Die waarde van Simmentalers in kruisteling

Die Simmentaler Beestelergenootskap van Suidelike Afrika het onlangs ’n promosiedag op die plaas Otjisauna naby Windhoek aangebied waar die waarde van dié ras in kruisteling die tema was.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Namibië was die eerste land buite Europa waar Simmentaler suksesvol gevestig is, met die eerste diere wat so ver terug as 1893 in die land aangekom het.

Die Simmentaler is steeds een van die gewildste rasse in die land wat die meeste in kruisteling gebruik word.

Toe produsente op 16 Junie ’n promosiedag op die plaas Otjisauna naby Windhoek bygewoon het, was dit dan ook die stoetveekenner, Kiep Lepen, se lesing oor die gebruik van hierdie ras in suksesvolle kruisteling in Namibië, wat groot belangstelling ontlok het.

Verder het Dawid Krause van Voermeester maniere bespreek waarop boere vleisproduksie kan verhoog. Roelie Venter, uitvoerende bestuurder van die Namibië Landbou-unie (NLU), was die ander spreker en sy lesing het oor die drywers van winsgewendheid gehandel.

VOODELE VAN KRUISTELING

Volgens Lepen kan die Simmentaler sinvol in kruisteling gebruik word om die doeltreffendheid van produksie te verhoog.

Hy het egter in dieselfde asem gemaan teen onbeplande en ondoeltreffende kruistelingsprogramme wat bloot tot ’n verbastering van rasse lei.

Doelgerigte en goedbeplande kruistelingstrategieë is belangrik vir sukses en daarom moet boere kennis van rasse en hul aanwending hê. Goeie bestuursvaardighede, deeglik beplande infrastruktuur en voldoende kampe is ook noodsaaklik, het hy gesê.

“Heterose, of basterkrag, is die kragtigste hulpmiddel vir waardetoevoeging tot vleisbeeste,” sê Kiep. Deur middel van kruisteling kan beeste geproduseer word wat minder vreet, maar vinniger groei – wat vleisproduksie verbeter en koste verminder.

“Heterose is die genetiese voordeel wat die nageslag toon deur die vermenging van die ouers se gene en komplimentariteit is die wyse waarop twee of meer eienskappe kombineer, of mekaar aanvul, om die voortreflikheid van ’n dier te bepaal. Kruisteling ontgin die basterkragkomponente van rasdiversiteit en hul komplimentêre bydrae,” het hy verduidelik.

Beesrasse word in twee spesies verdeel, naamlik Bos taurus en Bos indicus. Eersgenoemde is die kontinentale en Britse vleisrasse van Europese oorsprong, terwyl Bos indicus, of Zebu-rasse, vanuit Asië, Indië en Afrika afkomstig is. Hulle het ’n skof en lang ore.

Rasse verskil van mekaar ten opsigte van grootte, vrugbaarheid, bespiering, melkproduksie, kalfgrootte, karkaseienskappe (maer of vet), gehardheid en haarkleur.

Rasse word geklassifiseer as vroegryp-tipes (kleinraam) of laatryp-tipes (grootraam). Dit verwys na die ouderdom van karkasvolwassenheid, die vetneerlegging en graderingsvermoë asook die ouderdom waarop die dier puberteit bereik, sê Lepen.

Die verbetering van speenmassa word uitgedruk in die persentasie wat die nageslag swaarder weeg as die gemiddelde speengewig van die ouers. Verhoogde vrugbaarheid in die geval van Bos taurus x Bos indicus-kruisings, word grootliks aan heterose toegeskryf.

Só word geteel vir kruiskoeie wat meer vrugbaar is, langer leef en meer doeltreffend is.

Kruiskalwers is meer gehard en het ’n beter oorlewingsvermoë as gevolg van ’n sterk ontwikkelde imuunstelsel.

Kruiskoeie ontwikkel beter immuniteit met inenting en voorsien kalwers van kolostrum wat meer teenliggaampies bevat. Kruiskalwers is dus gesonder as suiwer kalwers.

Daarbenewens groei kruiskalwers vinniger en bereik swaarder gewigte.

Kruiskalwers pas ook beter aan by sub-optimale omgewings, het hy verder verduidelik.

WAAROM SIMMENTALER?

Lepen wys daarop dat die Simmentaler oor unieke eienskappe beskik wat dit die ideale ras maak om in kruisteling te gebruik:

· Mediumraam-ras met matige onderhoudsbehoefte;

· Vroeë geslagsrypheid;

· Uitstekende moedereienskappe;

· Hoë melkproduksie;

· Speen swaar kalwers;

· Uitstekende groeivermoë en bouvorm; en

· Produseer ideale kalf vir intensiewe afronding.

