Die vlermuis
MANTIE SMITH SKRYF:
In die jare tagtig van die vorige eeu het die destydse Akademie (vandag die Universiteit van Namibië) ’n afstandsonderrigprogram gehad om veral onderwysers in die verafgeleë gebiede te help om geakkrediteerde onderwyskwalifikasies te verwerf.
Enigiemand wat Namibië ken of al daar gereis het, sal weet hóé ver gebiede soos Owamboland, Kavango en die Caprivi was. My vakgebied was opvoedkundige sielkunde, maar daar het ’n vakature vir ’n dosent in klasmusiek ontstaan wat dringend gevul moes word.
My vriendin en kollega vra of ek nie belangstel nie, aangesien ek op daardie stadium orrellesse by die Windhoekse Konserwatorium geneem het. Ek het nie juis ‘n musiekagtergrond gehad om oor huis toe te skryf nie, maar die department verseker my dat my ander onderwyservaring en -opleiding genoegsaam sal wees, want die handleiding is deur ’n knap persoon opgestel en die studente is ook oningewy in die vak.
Ons enigste persoonlike kontak met ons studente was tydens die vakansieskole, twee keer per jaar.
Die leser sal moontlik onthou dat die tagtigers die jare van die Bosoorlog was en om na die noorde te gaan, was nie ’n vanselfsprekendheid nie. Ek ontmoet my kollegas op die laaiblad by ’n kleinerige vliegtuig: dosente in vakke soos wiskunde, Engels en liggaamlike opvoeding (LO) en dan ek met my twee vakke.
Met my bagasie veilig gestoor klouter ek aan boord met my musiektas en instrumente wat ek by die Departement Klasmusiek geleen het: ’n metalofoon, ‘n paar tamboeryne en driehoeke en my man se trom wat hy by ’n hoofman in die Kavango present gekry het.
Ons loodse is baie bedrewe en joviaal en bring ons veilig op Ondangwa se vliegveld. Ons gaan in ’n gastehuis tuis en eet in ’n klub; regte BBP’s!
Die werklikhede van ons roeping en taak sou die eerste oggend begin deurskemer. Vol entoesiasme en met ons toerusting (my musiekinstrumente en die LO-dosente se sporttoerutsing – want daar is niks by die onderwyskollege op Ondangwa nie) daag ons per bus op. Ons moet aguur begin, want klasmusiek en LO sluit prakties ook in.
Die stilte rondom ons is oorverdowend; al beweging by die kollege is ‘paar hoenders wat skrop en ‘n paar boerbokke wat ongeërg aan die mopanies kou. Na ’n lang ruk merk een kollega lakonies op: “G’n wonder hulle noem dit vakansieskool nie.”
Half nege se kant begin die eerste studente gesels-gesels aangestap kom en ons begin klasse se kant toe staan. Eers word kaste deurgesoek vir bomme (“I kid thee not!”) en as mens uiteindelik jou span studente aangekeer het, kan jy begin kennismaak.
Dit blyk gou dat die vak klasmusiek nie baie gewild is by die studente nie. Ek begin vrae vra: dis duidelik dat notasieleer vir hulle so vreemd is as wat Grieks vir my sou wees en ek stel hulle gerus dat ons daardeur gaan kom.
Met allerhande bruggies begin hulle verstaan dat musieknote ’n soort taal is wat ‘n wysie voorstel; hulle leer ook toniese sulfa en sing lustig “do, re, mi . . .” Ons bemeester selfs ’n kanon en die groep moet my later daaraan herinner dat hulle lankal ’n koffiebreek moes gehad het.
Die middag ná klas tel ek peule van koraal- en kameeldoringbome op, sodat die studente die volgende dag kan meedoen aan die les oor ritme.
Die LO-dosente het die studente laat vlugbal speel en ons speel ook ‘n paar stelle om bietjie af te wen van die dag se werk.
In die klub se sitkamer bestel ek koffie want ek het nooit kans gehad vir ’n koffiebrekie nie. ’n Paar minute later daag ‘n skinkbord met ’n bottel Bernjäger en klein glasies op. Ek skud my kop; ek het dit nie bestel nie. Die kelner verduidelik: “Daardie muhona (meneer) sé mens drink nie aguur die aand koffie in Oshakati nie.”
Die volgende oggend takel ons die ritmeles. Die studente doen lustig mee en dis duidelik dat hulle oor ingebore musikale vermoëns vir ritme beskik.
Ons volg die bladmusiek op die truprojektor (dis die tyd voor Powerpoint). Hulle skud en rammel en tokkel dwarsdeur die rustekens.
Ek verduidelik dat daar rustekens van verskeie tellings is. Een help sy maat wat nie die kwart-rusteken raaksien nie: ”Hierdie een wat soos ’n vlermuis lyk, ou Slaapkous!” (laasgenoemde ’n woord wat hulle by die LO-dosent gehoor het en tydig en ontydig gebruik).
Die volgende oggend kry ons die skoknuus: ons vliegtuig is gesaboteer en kan nie vlieg nie. Daar is reeds twee vliegtuie op pad om ons te vervoer. Die groep is in twee verdeel tussen die twee vliegtuigies.
Ek dink by myself:”Daar is net ’n duimdikte blik tussen my en die ewigheid.” Die laagvliegery help ook nie juis vir die stamperige vlug nie.
Ons kom laat in die Kavango aan. Ons is agter en moet “spark”.
Daar is nie tyd vir prakties nie en ek gee die studente opdrag om ’n lied voor te berei en vir die dosente te sing. Op die ou end stel hulle ons nie teleur nie. Hulle natuurlike musikaliteit en talent roer ons diep met hulle natuurlike harmonieë waaraan ons so hard moet oefen en die Afrika-intonasie wat effens vreemd op ons Westerse ore val. Selfs die machomanne het ’n knop in die keel.
Die aand is ons nogal gedaan van die lang dag. Ek sit met ’n beker tee op my bed en oordink die dag. Ek herinner my die student se opmerking oor die kwart-rusteken en kyk na my bladmusiek.
Ja, sowaar. As mens dwars kyk, lyk dit nogal na ’n vlermuis.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie