• Tuisblad
  • Weer
  • Die Visrivier tussen Hardapdam en Neckartaldam
Die Visrivier tussen Hardapdam en Neckartaldam
Die Visrivier tussen Hardapdam en Neckartaldam

Die Visrivier tussen Hardapdam en Neckartaldam

Landskappe en die vloei van reënwater, spesifiek in Namibië se suide, fassineer ons Kaapse gasskrywer.
Kristien Kruger
Miskien moet ek net (weer) daarop wys dat ek nie die gebied waaroor dié plasing handel, goed ken nie.

Die inligting kom hoofsaaklik van Google-kaarte wat, soos ons weet, in só 'n mate vergroot kan word dat selfs plaasopstalle, groot bome, klein gehuggies en die name van riviere raakgesien en -gelees kan word. Dis nou indien riviername wel op die kaart verskyn.

Mevrou Google is egter ook feilbaar en al haar feite is uiteraard nie korrek nie. In hierdie kaartspeletjie is sy dus die sondaar en ek die sondebok.

Dié plasing volg op 'n vorige een (oor die opvangsgebied van die Hardapdam); ek besef terdeë dat die grootste gros mense nie in so 'n gedetailleerde en besige kaart met “onbelangrike” inligting geïnteresseerd sal wees nie. Gelukkig is dit vir my 'n lekker speletjie en boonop het die vorige plasing tog lewendige en interessante reaksie uitgelok. Ek plaas dit dus vir die halwe klein grossie wat wel belangstel.

My leke-mening (raaiskoot?) is dat die hoeveelheid water wat die Har­dapdam bereik ná goeie reën moont­lik meer is as die volume water wat van die Hardap af suidwaarts tot by die Neckartaldam deur die Vis se sytakke bygedra word (die hoeveelheid water wat uit die Hardap uitgelaat word uitgesluit).

Dit sê ek ten spyte van die feit dat die Vis self bo die Hardap seker net 120 km lank is (baie benaderd – nie soos die kraai vlieg nie, maar alle kronkels in die rivierloop ook nie ingereken nie). Ek raai die afstand tussen die Hardapdam en die Neckartal is waarskynlik (meer as) dubbel daardie afstand (250–300 km?). Die grootpad van Mariental af Keetmanshoop toe is ongeveer 230 km.

Verder skat ek dat die reënval in die opvanggebied van die Hardap waar­skynlik gemiddeld wel bietjie hoër is as onder die dam suidwaarts tot by die Neckartal. Daar is egter langer sytakke, bv. die Lewer en die Asab, suid van die Hardap.



SYTAKKE WAT VAN WES AF BY DIE VIS AANSLUIT

Die Lewerrivier (geel) ontspring (2) ongeveer 10 km wes van die Hardapdam en vloei dan so 125 km naastenby parallel met die Vis (blou – 1) in 'n suidelike rigting, amper nooit verder van die Vis af as 15 km soos die kraai vlieg nie. Hy kruis die C19 en die D1088 (twee keer), die D1084 en die D1089 op pad na sy aansluiting by die Vis, ongeveer 25 km wes van Asab.

Aangesien die twee riviere so lank so naby aan mekaar, en parallel, loop, kry die Lewer waarskynlik veel min water uit die ooste en die Vis (in daardie 100+ km) weinig water uit die weste.



SYTAKKE VAN DIE LEWERRIVIER

Die Tsubrivier (pienk) sluit sowat 25 km noordwes van Gibeon uit die weste aan by die Lewer, waar die D1112 by die D1088 aansluit.

Die Tsub en/of enkele sytakkies daarvan ontspring (3) volgens die kaart net wes van die C21 ongeveer 30 km noordoos van Maltahöhe; dit vloei suidwaarts oor die C19, byna 60 km oos van Maltahöhe, en daarna suidooswaarts tot by die aansluiting by die Lewer.

Die Hudup (groen) sluit 15 km wes van Gibeon by die Lewer aan. Soos die kraai vlieg, is dit seker naastenby 90 km van Maltahöhe af.

Die Hudup ontspring (4) ongeveer 15 km noordwes van Maltahöhe en vloei by die dorp verby. Die Haseweb (ook groen) is 'n sytakkie van die Hudub en dit lyk asof sy oorsprong (5) so 15 km suidwes van Maltahöhe is, naby die C14; hy sluit net wes van Maltahöhe by die Hudup aan.

Die Kanibes (rooi) ontspring (6) volgens die kaart ongeveer 25 km oosnoordoos van Helmeringhausen af en vloei dan ­oor­wegend ooswaarts – dit kruis onder meer die D554 voordat die Kuteb by die Kanibes aansluit. Die Kanibes sluit uiteindelik so 15 km noordoos van die Brukaroskrater en 25 km noordwes van Tses by die Vis aan.

Die kaart is egter verwarrend, want daar word ook aangetoon dat daar 'n (ander?) Kanibesrivier is wat in dieselfde omgewing (25 km oos van Helmeringhausen) ontspring en wat dan suidweswaarts vloei en naastenby 5 km van Helmeringhausen af by die Konkiep aansluit. Die Konkiep sluit eers suid van Ais-Ais by die Vis aan en daarom is hy nie van regstreekse belang vir die Neckartaldam nie. Terugvoer hieroor sal verwelkom word.

Die Kuteb (laventel) is 'n sytak van die Kanibes. Die Kuteb ontspring (7) ongeveer 8 km oos van waar die D811 en D808 by mekaar aansluit (30 km oos van die C14) en vloei dan suidooswaarts verby die punt waar die D1089 en die D414 by mekaar aansluit. Dit sluit by die Kanibes aan so 35 km wes van die Kanibes se aansluiting by die Vis en 25 km noordwes van die Brukaroskrater (oranje – gemerk “x”). Daar is 'n sytak-sonder-naam (van die Kuteb) (pienk) wat by Kutenhoas verby vloei.

By Berseba loop 'n rivier-sonder-naam (groen) wat 20 km noord, net wes van die Brukaroskrater, ontspring (8) – dit sluit sowat 12 km suidoos van Berseba by die Vis aan.

Nog 'n (effens groter?) rivier-­sonder-naam (bruinrooi) ontspring (9) êrens (suid)wes van Berseba en sluit 60 km km suid van die dorpie uit die weste by die Vis aan. Dis seker ­ongeveer 35 km noord van die Neckartaldam se wal.



SYTAKKE WAT VAN OOS AF BY DIE VIS AANSLUIT

Die Asab (swart) ontspring (10) ongeveer 15 km oossuidoos van Mariental, oos van die B1, net suidwes van die M29.

Dit vloei 90 km suidwaarts en kruis die D1066, die D3915, die C18 en die D1068 (twee keer) voordat dit die B1 van oos na wes kruis by die dorpie Asab (so 90 km van die Asab se oorsprong).

Ongeveer 35 km suid van die dorpie Asab en wes van die B1 sluit die Nauchab (geel) aan by die Asab. Hy ontspring (11) byna 25 km noordoos van die dorpie Asab en kruis die D1066, die D3919, die D629 en die B1, voordat hy 10 km verder suidwes by die Asab aansluit. Die Asab sluit by Vis aan net 10 km suid van die Kanibes-aansluiting.

Die Wasser (rooi) sluit aan by Vis 20 km suidsuidoos van Berseba. Die Wasser ontspring (12) suidoos van die rivier se aansluiting by die Vis (60 km soos die kraai vlieg).

Die Kafter (groen) is 'n sytak van Wasser – dit ontspring (13) 15 km noordoos van Tses. Die Huns (pienk) is 'n sytak van die Kafter en ontspring (14) 25 km oos van Tses.

'n Rivier-sonder-naam (swart) sluit ongeveer 25 km noord van die Neckartal se wal uit die ooste by die Vis aan. Dit wil voorkom of hy ongeveer 35 km noordoos daarvan ontspring (15). As die dam vol is, sal dié riviertjie se water waarskynlik direk in die dam in loop en nie in die rivier self nie.

Die Neckartaldam (donkerblou – 16) se wal is ongeveer 10 km noord van Seeheim, 40 km wessuidwes van Keetmans.



NECKARTALDAM

Die Neckartal se inhoudsmaat: 857 miljoen kubieke meter. Die dam is in 2018 voltooi en was nog nooit vol nie. Hy is tans (11 Januarie) amper 50% vol.

Die damwal is blykbaar 500 m breed (aan bokant) en 60 m wyd aan die onderkant. Die dam se oppervlakte sal ongeveer 45 vk km wees wanneer dit vol is – dit lyk of dit bykans 25 km sal opstoot in die rivier (kundiges moet my reghelp asb).

Dit wil vir my voorkom of die hoë verdamping in die warm droë klimaat tog teengewerk sal word deur die feit dat die dam redelik diep is, dat dit in 'n nou kloof geleë is en die damoppervlakte dus relatief “klein” is.

Die Theewaterskloofdam se oppervlakte is 'n bietjie groter (50 vk km) (2x groter as Neckartal), terwyl die inhoudsmaat daarvan slegs die helfte van Neckartal s'n is.

Kom ons plaas dit in “perspektief” met 'n paar vergelykings (nuttelose inligting wat jou van jou asem of sinne sal beroof):

Neckartal se inhoudsmaat is dieselfde as dié van Kaapstad se ses opgaardamme saam (Theewaterskloof, Voëlvlei, Bergrivierdam, Wemmershoekdam, Bo-Steenbras en Onder-Steenbras).

Gariepdam: 4 903 miljoen kubieke meter – bykans ses Neckartaldamme sal dus in die Gariep pas.

Voor ons in die RSA en Namibië te trots en opgewonde raak: Die Karibadam/Karibameer is die grootste mensgemaakte dam of meer op aarde. Die inhoudsmaat van die Kariba: 185 kubieke kilometer (185 000 000 000 kubieke meter). As my somme reg is, is een Karibadam dus = 210 Neckartaldamme, of 38 Gariepdamme, of 385 Theewaterskloofdamme…

Die varswatermeer met die grootste volume water op aarde is die Baikalmeer in Rusland (Siberië). Sy inhoudsmaat is 23 620 kubieke km. Dit beteken dat 127 Karibamere of 26 670 Neckartaldamme in die Baikal sou pas.

As die wêreld se grootste rivier, die Amasone, baie sterk vloei, vloei hy teen 300 000 kubieke meter per sekonde.

Dit beteken dat 'n leë Neckartaldam binne 27 minute (1 600 sekondes) sal volloop as die Amasone se water in die Vis sou afvloei (arme oewerbewoners).

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!