Hy sê navorsing wat by die proefplase Omatjenne (Otjiwarongo) en Mara (naby Polokwane) gedoen is, toon die Simmentaler is uiters geskik as

bulras in terminale kruisteling, asook in tweerasrotasie kruisteling. Die redes is die volgende:

· Goeie dekvermoë met hoë besetting (88,9 % tot 92,8%);

· Maklike kalwing;

· Geboortemassaverhouding van 8,1 % tot 9%;

· Voldoende speengewig van 201 kg tot 249 kg; en

· Die doeltreffendheid in speenmassaverhouding en per 100 kg koei gepaar is 50,2 – 51,1% en 36,6 – 40,9%.

TELING VAN AANGEPASTE BULLE

Lepen sê ’n aangepaste Simmentalerbul moet oor die volgende eienskappe beskik:

· Vroeg geslagsryp;

· Voldoende libido;

· Aanvaarbare kwaliteit semen;

· 90 % besetting in beperkte teelseisoen, sonder noemenswaardige gewigsverlies; en

· Teel vrugbare verse.

Hy sê om veldaangepaste bulle te teel bly ’n uitdaging en stel groot eise. Sukses daarmee hang grootliks van die produksie-omgewing en vlak van bestuur af. ’n Strawwe subtropiese omgewing plaas ’n beperking op genetiese vermoëns van beeste.

Volgens hom toon statistieke dat die getalle van geregistreerde Simmentalers effens toegeneem het. Die verkope van Simmentalerbulle bly egter redelik konstant.

Sy raad aan produsente is om Simmentalerbulle in tweeras- en drierasrotasie- en in terminale kruisteling.

Verder raai hy produsente aan om Simmentalerbulle in speenkalfproduksie-gebiede gebruik.

In die ooste en noordooste van die land kan boere Simmentalerbulle op ouer koeie en die swakker derde van koeikudde gebruik en die nageslag as speenkalwers bemark.

Dieselfde kan gedoen word as produsente Simmentalerbulle op F1-kruiskoeie gebruik.

RUMENONTWIKKELING VERBETER PRODUKSIE

Krause het in sy lesing op die ontwikkeling van die rumen (grootpens) klem gelê aangesien dit die vrugbaarheid van koeie verhoog, hoër speenmassas teweeg te bring en beeste in staat te stel om droogtetoestande beter te hanteer.

Hy het gesê beeste met ’n beter ontwikkelde rumen, benut weiding doeltreffender en kan vroeër bemark word.

Rumenontwikkeling word primêr deur die inname van droë materiaal teweeg gebring. Daarteenoor word ’n gesonde rumen-epiteleum deur propioon en bottersuur bewerkstelling. Die vermentering van stysel is verantwoordelik vir die vrystelling van hierdie twee vlugtige vetsure.

Krause sê Voermeester se voedingsprodukte word gevolglik ontwikkel om genoegsame stylsel te bevat.

Hy het die volgende as belangrik vir die volhoubare ontwikkeling van vleisproduksie uitgesonder:

· Gebruik die heel beste bulle moontlik vir jou kudde en omstandighede;

· Selekteer jou vroulike diere vir verhoogde produksie;

· Weet wat jou weiding bied (voedingswaarde, omgewingstekorte en hoe om dit aan te vul);

· Bestudeer metodes hoe om meer kilogramme per hektaar te produseer; en

· Meet, weeg en verkry data om ingeligte besluite te neem.

MAAK DIE SOMME REG

Venter het daarop gewys dat produsente beheer moet neem van dié produksie-aspekte wat wins per hektaar beïnvloed.

Hy het dr. Michael Bradfield van Breedplan-faam aangehaal wat gesê het bestokking is agt keer meer belangrik as vrugbaarheid, en vier keer meer belangrik as die dier se groeitempo. Die bestokking per hektaar is volgens Bradfield dus die nommer 1 winsdrywer.

In dié verband het Venter proewe voorgehou wat toon hoe bosuitdunning op ’n bepaalde plaas die bestokking van 25 kg per hektaar tot meer as 40 kg per hektaar verhoog het.

Danksy die beter weidingstoestande en hoër bestokking, kon die boer sy produksie byna verdubbel en dit van 9,5 kg per hekaar tot 17 kg per hektaar verhoog.

Hy het verder daarop gewys dat produsente die volgende moet meet en vergelyk:

· Gemiddelde bestokking per hektaar;

· Produksie per hektaar; en

· Produksiepersentasie (die kilogramme geproduseer as ’n persentasie van die gemiddelde bestokking.

Die formule vir produksie per hektaar is die volgende: Kuddemassa aan die einde van die jaar, minus die kuddemassa aan die begin van die jaar, minus die kilogram lewende gewig aangekoop, plus die kilogram lewende gewig verkoop.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!