Dieremishandelaars is wreedaards
Dieremishandelaars is wreedaards

Dieremishandelaars is wreedaards

Francoise Steynberg
'n Inwoner van Elisenheim noem my 'n aasvoël.

"Rerig die koerante is soos aasvoels. Ons is alweer in die koerante oor negatiewe goed (sic)," skryf sy op 'n WhatsApp-groep.

Dis nou ná ek 'n artikel geskryf het oor meer as 11 troeteldiere wat op die landgoed vergiftig is. Sy is bekommerd oor die negatiewe publisiteit. Ek lê steeds nagte wakker en wonder waar my twee katte is wat spoorloos verdwyn het. Ek het ook al op 'n dooie dassie in 'n spruit afgekom.

Liewe mevrou, ek is baie meer bekommerd – nee bevrees – oor diegene in ons midde wat al 11 diere vergiftig het. Ek wonder wat gaan gebeur as 'n kind die gif inkry. Party lag die verdagtes af as kwajongens of belhamels, maar hulle is inderdaad wreedaards. Hulle is jou potensiële vroueslaners, kindermishandelaars en reeksmoordenaars.

As na die geskiedenis van reeksmoordenaars gekyk word, was hul heel eerste misdaad dieremishandeling. Die skakel tussen wreedheid teenoor diere op 'n vroeë ouderdom en aggressiewe misdaad word al vir dekades gedokumenteer.

Lees gerus die artikel, "The link established between serial killers and animal cruelty" in Independent wat op 30 Julie verskyn het.

"Die reeksmoordenaar Jeffrey Dahmer ofte wel die Milwaukee-kanibaal wat 17 mense vermink het, het sy slagtery kleintyd begin toe hy honde en katte opgesny en hul koppe op stokke geplant het," lui die berig.

"Ian Brady wat in die 1960's vyf kinders gemartel en vermoor het, spog graag dat hy sy eerste kat doodgemaak het toe hy tien jaar oud was, asook 'n ander kat lewend verbrand het, honde gestenig en hase se koppe afgesny het voor hy mense begin teiken het."

Robert Thompson en Jon Venables het weer graag hase op spoorlyne vasgemaak om te kyk hoe treine hulle doodry – totdat hulle die kleuter James Bulger in 1993 vermoor het.

'n Australiese studie van 2002 het bevind dieremishandeling is 'n beter voorspelling van seksuele aanranding as vorige veroordelings van moord, brandstigting of vuurwapenoortredings.

"Dit is hoogs waarskynlik dat dieremishandelaars ook mense sal mishandel. Dus, die waarskynlikheid is hoog dat geweld ook teenoor 'n lewensmaat, kinders en in die samelewing teenoor mense en eiendom uitgevoer sal word," sê 'n navorser.

Gaan kyk gerus die dokumentêr "Don't f**k with Cats" op Netflix oor die Kanadese moordenaar, Luka Magnotta. Magnotta het sy wrede dade begin met twee katjies wat hy in 'n vakuumsak versmoor en die video op die internet geplaas het. Daarna het hy nóg video's van dieremishandeling aanlyn geplaas en gesê mense is sy volgende teiken. Diereliefhebbers het weens sy wrede video's die polisie oor Magnotta gewaarsku, maar Jun Lin se torso is in 2012 in 'n tas langs 'n asblik in Montreal ontdek. Tussen die rommel was ook 'n dooie hondjie in 'n swartsak.

Noem my maar gerus 'n aasvoël. Aasvoëls vervul 'n belangrike taak in die natuur. Dis ook ons aasvoëls wat korrupsie ontbloot en help om renosterstropers agter tralies sit.

Hierdie aasvoël is die stem van dié wat net kan miaau, blaf, blêr of brul.

Kommentaar

Republikein 2025-04-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer