Die Windhoek-deklarasie: 30 jaar later

Die veteraanjoernalis Gwen Lister kyk terug op die geskiedkundige aanvaarding van die Windhoek-deklarasie in 1991 en gesels met tydgenoot Estelle de Bruyn oor die uitdagings waarmee die media vandag te kampe het.
Estelle de Bruyn
Estelle de Bruyn – Op 3 Mei dertig jaar gelede het ’n groep joernaliste van Afrika geskiedenis gemaak toe hulle die sogenaamde Windhoek-deklarasie vir die ontwikkeling van ’n vrye, onafhanklike, pluralistiese pers aanvaar het.

Die uiteindelike deklarasie was die produk van ’n seminaar wat deur Unesco van 29 April tot 3 Mei 1991 in die Namibiese hoofstad aangebied is.

Dit is onwaarskynlik dat enige van die oorspronklike deelnemers aan die seminaar by die Safari Hotel in Windhoek destyds die impak van die aanvaarding van dié deklarasie sou kon voorsien.

Sedert die aanvaarding van die dokument is dit allerweë as uiters invloedryk bestempel.

Ondanks al die uitdagings wat die media wêreldwyd in die gesig staar en pogings uit verskeie oorde om persvryheid aan bande te lê, bly die Windhoek-deklarasie ’n baken van lig in die verbintenis tot mediavryheid.

Een van die rolspelers wat ’n reusebydrae gelewer het tot die welslae van die seminaar en die uiteindelike aanvaarding van die deklarasie, is Gwen Lister.

Sy was die voormalige redakteur en stigter van The Namibian en die voorsitter van die Namibia Media Trust. Sy was in 1991 ’n medevoorsitter van die Verenigde Nasies se Onderwys-, Wetenskap- en Kultuurorganisasie (Unesco)-seminaar, waar die Windhoek-deklarasie aanvaar is. Republikein het met haar gesels.

Wie het die 1991 Unesco-seminaar in Windhoek bygewoon?

Verskeie Afrika-joernaliste en heelwat van hulle is deur die bemiddeling van Unesco se direkteur-generaal, Federico Mayor, uit die gevangenis vrygelaat om die seminaar by te woon. Een van hulle was my medevoorsitter by die seminaar, Pius Njawe van Kameroen, die redakteur van Le Message, wat die meeste kere in hegtenis geneem is. Benewens die joernaliste en redakteurs, was daar ook verteenwoordigers van regeringsmedia aanwesig.

As ek reg verstaan is die seminaar deur Unesco, op versoek van ’n groep Afrika-diplomate wat die Oos-Wes Tafelrondte wat in Februarie 1990 in Europa gehou is, aangebied. Hoekom is Windhoek gekies om die seminaar te huisves?

Unesco se Alain Modoux is gevra om ’n seminaar “vir Afrikane deur Afrikane” te reël en hy het dit gedoen. Windhoek is as gasheerstad gekies omdat Namibië net die jaar vantevore onafhanklik geword het met ’n Grondwet wat wyd in die Afrika-konteks bewonder is.

Ek is gevra om as voorsitter op te tree, maar het ’n medevoorsitter, Njawe, ingebring omdat die werk as voorsitter van die seminaar en as werkende redakteur net te veel was.

Wat het die agenda van die seminaar behels?

Die seminaar het ’n aantal onderwerpe gedek wat media in Afrika raak. In die eerste plek die oorheersing van die regering op hierdie gebied. Namibië se Grondwet het voorsiening vir persvryheid gemaak en dit het beslis die afgevaardigdes geïnspireer om die deklarasie “vir ’n vrye, onafhanklike en pluralistiese media” te aanvaar. Dit sou ander Afrikalande in staat stel om Namibië se voorbeeld te volg.

Verskeie joernaliste het as “guerrilla tikmasjiene” bekend gestaan, joernaliste in verskeie Afrikalande wat onafhanklike koerante op die been gebring het, selfs in die aangesig van regeringsopposisie en die inhegtenisname van onafhanklike joernaliste. Nog ’n kwessie was die reuse-uitdagings wat met die invoer van toerusting en regeringsbelasting op drukperse ondervind is.

Was die hoofdoel van die byeenkoms om die deklarasie te aanvaar of was dit iets wat spontaan deur die verloop van die seminaar ontluik het?

Dit was ’n bietjie van beide.

Watter van die besprekings by die seminaar het vir jou uitgestaan?

Ek dink die hoofbespreking was die stap om aan te dring op die reg dat onafhanklike media mag bestaan, in ’n Afrika wat deur regeringsbeheer oor gedrukte media en nasionale uitsaaiers oorheers is. Die stemme van die enkele verteenwoordigers van regeringsmedia is vinnig stil gemaak in die aangesig van die aandrang dat Afrika-regerings ’n omgewing skep om vrye, onafhanklike en pluralistiese media te laat gedy.

’n Paar jaar later het sowel die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) en die Afrika-unie (AU) die deklarasie bekragtig, wat na my mening ’n era in Afrika ingelui het, wat nie net die bestaan van onafhanklike media meer aanvaarbaar gemaak het nie, maar dit ook moontlik gemaak het om te begin floreer.

Die Windhoek-deklarasie het die weg vir die totstandkoming van die Media Instituut van Suider-Afrika (Misa), ’n jaar later, gebaan toe ’n groep onafhanklike joernaliste van Suider-Afrika saamgekom het om ’n organisasie te vorm om persvryheid op die subkontinent te monitor. Onder hulle was Fred M’Membe van Zambië, Methaetsile Leepile van Botswana, Makani Kabweza van Zimbabwe, Al Ousman van Malawi, Ndimara Tegambwage van Tanzanië, Mario Paiva van Angola, Fernando Lima van Mosambiek en Govin Reddy van Suid-Afrika.

As jy terugkyk, kon jy die massiewe impak wat die aanvaarding van die deklarasie internasionaal sou hê en selfs die erkenning van 3 Mei jaarliks as Wêreldpersvryheidsdag, voorsien het?

Ons kon nie voorsien dat hierdie deklarasie die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies sou aanspoor om 3 Mei, die dag van die aanvaarding van die deklarasie, in 1992 as Wêreldpersvryheidsdag te verklaar nie. Die deklarasie is ook deur media in ander dele van die wêreld nagevolg soos hulle ook op die reg tot vryheid en onafhanklikheid aangedring het. Die Sofia-verklaring in Bulgarye, die Sanaa-verklaring in Jemen, die Alma Ata-verklaring in Kazakstan en ander het hieruit voortgevloei.

Ek dink dit was ’n baie trotse oomblik vir die media in Afrika en was sedertdien die leidende lig vir vrye en onafhanklike media.

Gedurende die afgelope jare veral het ons internasionaal ’n skrikwekkende toename in die swartsmeer van die media, aanvalle op die media en selfs die moord van joernaliste gesien. Hoe kan dit bekamp word?

Ek sê altyd die stryd vir mediavryheid kan nooit ten volle gewen word nie. Selfs in Afrika word dit dikwels gekarakteriseer as ’n een stap vorentoe en twee stappe terug scenario. Nie net die media nie, maar mees kritiek die publiek moet vennote wees om te verseker dat hierdie vryhede in dikwels brose demokrasieë beskerm word.

Wat is die grootste struikelblokke wat die media tans in die gesig staar?

Daar is ’n aantal reuse-uitdagings vir die oorlewing van goeie joernalistiek, sowel in Afrika as verder te lande. Dit sluit kritieke kwessies soos volhoubaarheid en oorlewing in. Die bestaan van tradisionele media word toenemend deur die digitale tsoenami bedreig. In tandem hiermee moet die media skeppend in hierdie moeilike tye wees en verseker dat goeie joernalistiek, vir die onthalwe van demokrasie, oorleef. Hierbenewens is kwessies soos die toekoms van ondersoekende joernalistiek, hoe die media die toenemende vloedgolf van disinformasie kan bekamp en die strewe na die veiligheid van joernaliste en geen straffeloosheid vir misdade teen hulle nie, ook op die agenda.

ANTON HARBER gee perspektief

Wat was die impak van die aanvaarding van die Windhoek-deklarasie vir vryheid van die media die afgelope 30 jaar?

Die Windhoek-deklarasie het die maatstaf vir vryheid van die media gestel ten tye van optimisme, toe baie lande besig was om ’n nuwe era van demokrasie te verwelkom. Dit het die aandag gevestig om sleutelaspekte, soos pluralisme en die beskerming van joernaliste, wat aandag in baie Afrikalande geverg het. Vordering sedertdien was kol-kol, stop en weer begin. Wanneer ons egter hierdie kritieke demokratiese ideale wil meet en bevorder, verwys ons terug na hierdie belangrike dokument.

Wat beskou jy as die grootste uitdagings vir die media op die pad vorentoe?

Volhoubaarheid is die mees knellende probleem vir die nuusmedia, met finansiële druk en ondermyning van media diversiteit, pluralisme en onafhanklikheid. Ons kan nie ’n doeltreffende en onafhanklike media hê tensy die media die finansiële sterkte het om sy kritieke rol ter ondersteuning van demokrasie te speel en ekonomiese welvaart te verseker nie. ’n Deel van die uitdaging is om die mag en oorheersing van die groot tegnologiereuse die hoof te bied.

Voorts moet ons steeds joernaliste teen aanvalle, hetsy van onverdraagsame regerings, magtige sakeondernemings of sosialemediatrolle beskerm. Daar is steeds heelwat werk wat gedoen moet word.

*Anton Harber is 'n gerekende ondersoekende joernalis en skrywer in Suid-Afrika. Hy doseer ook joernalistiek aan die Witwatersrand Universiteit (Wits). Harber is die sleutelspreker op 29 April tydens die Redakteursforum van Namibië (EFN) se 2021 Joernalistiek-toekennings in Windhoek. Die prysgeld van N$100 000 en glansaand word deur FNB Namibia geborg.

FOTO's

Die ondersoekende joernalis Anton Harber se boek So, For The Record is 'n blitsverkoper. Hy het ook destyds die Windhoek-seminaar bygewoon.

Die veteraanjoernalis Gwen Lister. Foto followherlead.org

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!