Die voortreflike familie Smit
Die voortreflike familie Smit

Die voortreflike familie Smit

Henriette Lamprecht
Eendag was daar ’n familie: pa, ma, seun en dogter. Vir die doeleindes van dié geskrifte noem ons die ma Marié, die pa Gert, die seun Hardus en die dogter, heel gepas, ’n mengsel van pa en ma, en wel Gert-Marié.

Die gemene deler van die voortreflike familie Smit was die feit dat hulle net so lank was as wat hulle breed was.

Kos was nie net ’n kwessie van oorlewing nie, maar ’n noodsaaklikheid soos suurstof en lig. Ontbyt, middag- en aandete was ’n gewyde ritueel met smakkende lippe en taai vingers en wange.

Mamma Marié was die matriarg en die een wat die septer in die gesinnetjie geswaai het. Weliswaar nie openlik nie, ’n goeie vrou laat Pappa die leiding neem asof hy dit self uitgedink het, terwyl Mamma Marié heimlik weet die gelyke pad vorentoe was eintlik haar toedoen.

Die voortreflike familie Smit was koshuisouers, ’n rol wat hulle met groot pligsbesef en die nodige waardigheid baie ernstig opgeneem het. As gesinnetjie was hulle immers daar om ’n voorbeeld van gesinswaardes en eenheid daar te stel vir die sowat 67 studentemeisies wat so maklik die pad ver van die huis byster kan raak.

Mamma Marié was so bitter lief vir swart kreukelvrye potloodrompies, wat stigtelik net onder haar bolknieë geëindig het. Bo was immers die wit toeknoophemp wat haar meer soos ’n oorgewig kelnerinpikkewyn laat lyk het as ’n pastoriemoeder. Mamma Marié se skoene van voorkeur was swart tekkies.

Sonder ’n teken van ’n sool wat haar langer kon laat lyk op familiefoto’s as Pappa Gert. Mamma Marié se hart en boesem was maklik skoolbusgrootte en haar deur het altyd oopgestaan vir haar studentemeisies. Vir party meer as vir ander. Saans het sy ná haar kamferroomritueel van vryf-vryf aan hakke en elmboë haar stigtelike wit nagrok aangetrek wat tot bo met pêrelknopies toeklik. Oor dit ’n japon van dieselfde materiaal, wat vormloos hang.

Twee lae is beter weerstand as een. Saterdae laatmiddag, wanneer Pappa Gert gaan perde speel het, was Mamma Marié se deur in die hoek van die koshuis vir studentemeisies wat die naweek wou uitteken, net op uitnodiging ongesluit.

Dié uitnodiging het gewoonlik net een persoonlike een aan een persoonlike studentemeisie ingesluit. Vir die spesiale uitnodiging het die spesiale studentemeisie ook ’n swart potloodromp net duskant die knie en ’n wit toeknoophemp aangehad. En laat Saterdagmiddag stap dié spesiale studentemeisie in ’n kamfergloed terug kamer toe.

Pappa Gert se gunstelingtydverdryf van alle verdrywe was om soggens, stiptelik skuins voor sewe, die dag se munte uit die munttelefoon te gaan haal, wat op elke vloer van die meisieskoshuis regoor die badkamers geleë was.

Vanwaar hy met gretige vingers die munte uit die slotkassie gepeuter het, het Pappa Gert ’n volronde uitsig oor alles gehad wat uit ’n stort en ’n bad klim. Teen skuins ná sewe was Pappa Gert se gesig papnat gesweet van al die gewriemel met die munte en het hy hygend gesukkel om die muntkassie weer gesluit te kry. Vinnig-vinnig en skielik mank verdwyn hy enkele minute ná sewe net betyds na die veiligheid van hul bruin sitkamer met die lay-by Beares-meubels.

Liewe Hardus was met Mamma en Pappa se kortgeit en onbeholpe persoonlikhede geslaan, maar het alles in sy vermoë gedoen om hom teen dié oorerflikheid teë te sit. Hardus het gewoonlik sy verskyning met aandete gemaak.

Hare agteroor gejel, aknee toegedik met Gert-Marié se pimple stick, ’n fietsrybroek twee nommers te klein en wat steeds nie gehelp het om die vertoon van robuuste manlikheid enigsins ’n hupstoot te gee nie. Op sy hemp, ook twee nommers te klein, sonder kraag of moue, was gewoonlik Hardus se woord vir die dag. Hy was die liefste vir “Woes”. Niks behalwe sy stem wat met elke vokaal soos ’n muis gepiep het, was woes nie.

Arme Gert-Marié kon nie haar familie kies nie. Sy het nie muntstukke uit munttelefone gehaal nie en ook nie rompe en wit hemde gedra nie. Sy was een van ons. Arme Gert-Marié.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!