Diere-engele red blinde hond

’n Hommeltuig, baie genade en die groot harte van Swakopmundse diereliefhebbers het ’n hondjie in die woestyn help opspoor.
Yochanaan Coetzee
Yochanaan Coetzee - ’n Warrelwind op sosiale media en die hulp van ’n paar diere-engele het ’n 15-jarige, blinde Yorkshire-terriër wat aan suikersiekte ly, in die arms van haar eienaar terugbesorg.

Me. Maureen van Rensburg (63), ’n inwoner van Windhoek en passievolle diereliefhebber, het haar geliefde hondjie, Sunet, saamgevat vir die Kersvakansie op haar pa se kleinhoewe aan die Swakoprivier naby Nonidas.

Op Nuwejaarsdag het sy laatmiddag besef dat “Soene” nie tussen haar ander diere is nie.

“Gewoonlik is sy hier by my voete rond, maar ons het oral gesoek en kon haar nie kry nie,” het ’n baie verligte Van Rensburg Dinsdag gesê.

“Sy vind gewoonlik haar pad met haar reuksintuig, maar ons vermoed dat die sterk winde wat op die dag gewaai het, haar weg van die huis af gelei het,” sê sy.

Sosiale media

Van Rensburg het die voorval op sosiale media aangemeld en die publiek gevra om te laat weet as iemand haar sien.

Haar dogter se vriendin me. Marié Nel was so geraak deur Van Rensburg se hartseer toe sy die aand met haar oor die telefoon gesels het dat sy nie kon slaap nie. Sy het toe die versoek oral op sosiale media versprei in die hoop dat mense die hondjie vind.

’n Lid van die WhatsApp-groep I SPY SPCA, me. Waltraut von Schmettau, het ook uit Swakopmund mense gemobiliseer om te help soek.

“Ek kon nie net niks doen nie,” het sy gesê. “Ek het net gedink 'wat as dit my hond was?' Ek sou wil hê mense moet haar gaan help soek, veral omdat sy oud en siek is.”

Von Schmettau het ook met die voorstel gekom om ’n hommeltuig te gebruik vir die soektog, en het onmiddellik vir mnr. Bernt Bruns, ’n plaaslike diereliefhebber en hommeltuigeienaar, genader.

“Ons het hom gevra om ons te help en hy was gewillig, maar het ons gewaarsku dat dit nie maklik sou wees om so ’n klein hondjie in daardie landskap te sien nie,” het Von Schmettau gesê.

Bruns het sy hommeltuig van ’n koppie naby die huis laat opstyg en die omgewing gefynkam.

Net betyds

“Ons was baie bekommerd. Die aand tevore was dit vreeslik koud en die volgende dag ontsettend warm. Dit en die landskap wat so geweldig klipperig is, het gemaak dat ons in daai oomblikke ook realisties moes wees,” het Van Rensburg gesê.

Ná ’n ruk het Bruns ’n enkele, sagte geblaf gehoor en met sy voertuig in die rigting daarvan gery.

Toe hy niks kon vind nie, het hy stilgehou en sy eie honde uitgelaat om bene te rek.

Weer het hy ’n geblaf gehoor. Ná die volgende koppie het hy Sunet gesien. Doodmoeg en vuurwarm, het sy val-val teen die kookwarm klippe meer as ’n kilometer van die plot af geloop.

“Toe ons haar terugkry, was sy bloedig warm en so moeg, sy kon nie eens haar tong in haar mond intrek nie,” het Van Rensburg gesê.

Hulle het haar na ’n veearts op Swakopmund geneem waar sy opgeneem, vloeistowwe ingegee en haar suikervlak gestabiliseer is.

“Ons is ongelooflik bly en so dankbaar vir al die mense wat ons aanlyn en in die soektog ondersteun het, veral Bruns wat haar net betyds gered het. Volgens die veearts sou sy nie veel langer kon uitgehou het nie," het Van Rensburg vertel.

“Woorde sal nooit my dankbaarheid kan uitdruk nie, en elke een wat ons ondersteun het, veral mnr. Bruns, is ware diere-engele.”

Kommentaar

Republikein 2025-04-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer