'Die virus het gekom om van ons weg te vat'

'n Jong mediese beampte wat in 'n Covid-19-saal werk, vertel van die moeilike oproepe wat sy moet maak wanneer 'n pasiënt sterf, maar ook die steun van haar man wat haar help om dit te hanteer.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Sy wou 'n dokter word omdat dit so reg in die kraal van haar “sorgsame en sagte” persoonlikheid pas. Maar niks kon haar regtig voorberei vir wat sy sou ervaar as deel van haar daaglikse roetine as mediese beampte wat diens in 'n Covid-19-saal verrig nie.

Buiten die hartverskeurende verlies aan 'n pasiënt is daar die gemis aan haar grootste ondersteuner en motiveerder, haar man Seth en natuurlik hul geliefde hondjie Roscoe wanneer sy vir weke in isolasie moet bly ná haar skof in die Covid-19-saal.

Die 27-jarige Fiona Strauss het in 2012 as mediese student by die Universiteit van Namibië (Unam) se mediese skool ingeval en haar graad in 2017 behaal. Sy het haar internskap van twee jaar in Februarie verlede jaar voltooi en in April dieselfde jaar begin sy diens verrig as 'n mediese beampte in die ortopediese departement.

Sy wou 'n dokter word omdat dit so reg in die kraal van haar “sorgsame en sagte” persoonlikheid gepas het.

In 2009 sterf haar ma ná wat vir haar soos 'n lang siekbed gevoel het.

“Ek het soveel vrae gehad en het nie verstaan wat gebeur het nie. Ek wou verstaan hoe siektes werk en wat kon anders gedoen gewees het,” vertel Fiona.

In November 2019 trou sy met die “mees ondersteunende man”, wat deur al die daaglikse eise van haar loopbaan haar nie net verstaan nie, maar haar ook motiveer en aanmoedig om elke dag 'n beter weergawe van haarself te wees.

“Ons is saam sedert die einde van my studies aan die mediese skool en om eerlik te wees, vind ek dikwels dat ek wonder waar ek sou wees as dit nie vir sy eindelose liefde was nie.”

Die egpaar het 'n “klein wollerige skepsel” verlede jaar in Julie by die Dierebe­sker­mings­ver­eniging (DBV) aangeneem en Roscoe die Jack Russell sorg vir groot vreugde in die Strauss-huishouding.

“Ek sweer ek kan ook nie my lewe sonder hom voorstel nie!”

Fiona se familie woon op Rehoboth waar sy haar grootwordjare deurgebring het totdat sy in 2009 die geleentheid gegee is om na Windhoek te verhuis en danksy 'n akademiese beurs as leerling by 'n private skool ingeval het.

“Die Allan Gray Orbis-stigting het my lewe verander.”

DIE PANDEMIE SE KOMS

Met die aanvang van die pandemie in Maart verlede jaar het sy eers nie geweet wat om te verwag nie. Eers toe sy in Mei, op haar verjaarsdag, vir haar eerste Covid-19-verpligting moes inval, het die besef tot haar deurgedring “dit het gekom om van ons weg te vat”.

“Vir my was dit net 'n verjaarsdag, maar vir baie was dit hul mans en vroue, ma's en pa's wat siek was.”

Voordat sy haar Covid-19-pligte begin het, verduidelik Fiona hulle het opleiding ontvang hoe om toetse vir die siekte te doen en is ook ingelig oor die aard van die siekte. Volgens haar is daar voortdurende opleiding, nuwe inligting en opdatering oor protokols deur spesialiste in die mediese veld.

“Voordat ek in De­sember by die respiratoriese eenheid ingeval het om Covid-pasiënte te versorg wat behandeling in die hospitaal vereis, het ons opleiding ontvang oor die gebruik van verskeie masjiene en toerusting wat in die eenheid gebruik word.

“Die opleiding was veral waardevol omdat die meeste van die mediese beamptes wat deur die eenheid roteer, nie in die mediese departement werk nie. Uit alle vlakke van die mediese veld is mense gewerf om tydens die pandemie uit te help.”

Die daaglikse roetine in 'n Covid-19-saal strek óf van 08:00 tot 20:00, óf van 20:00 tot 08:00. Twee spanne per dag verrig diens in die respiratoriese eenheid, terwyl een span per dag in die intensiewesorgeenheid (ICU) vir Covid-19-pasiënte is, wat beteken die dokters in die ICU doen 24-uurskofte.

Fiona beskryf die oorhandiging aan die nuwe spanne vir die dag, soggens of saans: “Dan klim jy saam met jou angs in jou be­skermende drag. Jy sien die pasiënte in die eenheid en bespreek hulle met die spesialis wat op roep is. “

Sommige dae is beter as ander, sê sy. Dan is daar die dae wat “regtig swaar, uitputtend en emosioneel dreinerend is”. Waar die pasiënt ten spyte van elke moontlike ingryping sterf.

“Jy kan nie werklik sien of die res van die span so verslane soos jy voel nie; jy kan skaars hul oë agter die gesigmaskers sien.”

Dan wag die papierwerk. Die stelsel moet opgedateer word, 'n mediese verslag oor die pasiënt voltooi en dan na die toepaslike mense aangestuur word.

Maar hierna volg die “mees hartverskeurende” van alles, sê Fiona. Die oproep na familielede wat in die pasiënt se lêer gelys is om die slegte nuus oor te dra.

“Die hartseerste is dat die pasiënt reeds in die eenheid vir dae of weke was sonder dat hul familie hulle kon besoek. As jy een pasiënt het wat gesterf het, bid jy meestal dat nie nog een tydens jou skof sterf nie.”

Soms word haar gebed bewaarheid en soms nie.

“Om te dink die laaste gesig wat die pasiënt sien, is een bedek in 'n pak, 'n N95-masker en 'n gesigskerm ... dit breek my hart.”

'n Groot gedeelte van mediese sorg is om 'n band met pasiënte te vorm, met hulle te gesels en hulle deur middel van fisieke aanraking te ondersoek. Min hiervan is in dié eenheid moontlik.

Buiten die dra van persoonlike beskermende toerusting (PPE) in die eenheid, bly die dokters wat vir die tydperk van twee weke aan diens is, in isolasie in verskafte akkommodasie.

TUISLEWE

Wanneer sy ná 'n skof tuiskom, ontsmet sy die “minimale besittings” wat sy by haar gehad het en stort.

In isolasie is jy weg van jou geliefdes totdat jou kwarantyn verby is, mits jy geen simptome ontwikkel het nie. Die enigste kommunikasie met familie is telefonies.

Die moeilikste oomblikke in die verlede sonder Fiona uit as pasiënte wat gesterf het, die feit dat sy nie 'n “warm druk” van haar man kan kry en wat vir haar sê “alles gaan oukei wees” nie. Ook was daar die bittersoet Nuwejaarsdag wat sy in die eenheid moes deurbring eerder as saam met haar man en vriende.

“Ek dink dit is 'n klein prys om vir iemand se lewe te betaal.”

Fiona sien gereeld op sosiale media mense wat die pandemie totaal afskiet en reëls verontagsaam.

Dit ontstel haar geweldig, erken sy.

“Miskien omdat niemand van hulle al gesien het hoe 'n pasiënt aan Covid-19 sterf nie. Dit is uiters onkundige gedrag.

Hoe kan hulle weier om 'n masker te dra en nie sosiale afstand te handhaaf nie en dit ten koste van iemand wat moontlik in die eenheid kan beland?”

Sy het baie geleer, sê Fiona. Sy het geleer selfs al was sy bang voordat sy met Covid-pasiënte gewerk het en algaande, danksy haar veerkragtigheid, kon sy hulle help.

“Ek het baie vinnig by die nuwe omstandighede aangepas. Op 'n hartseer noot val ek elke keer uitmekaar wanneer 'n pasiënt sterf. Ek glo dit maak nie saak hoe lank jy al as medikus betrokke is nie, die laaste pasiënt wat sterf, maak ewe seer soos die eerste een.”

Die beste deel van die einde van haar skof is om tuis te kom en nadat sy alles ontsmet en gestort het, “op te krul vir 'n WhatsApp-video-oproep met my man”.

Sy het weer begin om 'n geliefde tydverdryf op te neem en het weer begin lees.

Fiona het ook 'n blog begin, omdat skryf nog altyd 'n uitlaatklep vir haar emosies gebied het, sê sy. Sy erken ook sy het “verslaaf” aan 'n program op Netflix geraak en tydens die skofte in Mei het sy ontdek sy het 'n paar van haar ma se hekelvaardighede geërf en selfs 'n paar stukke gehekel.

“Ek het baie gehad om my gedagtes weg te neem van die aaklighede wat in die eenheid afspeel.”

Vir elkeen wat hulle nie steur aan beskermingsmaatreëls soos maskers nie, is haar boodskap om onselfsugtig te wees. Nie vir jouself nie, maar vir jou medemens wie se gesondheid dalk swakker is as joune.

“Jy mag dalk van Covid-19 wegstap, maar hulle mag moontlik nie.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!