer.

“As ’n onafhanklike kunstenaar in ’n bedryf wat so vinnig groei en verander, moet jy die hele tyd aanpas en vernuwe. Ek glo hierdie album pas perfek by die hedendaagse musiekneigings en -behoeftes.

“Ek het baie jong musikante gebruik om my met die album te help en ek is baie trots op die eindproduk. Dis modern, strook met hedendaagse klanke en is steeds heerlike lekkerluistermusiek,” sê Jennifer.

Die album Goud is my Woorde is Jennifer se 12de album en sy is vanjaar reeds 18 jaar in die musiekbedryf.

’n Onlangse hoogtepunt van haar sangloopbaan is die Ghoema-toekenning wat sy verlede jaar vir haar country-album ontvang het.

Die album Goud is my Woorde bevat 14 lekkerluisterliedjies en Jennifer vertel elke liedjie is spesiaal uitgesoek.

“Daar is ’n goeie balans op die album en die genre wissel tussen popmusiek en kontemporêre musiek. Ek glo mense se ore moenie moeg raak wanneer hulle na ’n liedjie luister nie en daarom is elke liedjie op hierdie album lekker om na te luister.

“Ek het maar nog altyd ’n sagte plek vir ’n mooi melodie en ek hou van liedjies met musikale melodieë. Deesdae raak ’n mooi melodie so maklik verlore, maar ek hou van musiek wat sterk gedrewe en kragtig is,” sê Jennifer.

Al 14 liedjies op Goud Is My Woorde vorm ’n sterk eenheid.

Afgesien van die vyf liedjies op die album wat uit Jennifer se eie pen gevloei het, het Rudi Claase die liedjie “Goud is my Woorde” spesiaal vir die album geskryf. Hierdie liedjie weerspieël letterlik Jennifer se hele loopbaan tot dusver.

Die meesleurende “Tot die See Opdroog” is ‘n liedjie wat Jennifer spesiaal vir haar pa ná sy dood geskryf het, waarmee baie mense sal kan identifiseer.

Jennifer het Anneli van Rooyen se treffer “Ek glo” pragtig verwerk en is een van die min dapper vroue wat haar hand al aan ‘n Neil Diamond-liedjie gewaag het.

Haar weergawe van sy “I am I said” gaan beslis ook aftrek kry.

Die duet saam met Juandre Marais, “Gee jou Liefde net vir my”, is nog ‘n hoogtepunt op die album.

Haar jongste album, Goud Is My Woorde, is by Musica beskikbaar.

Toerdatums:

13 Oktober, Walvisbaai Hengelklub, 20:00, kaartjies: N$120 per persoon, bespreek by 081 444 6363

19 Oktober, Windhoek Wanderers Sportklub, 20:00, kaartjies: N$250 per persoon of N$2 500 vir ’n tafel van 10.

’n Ligte ete is ingesluit en ’n kontantkroeg is beskikbaar.

Skakel 081 379 2344 vir besprekings.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!