Die Voortrekkers trap van nuuts af diep spore

Die Voortrekkers in Namibië wil vanjaar twee dienslewerings­projekte van stapel stuur.
Yandi Du Plessis
Die Voortrekkers vier vanjaar hul 90ste bestaansjaar met die tema “Voortrekkers gaan groot”. Die Voortrekkers in Namibië deel vanjaar in dié opwinding en het groot planne.

Hulle wil vanjaar twee diensleweringsprojekte van stapel stuur.

“Tydens die Mei-skoolvakansie gaan die Verkenners (graad 8 tot 12) op die Gebiedskamp saam met ­renosterbewaarders werk en ons mik om N$50 000 te oorhandig, N$10 000 vanaf elke gevestigde Kommando,” vertel me. Elmine McCarthy, die persoon in beheer van die Voortrekkers Namibië se bemarking.

Die tweede projek is ten bate van die Kankervereniging van Namibië (CAN), waar hulle 500 gebreide poppies wil oorhandig aan enige kind of volwassene wat in die hospitaal is, dus is dit 100 poppies per Kommando.

“Die droom is om 900 poppies te kan oorhandig en ons het die publiek se hulp daarmee nodig,” sê ­McCarthy.

Die oorhandiging sal na verwagting tydens die Voortrekkers se Augustus-feeskamp plaasvind.

Inskrywingsfooie en borge vir drie tot vyf fietsryspanne in die Nedbank Desert Dash sal ook help om hierdie mikpunt te bereik, sê sy.

“Ons wil graag vanjaar meer volwassenes werf wat spanleiers of offisiere kan word. Dit stel ons dan in staat om meer kinders te betrek.

“Selfs jongmense kan as Staatmakers aansluit en as ondersteuning optree met spanne, saam kamp en die Voortrekkers as platform gebruik vir leierskapontwikkeling,” vertel McCarthy.

Die Voortrekkers beplan ook vanjaar 'n toer om plattelandse dorpe te besoek wat nie ­Voortrekkers of kommando's het nie.



SPESIALE FEESLIED

Om hul 90ste bestaansjaar te vier, is 'n spesiale feeslied, Die spore wat ons los, pas bekend gestel. Die lied word deur die gewilde musikant Adam Tas gesing.

Tydens die skoolvakansie in ­Augustus word 'n landswye Voortrekkerkamp op Swakopmund aangebied. Tydens dié kamp sal Adam Tas optree en onder meer dié nuwe lied sing.

“Dit is 'n baie groot voorreg vir my om dié lied te sing. Ek is 'n groot voorstander om jou kinders van die geskiedenis te leer. Jy moet weet waar jy vandaan kom om te weet waarheen jy op pad is. Ek was as kind ook 'n Voortrekker vir 'n paar jaar. Daarom is die voorreg om vandag oor dié jeugorganisasie se 90ste bestaansjaar te sing, nog soveel groter vir my. (Die) Voortrekkers is in jou gegrond,” sê Adam.

Die lied is deur Johan Vorster, bekende liedjieskrywer, sanger en vervaardiger, en sy vennoot ­Jacomien de Villiers, van Inhoud Huis Musiek, geskryf.

Die musiekvideo vir hierdie lied is deur Dapper Media vervaardig en in die Voortrekkermonument verfilm en word binnekort bekend gestel.

Met hierdie lied bevestig Die Voortrekkers nie net die ononderbroke rol wat dié jeugorganisasie vandag nog speel nie, maar soek ook die verband met die verlede op deur erkenning te gee aan die spore van gister.

Dr. Danie Langner, hoofleier van Die Voortrekkers, sê die Voortrekkerspore is in die kontoere van die Drakensberg gekerf, eers in 1837 deur die eerste Voortrekkers en daarna in 1968 en 2016 deur moderne Voortrekkers.

“Die lied is toekomsgerig, want ons storie word steeds in Afrika uitgekerf en die toekoms wink vir ons. Die lied bevestig die Voortrekkers se geloofsgrondslag, maar ook die Voortrekkerkarakter soos integriteit ('n Voortrekker se woord is sy eer), dade van durf en diensbaarheid. Dit is die spore wat ons wil los. Die lied roep Die Voortrekkers op om steeds die Voortrekkerfakkel veilig na môre te dra,” voeg hy by.

Die spore wat ons los is op alle digitale platforms beskikbaar.

Kontak [email protected] of namibievoortrekkers­[email protected] vir meer besonderhede.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!