Die wêreld is sy skilderdoek
'n Talentvolle Namibiër het 'n aanlyn platform geskep om plaaslike kuns en kunstenaars te help bemagtig.
Yandi du Plessis
Oscar Muyambo, 'n grafiese ontwerper, digitale kunstenaar, skrywer én musikant, is die man wat verantwoordelik is vir Oscar's Designs, 'n aanlyn platform wat geskep is om plaaslike kuns en kunstenaars te bemagtig.
Dié inisiatief bestaan uit twee afdelings – Oscar's Art Movement en Oscar's Design Academy – wat onderskeidelik dien as 'n platform vir kunstenaars om hul werk ten toon te stel en 'n leerplatform vir diegene wat in grafiese ontwerp en kuns belangstel.
Slegs Oscar se eie kuns word tans op die blad vertoon, maar hy sê hy sal beslis ander plaaslike kunstenaars se werk op sy blad uitstal.
“Ek sal graag met talentvolle Namibiese kunstenaars wil saamwerk aan projekte wat meer internasionale blootstelling meebring, of wat winsgewende werksgeleenthede skep. Die doel is om 'n winsgewende en volhoubare band te smee tussen suksesvolle maatskappye en kreatiewe, talentvolle individue wat beide partye in die toekoms kan bevoordeel,” het hy gesê.
Hy het bygevoeg dié maatskappye kan meer plaaslike kunstenaars vir hul bemarkings- en sosialemediaveldtogte aanstel. In ruil hiervoor sal die kunstenaars iets uniek lewer wat die maatskappy se bemarkingstrategie 'n hupstoot kan gee.
“Dit is 'n wen-wen situasie. Die doel is om hulle te oortuig plaaslike talent is wél beskikbaar.”
Oscar skep sy kuns eers digitaal en laat druk dit dan op doek. Hy sê die grootste uitdaging van digitale kuns is om die werk so realisties as moontlik te laat lyk, “die teenoorgestelde van die meeste kunstegnieke.”
“Die skoonheid van digitale kuns is dat daar nie perke is nie, en jy kan dit op verskillende media druk, van doeke tot aandenkings.
“Die ander voordeel is dat dit minder morsig is en jy voortdurend foute kan uitstryk.”
Oscar het tans verskeie versamelings wat hy op die Oscar's Art Movement-blad vertoon. Native Namibian Women Collection, Native Big 5 Collection, Sossusvlei Landscape Namibia en African Spirit Muses Collection is maar van die virtuele uitstallings.
Hy vertel dit het alles by die Native Namibian Women Collection begin.
“Dit het my kenmerkende styl geword wat die weg gebaan het vir my ander werk. Dit beeld die sensuele skoonheid van ons plaaslike stamme en hul pragtige vroue uit, maar op 'n manier wat ek gevoel het ongewoon en uniek was. Ek het die mees prominente stamme gekies waarvoor Namibië bekend is, naamlik Himba, Oshiwambo, Herero en San, en dit uitgebeeld.
“Toe hierdie portrette begin verkoop, het dit my aangemoedig om my kreatiwiteit uit te brei en meer inspirasie uit plaaslike temas te put.”
Werksgeleenthede
Oscar hoop om deur sy inisiatief meer werksgeleenthede in die kunsbedryf te skep.
“Dit is jammer dat die kuns- en ontwerpbedryf tans meer as 'liefdadigheid' beskou word, eerder as om die winsgewende waarde en potensiaal te verwesenlik.”
Hy vertel hy wou met die platform meer bewustheid oor dié kwessie skep en sodoende die lewens van kunstenaars asook kunsliefhebbers verryk.
“Almal kan deesdae op sosiale media uitsaai. Vir besighede om advertensiekoste te bespaar, kan hulle hul eie ateljees skep vir inhoud en sosiale media as 'n uitsendingsplatform gebruik. Dit sal hulle aanmoedig om meer kreatiewe mense in diens te neem vir die skepping van inhoud om sodoende onbeperkte advertensies uit te saai.
“Ek probeer die kunstenaars aanmoedig om meer vertroue in hul werk te hê. Die fokus moet op waardeskepping wees en hoe voornemende kliënte voordeel uit unieke en kreatiewe skeppings sal trek. Ek wil hê ons kunstenaars moet hulself voortdurend uitdaag om hul vaardighede te benut en uiteindelik iets waardevol te skep. Hulle moet ook die grondbeginsels van verkope en bemarking leer. Ek glo niemand is op enigiets geregtig nie en kreatiwiteit alleen gaan jou nie ver bring nie.”
Grafiese ontwerp, webbladontwerp en sosialemediabemarking is van die dienste wat Oscar's Designs meestal aan klein en medium ondernemings bied.
Oscar het natuurlik self die webblad ontwerp. “Ek het myself geleer om webblaaie te ontwerp ná ek gefrustreerd geraak het met iemand wat ek betaal het om 'n webtuiste te ontwerp. Ek was só ontevrede met die gehalte, ek het myself belowe ek gaan dit self doen,” vertel hy.
Oscar's Designs Academy
'n Aangesig tot aangesig leerprogram vir diegene wat Oscar se kennis wil inspan, word aangebied om hul eie grafiese ontwerp- en webblad-ontwikkelingsvaardighede te ontwikkel.
“Sosiale media het intussen winsgewend geraak en dit sal 'n voordeel vir mense inhou om te leer hoe om promosiemateriaal vir hulself of hul besighede te skep deur hierdie vaardighede aan te wend. Ek wil ook bewys dat mens nie noodwendig 'begaafd' hoef te wees om grafiese ontwerp te leer nie,” vertel hy oor sy nuwe inisiatief.
Tot dusver het hy met vyf studente gewerk, maar hy vertel daar was alreeds baie navrae.
Die man agter die kuns
Hy vertel hy het homself grafiese ontwerp geleer toe hy maar 19 jaar oud was.
“Kreatiwiteit was nog altyd die episentrum van my siel. Ek het begin musiek maak toe ek 14 jaar oud was deur musiekprogramme soos Fruity Loops te kyk. Mettertyd het ek agtergekom jy kan basies enige program bemeester as jy die tyd en moeite insit, veral as jy genot daaruit put om nuwe vaardighede aan te leer.
“Sedertdien het ek besluit om 'n ewige 'student van die lewe' te wees en my vaardighede konstant te verryk,” sluit hy af.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie