Diere-aanvalle kom saam met reu00ebn en vloede
Diere-aanvalle kom saam met reu00ebn en vloede

Diere-aanvalle kom saam met reën en vloede

Ná die goeie reëns in dele van die land het riviervlakke gestyg en gevaarlike diere toon meer beweging, wat risiko's vir menselewens inhou.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg



Die ministerie van die omge­wing en toerisme betreur die onlangse voorvalle van mens-dier-konflik waartydens mense deur krokodille en seekoeie aangeval is.

“Hierdie ongelukkige voorvalle is kommerwekkend vir die ministerie, veral die krokodilaanvalle op mense wat in riviere swem of hul klere was,” het mnr. Colgar Sikopo, die ministerie se direkteur van wildlewe en parke, in 'n mediaverklaring gesê.

“Dit is 'n feit dat mense en wilde diere dieselfde spasie deel, maar hierdie krokodil- en seekoei-aanvalle op mense kan voorkom word.”

Sikopo het gesê ná die huidige goeie reëns in sekere dele van die land het riviervlakke gestyg en vloede word reeds in sommige gebiede ervaar.

“Die krokodille, seekoeie, slange en ander wild in die vleilande beweeg saam met die water. Ek waarsku alle gemeenskappe wat langs riviere en naby vloedvlaktes in die noordelike, noordwestelike en noordoostelike streke bly, asook die publiek, om nie risiko's te neem en verdere lewensverliese te veroorsaak nie,” het hy gesê.

“Ek doen ook 'n beroep op ouers, die gemeenskap en tradisionele leiers langs die riviere en vloedvlaktes in hierdie streke om kinders te waarsku om nie in die gevaarlike riviere te swem of te bad nie. Hulle stel hul lewens in gevaar en kan deur krokodille en seekoeie gevang word.”

Sikopo maan gemeenskappe moet water by die riviere gaan haal en dan dadelik na die oewers of hul nedersettings terugkeer waar hulle kan bad en klere was.

“Diegene wat visvang, moet ook baie versigtig wees.”

Volgens Sikopo het personeellede van die ministerie opdrag gegee om inligting en hulp aan gemeen­skappe langs riviere en vloedvlaktes te verskaf om hulself teen krokodille en seekoeie te beskerm.

Voorts sê hy die ministerie is tans besig om die vestiging van krokodilplase as konsessies vir gemeenskappe te ondersoek sodat hulle 'n inkomste uit die verkoop van krokodilvelle en -vleis kan genereer.

Onlangse slagoffers van mens-dier-konflik sluit me. Maria Magdalena Mungomba (28) en haar vier maande oue baba, Kanyemba Panyeambeko, in.

Hulle is op 26 Maart deur 'n krokodil in die Kavangorivier naby die Shighuru-nedersetting in die Kavango-Oosstreek aangeval. Tydens die aanval was Mungomba besig om wasgoed op die oewer van die rivier met haar baba op haar rug te was.

Nóg 'n slagoffer is mnr. Mahoto Mwilima (45), wat op 25 Maart deur 'n seekoei aangeval is en gesterf het terwyl hy in die Linyantirivier in die omgewing van Maunga in die Zambezistreek visgevang het.

Sikopo het namens die ministerie sy meegevoel met die slagoffers se naasbestaandes betuig.



MENS-DIER-KONFLIK

Voorts sal die families van mense wat as gevolg van wilde diere gesterf het volgens die ministerie se hersiene mens-dier-konflik-beleid vergoeding van N$100 000 ontvang, berig Nampa.

Die adjunkminister, me. Bernadette Jagger, het Donderdag in die Nasionale Vergadering gesê dié vergoeding bepaal nie noodwendig die waarde van 'n mens se lewe nie.

"Die waarde van 'n mens se lewe kan nie in geldwaarde gemeet word nie, maar dit kan die families van slagoffers help met die begrafniskoste en om hulself weer op die been te kry,” het Jagger gesê.

Volgens statistieke wat sy verskaf het, is nege mense se lewens in 2016 deur wilde diere geeëis, ses in 2017 en vanjaar het vier mense reeds weens mens-dier-konflik gesterf.

Altesaam 930 beeste en skape is in 2016 deur wilde diere doodgemaak en 1 421 verlede jaar.

Vanjaar het reeds 187 beeste en skape as gevolg van wilde diere gevrek.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!