Die wynglase sing suiwer
Venesië 2
Pedro Vorster - “Snobs,” sê Ivan Daniel Paolo van die B&B-hotelletjie waar ons tuisgaan vir twee nagte en ‘n dag, hopeloos te kort vir ‘n kuier in die ou stad.
Hy is op die Venesië-vasteland gebore, werk al dekades in die 14de eeuse bed-en-brêkfis op die hoofeiland, maar steeds minag die plaaslike hoipolloi hom.
Hy gee ons ‘n kaart van die Venesiese eilande. Die romantiese ou stad lê gedeeltelik op die vasteland en versprei oor ‘n strandmeer van meer as ‘n honderd eilande. Burano-eiland spog met ‘n fynkantwerkmuseum en Torcello het ‘n stokoue antieke kerk. Murano is spesiaal - hier is die oorsprong van die beroemde Venesiese glaskuns en hul skep steeds vuurwarm items.
Sommige van die delikate glaswerke nooi jou in na ‘n helder fantasiewêreld. Kyk diep en jy sien glashaaie, -anemone en -jellievisse met fyn waaiertentakels. Glasbeeldjies binne glas, suiwer asof vasgevang in ‘n reusewaterdruppel. ‘n Glaskandelaar se tentakels krul minagtend bevry van gravitasie in enige rigting. Die vakmanskap is verstommend. So ‘n werk kos die prys van ‘n klein motorkar, maar gelukkig is daar bekostigbare opsies soos unieke oorkrabbertjies en glashalssnoere.
Venesië se wynglase sing. ‘n Straatmusikant pak ‘n opvoutafeltjie vol met wynglase, vul hulle nootvas met water, en van sy nat vingers zoem ‘n toccata van Bach. Pink Floyd se David Gilmour vind die man se vaardigheid so uniek, hy nooi hom om saam op te tree in een van sy “gigs”.
Die aand op die piepklein hoteldaktuin gaan ons gasheer Paolo aan die praat en dit raak ’n soort ontboeseming. Hy het as ‘n blou baret in die destydse Mosambiek vir ses maande die vrede help handhaaf. Omdat dit verpligte diens was, was dit vir hom uiters moeilik, want hy is ‘n vry gees.
Die motorbote wat dien as watertaxi's, stem die stad onrustig en bring ‘n gejaagdheid waar luier meer gepas sou gewees het. Al brom die skuite laag, kap die skroewe die ou kanaalfasades se weerkaatsings flenters.
Saterdagaand, ons eerste aand in die stad van maskers, lei my ore my na ‘n plein, die Campo Santa Margharita, na aan ons blyplek. Die aand is soel. Die skare is in twee verdeel. Die ouer groep sit kuis op die oop plein, terwyl die jongeres versamel in ‘n stampvol rokerige kafee waaruit vars ritmes pols. Die musiek is moeilik om te klassifiseer. Die Ooste ontmoet die Weste, vermeng met ‘n Afrika-element. Ek doop die klank “Gibraltar”, want dit is ook rock.
Die bier is gedoriewaar billik en die dansers musiekdronk. Die “vibe” is gemoedelik totdat ‘n groep grootbek- Amerikaanse jonges opdaag. ‘n Polarisasie bou op in die gemoedere en skielik lyk slaap na ‘n veilige opsie.
Die oggend vroeg vorm toeriste toue by al wat ‘n bekende besienswaardigheid is. Om ‘n oorkoepelende gevoel van die stad te kry, draal ons deur die stegies na die bekende San Marco-plein en Doge se paleis. Om elke hoek en draai ontdek jy iets besonders. Een winkel spog dat sy maskers deur Kidman en Cruise gedra is in die fliek Eyes wide shut.
Venesië is strate met beroemde peperduur winkels, toegang op afspraak, foto’s verbode en ‘n jong man in ‘n verkreukelde T-hemp wat ‘n kers opsteek in die Basilica di Santa Maria della Salute vir die genesing van ‘n geliefde.
Maar die duur lewenspeil bly knaag. Almal sê op Vasteland Venesië kan jy dieselfde handelsware bekom teen ‘n veel laer prys. Die kanaalstad gee jou egter ‘n uitklophou met egtheid. Maak nie saak wat jou valuta is nie, die kanaalstad het ‘n tradisie van vakmanskap en geskiedenis wat tasbaar ver teruggryp.
Venesië is soos ‘n afgetakelde, eksentrieke, skatryk ou tante wat besig is om langsaam te sterf. As jy nog nie daar was nie, moet jy gaan, al is dit net om te groet.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie